Miljoene kan vroeg sterf as lugbesoedeling voortduur

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kristen Morith/Unsplash)

Miljoene mense kan moontlik binne die volgende paar dekades voortydig doodgaan indien die lugbesoedelingsvlakke wêreldwyd nie dringend aangepak word nie. Dit beteken dat tussen ses en nege miljoen menselewens teen 2060 met maande en selfs jare verkort kan word, weens die voortslepende lugbesoedelingskrisis.

“Skoon lug beloon eindelik mense oor die hele wêreld met bykomende lewensjare,” lui die jongste Air Quality Life Index- (AQLI-)verslag wat vandeesweek bekend gestel is.

Luidens die AQLI se navorsing kan die langdurige blootstelling aan hierdie partikels verskeie gesondheidstoestande soos hart- en longkwale, kanker, longontsteking en tipe 2-diabetes vererger.

“Indien die globale vlak van lugbesoedeling permanent verminder word om aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne te voldoen, kan meer as twee jaar by die gemiddelde persoon se lewensverwagting gevoeg word.”

Besoedelde lug bestaan uit fyn deeltjies genaamd PM2,5-partikels. Die partikels is kleiner as die deursnee van ʼn menslike haar en dring diep in mense se longe en gaan die bloedstroom binne.

In 2013 het die Verenigde Nasies (VN) hierdie partikels as ʼn middel beskryf wat kanker kan veroorsaak.

“ʼn Globale oorsig in 2019 deur die Forum of International Respiratory Societies Environmental Committee het bevind dat die fyn deeltjies die bloedstroom kan bereik en deur die hele liggaam gedra kan word. Dit kan ontsteking veroorsaak, wat elke orgaan en feitlik elke sel in die liggaam beskadig,” lui die AQLI-verslag.

“Kinders, bejaardes en dié met bestaande gesondheidstoestande word die ergste deur besoedelde lug geraak.”

Die kognitiewe uitwerking wat besoedeling veroorsaak, is ook onlangs ondersoek. ʼn Sistemiese oorsig van bewyse het bevind dat voortdurende blootstelling aan hoë vlakke van lugbesoedeling verbind word met ʼn verhoogde risiko vir demensie. Dit kan boonop geestesgesondheidsprobleme vererger.

Volgens die WGO se amptelike riglyne vir skoon lug, moet die PM2,5-partikels in die lug nie meer as 15 mikrogram per kubieke meter in enige 24-uur-periode of ʼn gemiddeld van 5 mikrogram per kubieke meter oor ʼn hele jaar wees nie.

Met toenemende bewyse dat hierdie partikels die gesondheid van mense erg beïnvloed, het die WGO verlede jaar hierdie standaarde verskerp.

“Die meeste mense oor die wêreld heen woon op plekke wat die WGO se riglyne vir behoorlike luggehalte oorskry. As sodanig is die gesondheid van miljarde mense in gevaar.”

Die Suid-Afrikaanse regering is reeds vroeër vanjaar hof toe gesleep oor die lugbesoedeling in Mpumalanga. ʼn Omgewingsorganisasie het dié provinsie as een van die wêreld se mees besoedelde gebiede bestempel met tussen 305 en 650 voortydige sterftes wat in dié streek voorkom.

Die hof het toe beslis dat die regering ʼn jaar het om ʼn lugbestuurplan vir die streek in te stel, maar steeds het die regering teen hierdie uitspraak geappelleer.

Kinderontwikkeling gestuit

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kristine Wook/Unsplash)

Hoewel elke kind die reg het om skoon lug in te asem, het die AQLI bevind dat hierdie reg altesaam 93% van kinders onder 15 jaar ontneem word.

Luidens die verslag is skoon, besoedelvrye lug lewensbelangrik binne die eerste 1 000 dae van ʼn kind se lewe, aangesien dit die tyd is wanneer die fondamente van groei en kognitiewe ontwikkeling gevestig word.

Tot 17 miljoen babas word egter jaarliks in gebiede gebore waar die lugbesoedelingsvlakke internasionale perke oorskry.

“In 2018 is die eerste bewyse ingewin wat wys dat die PM2,5-partikels die plasenta bereik.”

ʼn Studie deur die Verenigde Nasies se Internasionale Kindernoodfonds (Unicef) het boonop ʼn verband getrek tussen swak luggehalte en vertragings in kinders se ontwikkeling, sielkundige en gedragsprobleme, asook hoë vlakke van angs en depressie.

Skoolkinders word veral aan die uitwerking van lugbesoedeling uitgelewer, met die studie wat bevind het dat 83% van kinders van byna 270 skole in Bengaluru, Indië, aan PM2,5-partikels blootgestel word wat die WGO se perke oorskry.

“Die hoë vlakke van besoedeling het duidelik ʼn nadelige uitwerking op kinders se gesondheid en ontwikkeling.”

ʼn Studie in Amerika het ook ʼn verband tussen ʼn styging in skoolafwesighede aangetoon nadat die lugbesoedeling ʼn paar dae lank veral erg was.

Hoewel daar nog min bewyse is oor die verband tussen die afwesigheidsyfer en lugbesoedeling, het navorsing in China ook gewys dat die besoedeling ʼn nadelige uitwerking op skoolbywoning gehad het.

In lande waar die lugbesoedeling veral erg is, het sommige skole sommer heeltemal gesluit.

Meer as 400 skole is vir ʼn paar dae tussen 2019 en 2020 in Bangkok, Thailand, gesluit weens erge rookmis wat deur verkeersuitlaatgasse, bouwerk, vervaardiging en verbranding van gewasse veroorsaak is.

“Erge vlakke van lugbesoedeling verhoed kinders om buitemuurse aktiwiteite te doen en saam met hul vriende buite te speel. Dit veroorsaak dat kinders die fisieke, sosiale en emosionele voordele wat hierdie aktiwiteite meebring, ontsê word.”

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize ·

Vooruitgang en tegnologie beteken nie gesonder lewe nie. Meer sal sterf aan besoedeling as enige ander pes of virus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.