Chery Tiggo 7 Pro: Billike prys met hope waarde

Chery se Tiggo 7 Pro het in Mei in Suid-Afrika aangeland en in Junie en Julie is daar reeds 617 van die hand gesit.

Motorpryse het die afgelope paar jaar die hoogte ingeskiet en dit maak sin dat Chery soveel aftrek kry, aangesien sy Tiggo-reeks regtig mooi gerieflike gesinsmotors teen billike pryse bied.

Chery het eers die Tiggo 4 Pro na Suid-Afrika gebring, gevolg deur die Tiggo 8 Pro. Die 7 Pro sit tussen dié twee en is beskikbaar in twee modelle – Distinctive en Executive.

Chery spog nou met ʼn volledige reeks sportnutse en dus kan jy kies tussen die kompakte en sportiewe model (Tiggo 4 Pro), die groter en luukser vyfsitplek-sportnuts (Tiggo 7 Pro) of die reeksleidende sewesitplek- Tiggo 8 Pro. Die Tiggo 4 Pro is tans die topverkoper in die reeks en daar is in Junie en Julie al meer as 1 200 verkoop.

Chery se Tiggo’s het plaaslik beïndruk en daar is hoop dat die Chinese vervaardigers moontlik hul juk van onbetroubaarheid en swak gehalte afgeskud het. Dit is egter nog bietjie vroeg om te sê en mens sal nog ʼn paar jaar moet wag om te kyk hoe betroubaar hulle regtig is en ook wat die herverkoopwaardes gaan doen.

Die 7 Pro lyk baie soos die 8 Pro, net effens kleiner en bietjie minder luuks. Hy is toegerus met Chery se 1,5 ℓ- turboaangejaagde viersilinderpetrolenjin en lewer 108 kW en 210 Nm. Die krag aan die voorwiele word deur ʼn ultragladde CVT-transmissie gelewer. Hy ry regtig lekker – in die stad en op die oop pad. Die 7 Pro kom egter effens swaar op brandstof voor en ʼn mens kom nie by Chery se beweerde verbruiksyfer van 6,8 ℓ uit nie. Dit was ook die geval met die 8 Pro. Ons het nader aan 9 ℓ/100 km gehandhaaf tydens ons toets met die 7 Pro.

Daar is genoeg plek vir ʼn gesin van vier en in die binneruim is daar alles wat jy van ʼn middelslag-sportnuts kan verwag en meer.

Die swart sintetiese leer met kontrasterende stikwerk op die sitplekke is lekker sag en lyk duursaam. Die bestuurdersitplek is elektries verstelbaar en in die Executive-model geld dit ook vir die passasiersitplek. Die leerbedekte stuurwiel het knoppies vir al die stelsels en is ook verstelbaar.

Die sleutellose toegang op die topmodel werk regtig lekker en dit is ʼn funksie wat mens vinnig mis wanneer jy eers weer ʼn knoppie moet druk. Jy kan die sleutel net heeltyd in jou sak hou en wanneer jy uitklim en wegstap, sluit die kar self en wanneer jy weer by hom kom, kan jy net die deur oopmaak, inklim, die aansitknop druk en laat wiel.

Daar is drie skerms – die groot raakskerm in die middel, die inligtingspaneel bo die stuurwiel en ʼn raakskerm onder in die middel vir die lugversorging. Net bo laasgenoemde skerm is daar ʼn ry skakelaars wat moeiteloos met die res van die instrumentepaneel integreer en mens die opsie bied om dit te gebruik in plaas van die raakskerms.

Soos met die ander Pro-modelle, kom die Tiggo 7 Pro standaard met Chery se puik stembevelstelsel wat jou in staat stel om verskeie funksies te verrig soos klimaatbeheer, die vensters oop en toe te maak en selfs om die panoramiese sondak te beheer (in die Executive-model).

Die Isofix-monteerpunte vir karstoeltjies werk baie lekker en daar is heelwat beenruimte agter vir passasiers. Die kattebakdeur maak elektronies oop en toe en daar is genoeg plek vir twee stootwaentjies en die kinders se ander bagasie.

Die magdom veiligheidsfunksies sluit onder meer elektroniese remkragverspreiding, noodrembystand, blindekolwaarskuwing en heuwelafdraandebeheer in. In die

Executive-model is daar ook onder meer baanwisselwaarskuwing. Die Distinctive-model het vier lugsakke as standaard, en in die Executive-model is daar twee bykomende gordynlugsakke vir altesaam ses.

Chery se Tiggo-reeks word gedek deur ʼn allemintige tienjaar/1 000 000 km-enjinwaarborg vir die eerste eienaar, vyfjaar/150 000 km-voertuigwaarborg en vyfjaar/60 000 km-diensplan.

Die reeks lyk só:

Chery Tiggo 7 Pro DistinctiveR419 900
Chery Tiggo 7 Pro ExecutiveR454 900

Die kompetisie lyk só:

Haval Jolion 1.5T Super Luxury105 kW/210 Nm7,5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/60 000 km- diensplan

R437 900
Subaru Forester 2.0i115 kW/196 Nm7,6 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

5 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R496 000
Nissan X-Trail 2.0 Visia106 kW/200 Nm8,3 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/90 000 km- diensplan

R502 900
Renault Koleos 2.5 Dynamique126 kW/233 Nm8,1 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R554 900
Toyota Rav4 2.0 GX-R AWD127 kW/203 Nm6,7 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

6 dienste-diensplan

R624 800
Citroën C5 Aircross 1.6T Shine121 kW/240 Nm7,9 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en diensplanR629 900

Ons motorjoernalis, Brendon Staniforth, stem egter nie heeltemal met my saam nie. Hy sê mens moet versigtig wees vir al die luukshede en goeie prys. Hy dink ʼn beter afgeronde pakket, met beter brandstofverbruik, sal op lang termyn goedkoper wees as die Chery. Wat is die ou gesegde? Goedkoop koop is duur koop. In dié prysklas kies hy die Subaru Forester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charl ·

Ek dink die model nommer in die ” so lyk die reeks” tabel is verkeerd. Dit moet Cherry 7 lees , nie 8 nie. Die 8 se prysklas is so raps onder die R500 000 tot R550 000.

Nico Strydom ·

Dagsê Charl
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

SjN ·

Met die waarborg klink dit na n opsie, kompetisie is n goeie ding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.