Knoffelpryse te hoog? Plant jou eie

(Foto: Anshu A/Unsplash)

Die plaaslike prys van knoffel het die afgelope paar maande byna verdubbel.

Maroela Media het vroeër berig die prys het so drasties gestyg dat die Nasionale Verbruikerskommissie dit oorweeg om van die land se grootste koskleinhandelaars te ondersoek rakende bewering dat hulle buitensporige pryse vir knoffel en gemmer vra.

Mense het te midde van die Covid-19-pandemie na winkels gestroom om natuurlike immuunversterkers soos knoffel en gemmer te koop om hulself teen die virus te help beskerm. Dié gewilde geurmiddel se duurder prys kan ook deels toegeskryf word aan vertragings met die vervoer van produkte weens internasionale inperkings tussen en in lande.

Sowat 57% van die 4 500 ton knoffel wat jaarliks in Suid-Afrika verbruik word, word ingevoer. Knoffel word gewoonlik goedkoop van China en Spanje ingevoer wat sterk mededinging vir plaaslike boere verskaf.

Kweek jou eie knoffel so:

Gelukkig is dit relatief maklik om self knoffel te kweek, en dit kan in die meeste dele van die land geproduseer word. Die goeie nuus vir tuiniers oral is dat baie insekte en plae die sterk reuk van die plant glad nie aantreklik vind nie en dit maak dié bolplant ʼn wonderlike natuurlike plaag afweerder.

Die bol lok ook talle voordelige insekte, soos liewenheersbesies. Boonop is knoffel ook ʼn goeie pasmaat wat saam met gewasse soos kool, vrugtebome, kamille, soetrissies, rose, spinasie, tamaties en aarbeie aangeplant kan word.

Plant

Kweek knoffel op ’n warm sonnige plek, in vrugbare, goed gedreineerde grond wat nie in die winter te nat word nie. ʼn Opgeboude bedding sal baie goed hiervoor werk.

Om knoffel te plant is relatief eenvoudig. Elke knoffelbol bestaan uit afdelings genaamd naeltjies, wat deur ’n dun, papieragtige bedekking bymekaar gehou word.

Jy kan sommer vir jou knoffelbolle by die winkel koop en die bolle se naeltjies uitmekaar breek. Skei die naeltjies en plaas hulle ongeveer 15 cm uitmekaar in die grond in netjiese rye. Die naeltjies moet geplant word met die punt na bo en die stomp einde na onder. Druk elke naeltjie 5 cm in die grond, druk die grond daarom vas en maak die grond nat as dit droog is.

(Foto: Ramón Salinero/Unsplash)

Tydlyn

Knoffel word gewoonlik in die middel van die herfs aangeplant, maar jy kan ook in die vroeë lente plant. Knoffelplante het eintlik maar min versorging nodig. Gee gereeld water en verwyder die onkruid tussen die plante om die kompetisie vir water en voedingstowwe te verminder. Knoffel kan gewoonlik na ongeveer 90 dae geoes word. Kenners stel voor jy wag om jou knoffel te oes totdat die meeste van die plant se onderste blare verbruin het, terwyl die boonste blare nog groen lyk.

Oes en berging

As die knoffelplant se blare bruin geword het, kan jy dit saggies uit die grond trek. Sit die knoffelplante twee tot drie weke uit om heeltemal droog te word in ’n skaduryke area met goeie lugsirkulasie. Wanneer die wortels bros en droog voel, vryf dit af, saam met enige los grond wat nog aan die plant klou. Moenie die bolle natmaak of uitmekaar breek nie, anders hou die plante nie so lank nie.

Sodra dit droog is, kan jy jou knoffelbolle los stoor of die blare vleg om ’n string bolle te maak wat jy kan ophang in jou kombuis. Moenie die bolle kneus nie, want enige skade kan veroorsaak dat dit nie lank gestoor kan word nie.

As jy die proses voltooi het, kan jy een van jou eie knoffelbolle se naeltjies plant om die proses weer van vooraf te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mauritz ·

Die huidige hoë prys van knoffel is vir my net nog addisionele aansporing om nooit hierdie walglike onkruid te eet nie.

Karina ·

Jy sny die knoffel oop, trek die middelste “aartjie” uit wat die “stink” veroorsaak, en gebruik in jou kos. Dit is heerlik as jy nie te veel gebruik nie. “Garlic Butter Snails” was altyd my gunsteling toe ek nog gaan uiteet het. Njammie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.