Nuuskommentaar: Bly of gly? Identiteitspolitiek onder die vergrootglas

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

Die woord, identiteitspolitiek, word algaande meer en meer in geskrifte aangetref, ook internasionaal. Hoekom is identiteitspolitiek nou so onder die vergrootglas en wat presies behels dit?

“Identiteitspolitiek is wanneer mense van ’n spesifieke ras, godsdiens, geslag of etnisiteit polities saamdrom om dié eienskappe te bevorder sonder kommer of inagneming van enige ander groter groep.” Dit is die mening van ’n jong leser van Maroela en deelnemer aan die rubriek “Nou pra’ jy”, Hendré Cubitt. Jy kan die artikel hier lees.

’n Heel ander gees word geadem uit ’n artikel oor identiteitspolitiek deur Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond in dié organisasie se jongste nuusbrief. Hy skryf onder meer: “My verskillende identiteite waarin ek myself gemaklik uitdruk:

  • Ek is ’n Christen.
  • Ek is ’n Afrikaner.
  • Ek is Afrikaans.
  • Ek is ’n Suid-Afrikaner.
  • Ek is van Afrika.
  • Ek is ’n wêreldburger.
  • Ek is deel van ’n familie met ’n stamregister wat reeds meer as 300 jaar in Suid-Afrika hulself gevestig het.
  • Ek is wit en daarom ook deel van die Wes-Europese Kultuurgemeenskap.
  • Ek woon in die stad en is deel van ’n buurtgemeenskap.
  • Ek is gemaklik deel van verskeie gemeenskappe in die sosiale media.
  • Ek is ’n gesinsman.

Foto ter illustrasie: Pixabay

Oor dekades heen het ek geleer om myself te handhaaf en uit te druk in enige van my veelheid van identiteite. Ek het ook geleer om balans te handhaaf in my verskillende identiteite want dit vorm my. Geen van hierdie identiteite sluit ʼn ander een uit nie (my eie beklemtoning). Elkeen van hulle is individueel en ook gesamentlik mensverrykend, vorm my en maak my wie ek is.  Ek is trots op elkeen van die identiteite. So kan daar ander identiteite bygevoeg word afhangend van elkeen se eie voor- en afkeure,” skryf Bosman.

Wat nou reeds duidelik is, is dat “identiteitspolitiek” nie los gesien kan word van ’n ander modewoord nie, naamlik diversiteit. Diversiteit het as meer politiek korrek die term “heterogeniteit” min of meer verdring, en ongelukkig dikwels daarmee saam van die ontledings en oplossings wat die begrip heterogeniteit omvat het. Ons lees byvoorbeeld nie sommer meer van dinge soos middelpuntvliedende en middelpuntsoekende kragte nie.

Dit is ’n min of meer volledige internasionale probleem. In die VSA is die reses van die Amerikaanse hoogste hof, die Supreme Court (USSC), iets van die verlede. Vyf sake wat groter helderheid bied oor kwessies wat met diversiteit verband hou, waarvan veral drie teksboekgevalle van diversiteit, word nou finaal bereg. Die USSC vervul die rolle van beide die appèlhof en die konstitusionele hof in Suid-Afrika.

Pres. Donald Trump op 6 Maart 2019 by die Withuis in Washington. (Foto: Jacquelyn Martin/AP)

Een van die vernaamste redes waarom dié kwessie nou so nuus is in die VSA, is weens die posisie van pres. Donald Trump, veral noudat die Demokratiese Party pres. Donald Trump in ’n staat van beskuldiging probeer plaas.

Peilings bevestig die algemene opvatting dat die Amerikaners nou ’n verdeelde nasie is. Hoewel daar redelike eenstemmigheid is dat Trump ’n groot rol in die onderlinge dikbekkigheid vir mekaar speel, word darem ook aanvaar die situasie sou nie anders gewees het as Hillary Clinton die pyp gerook het nie.

Tweedens word die speelvelde genoem waaroor diversiteit nou bereg gaan word: die gay-kwessie, transgenderkwessies, immigrasie, aborsie, vuurwapens en godsdiens.

Hoewel elkeen van hierdie sake na diversiteit gevoer kan word, fokus ander Amerikaanse media meer spesifiek op drie sake wat duideliker diversiteit as grondslag moet verreken, soos LGBT (CNN) of LGBTQ (Vox).

Terwyl peilings in die VSA oor rasseverhoudinge meestal nie ’n mooi prentjie skets nie, lyk dinge heelwat beter as die groter diversiteitspektrum aangewend word, volgens ’n onlangse Rasmussenpeilng. Hiervolgens meen 52% van Amerikaners dat Amerika se rasse- en etniese diversiteit ʼn goeie ding is.

