Bloedskenk: Red ʼn lewe én pluk gesondheidsvrugte

(Foto: @dthompsonza/Twitter)

Ons almal weet hoe broodnodig bloed is en dat een uit elke sewe mense wat in die hospitaal beland ʼn bloedoortapping benodig. Met die langnaweek én die skoolvakansie voor die deur, en die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) wat opnuut waarsku dat die land se bloedreserwes gevaarlik laag is (daar is minder as drie dae se voorraad beskikbaar), is dit die ideale tyd om die moue op te rol en tot drie lewens met jou skenking te red.

Bloedskenkingsmaand word in Junie in Suid-Afrika gevier, terwyl Wêreldbloedskenkdag wêreldwyd op 14 Junie gedenk word. Dié dag het ten doel om ʼn bewustheid van die behoefte aan bloed te verhoog, om skenkers te bedank en te eer, en om gereelde bloedskenking deur geskikte skenkers aan te moedig. Slegs 1% van Suid-Afrikaners is gereelde skenkers, terwyl ʼn mens elke 56 dae mag skenk en die land minstens 3 000 eenhede bloed per dag benodig.

Hoewel die voordele van bloedskenk vir die ontvangers van bloedprodukte goed bekend is, besef ons dikwels nie watter ongelooflike gesondheidsvoordele daar vir die skenker is nie.

Vyf voordele vir jóú gesondheid

Verminder oormaat yster

Duisende Suid-Afrikaners word geraak deur ʼn toestand genaamd hemochromatose, wat beteken dat daar ʼn ysteroorlading in die bloedstroom is. Tot een uit elke ses Suid-Afrikaners het hemochromatose geneties geërf, terwyl talle ander dit deur omgewingsfaktore opdoen. Baie mense is onbewus van die oormaat yster in hul bloed omdat simptome eers in die laat middeljare verskyn en baie soortgelyk aan ander siektesimptome is. Deur gereeld bloed te skenk, raak die liggaam van oortollige yster ontslae. Die verwydering van rooibloedselle word dikwels as voorkeurbehandeling vir pasiënte met oortollige yster aanbeveel.

Verbeter hartgesondheid

Deur bloed te skenk en die ystervlakke te verlaag, verminder jou risiko vir bloedklonte, hartsiektes en beroerte, en verlaag jou bloeddruk. ʼn Studie in die Journal of the American Medical Association het bevind dat skenkers tussen die ouderdom van 43 en 61 jaar minder hartaanvalle en beroertes gehad het deur elke ses maande bloed te skenk. ʼn Ander studie wat in die American Journal of Epidemiology gepubliseer is, het weer bevind dat diegene wat ten minste een keer per jaar bloed geskenk het, ʼn 88% laer risiko van hartaanvalle as nie-skenkers gehad het. Navorsing toon dat veral mans hierby baat vind omdat vroue se menstruasiesiklus help om hul bloed te suiwer.

Verminder kankerrisiko

Yster dra by tot skade wat deur vrye radikale (skadelike organismes in die liggaam) veroorsaak word en verhoog die risiko vir kanker en veroudering. Navorsing toon dat gereelde bloedskenk verbind kan word met ʼn laer risiko vir kankers soos lewer-, long-, kolon- en keelkanker danksy die vermindering in oksidatiewe stres wanneer yster uit die bloedstroom vrygestel word. Sommige mense het weer dié ysterryke bloed nodig en dit word spesiaal vir hulle opsy gesit.

Gratis ondersoek

Voordat ʼn mens bloed skenk, word onder meer jou bloeddruk nagegaan. Dikwels word onderliggende siektetoestande soos hoë bloeddruk of onreëlmatige hartklop tydens dié gratis mediese ondersoek opgespoor. Boonop word elke skenker se bloed getoets om te bepaal of dit vir oortapping geskik is. Daar word onder meer vir sifilis, MIV, hepatitis en ander siektes getoets. Die gesondheidsondersoek sal ook wys of jy aan ʼn seldsame bloedgroep behoort. Hierdie inligting is nuttig as jy ooit chirurgie moet ondergaan of ʼn ander mediese situasie ondervind waarin ʼn oortapping nodig mag wees. Boonop sal jy die bevrediging hê om te weet dat jou bloed skaars is.

Goed vir jou gees

Die wete dat jy ʼn daadwerklike verskil in iemand se lewe kan maak deur bloed te skenk wat letterlik iemand se lewe kan red, is net so goed vir jou geestesgesondheid as vir jou liggaamlike welstand. Ons wíl dikwels help, maar het dalk nie die geld of tyd om uit te reik nie. Deur net 10 minute elke twee maande af te staan om bloed te skenk, maak jy ʼn lewegewende bydrae en kry op die koop toe ʼn stewige inspuiting goedvoelhormone wat die risiko vir depressie verlaag. Boonop het navorsers aan die Universiteit van Kalifornië bevind dat ʼn mens sowat 650 kalorieë met elke bloedskenksessie verbrand!

Rol op Jeugdag, of êrens in die drie weke lange skoolvakansie, jóú moue op. Jy sal nie net ʼn lewe red nie, maar ook jou eie gesondheid ʼn hupstoot gee!

  • Klik hier om ʼn bloedskenkdag by jou werk te reël of klik hier om ʼn skenkingsentrum in jou omgewing op te spoor. Jy kan ook die SANBS by 0800 119 031 skakel om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wicus ·

Was gereelde skenker, meer as 150 eenhede, tot die dag wat Afrikaanse vorms uitgefasseer is. Herhaalde skrywes na SANBS het op dowe ore geval. Indirek het hulle vir my ges-e ek is nie meer welkom om te skenk nie!

annie ·

Skenk in smerige omgewings in die buitelug? Beamptes hanteer ou watte en ‘n vuil afbindrek op stowwerige tafel herhaaldelik met hande wat aan alles raak, skenker na skenker. Hul is hoegenaam nie besorg oor die goeie skenker se gesondheid nie. Met so baie kieme en virusse in die omgewing behoort baie meer sorg geopenbaar te word. Dis nie ‘n roomys-stalletjie nie. Melkerye is versigtiger as die bloeddiens wat baie meer geld maak per liter.

Harley Davidson ·

Ek het ophou skenk toe my bloed goed was en my taal verwyder moes word van hulle vorms so kry die Engelse mense dan om bloed te skenk en alle voorspoed met dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.