Dit lyk nie asof daar ’n algemene reël sal wees wat daarop dui dat diversiteit vanselfsprekend goed of sleg sal wees nie. Alles hang af van hoe die burgery daarmee omgaan. Om diversiteit as bate in te span, gaan moeiliker wees. Dit is ook so dat diversiteit en identiteitspolitiek in voorgestelde staatkundige modelle vir Suid-Afrika sal bly vasskop. ’n Kenmerk van hierdie voorgestelde modelle is dat dit die konflikpotensiaal in Suid-Afrika staatkundig moes probeer ondervang.

Oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk tydens vredesamesprekings op 6 Augustus 1990 Bron: AlJazeera

Dit blyk onder meer uit die titel van ’n ondersoek deur die destydse staatkundige komitee van die Presidentsraad. Die verslag, wat in 1990 verskyn het, heet: “Besluitnemings- en -tegnieke in staatkundige stelsels”. ’n Magdom modelle, wat wissel van konfederaal tot korporatief, is bespreek. Hierdie voorstelle is gewoonlik woordeliks vervat in die opdragte van die regering en die NNP (regerende party) aan die twee instansies se onderhandelaars by Kodesa. Dit is moeilik om te glo die onderhandelaars het iets anders met die regeringsopdragte gemaak as om dit reguit vir die snippermandjie te bestem. Van die konsepte bly egter in sekere partye en instansies se eie beleide voortleef, hoewel dit nie altyd so duidelik blyk of dit vakkundig suiwer verstaan word nie.

So duik die woord “konfederasie” op in die literatuur van die Verenigde Vryheids Alliansie [sic] (lees hier), wat ook gereeld entoesiasties deur enkele Maroela-lesers bemark word. Korporatiewe selfbeskikking word saam met geografiese selfbeskikking in die beleid van die Vryheidsfront Plus gevind, en tegnokratiese, geografiese en korporatiewe selfbeskikkingsbeginsels is in planne van Solidariteit te bemerk.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Human ·

Tantrum Trump, “going going gone” net `n kwessie van tyd.

Judge Dredd ·

….en Amerika se werkloosheid syfer is die laagste in 50 jaar – slegs 3.5%…….

Johan Grobler ·

Jy kyk heeltemal te veel CNN. Brei jou visie ‘n bietjie uit.

Human ·

En wat is jou visie of moet ek vra misie? Trump wat die wereld regeer. Moet nie as jy enkelvoudig dink ander oor dieselfde kam skeer.

My Keuse ·

Ek is heeltemal teen die idee dat iemand my voorskryf of dat ‘n sisteem , ‘waarde’ of konsep op my afgewding word. Ek wil nie in Afrika woon nie. Ek wil nie in ‘n gemengde, multikulturele of multi-rassige land woon nie. Ek wil tussen my eie woon. Dis my keuse. Daarom het ons geëmigreer na ‘n plek waar die oorgrote meerderheid van die populasie homogeen is en soos ek lyk. Hier is letterlik geen ‘ander’ te sien nie – nie op straat nie, nie in restaurante nie, nie in winkels of teaters nie. Nêrens nie. Slegs op die lughawe. Ons gesin het verkies om só te leef en ons is dolgelukkig.

KaterinaKat ·

Julle is so gelukkig en geseend dat julle kon wegkom. Ek self sou nie omgee om te bly in n land waar daar ander etnisiteite ook woon nie, solank die oorgrote meerderheid van almal kollektief, ordentlik en wetsgehoorsaam en hardwerkend was. Suid Afrika is nie so n land nie en ek twyfel baie sterk dat dit ooit sal of inderdaad Kan wees.

Henry ·

Stem allie pad saam met My Keuse en KaterinaKat.
My Keuse se motivering is identies met ons familie s’n. Enigste probleem is dat ek te na aan emmerskop tyd is en te min Sjekkils het om in ‘n staat aanvaar te word waar die siele min of meer soos ek lyk.
Groot Lotto wen is enigste moontlikheid.
:-)

Dolf ·

Geografiese selfbeskikking met die doel om af te stig is die enigste oplossing. So nie, gaan almal sink in die bankkrot moeras, met of sonder taal, kultuur en godsdiens.

aj ·

Ons heil is in ons eie hande!

Die beste hulp is ……..

… aan die einde van jou eie arms!

humor ·

Iemand gaan n onaangename verrassing kry. Ek verstaan nou nie mooi nie. Nou wat van bly of gly/.

Herman Toerien ·

Ja inderdaad. Die lengtebeperking was lankal oorskrei, en toe knip die gedagtes. Dit was bedoel om te reflekteer hoe die groep wat dikwels identiteitspolitiek ondersteun, ook neig om te wil “weg” en die wat identiteitspolitiek kities beskou wil bly. Dis bloot die indruk uit komemntare wat gepubliseer word. Die werklikheid kan presies andersom wees.

Gly ·

Ons het gegly want ons stel nie belang om in ‘n plek te woon wat soos daai foto heel bo lyk nie.

Kryger ·

Net lafharte hardloop weg. My familie is al meer as 300 jaar hier…ek gaan nêrens heen nie. Staan vir iets of jy val vir enige iets. Staan vir jou mense

Rambo ·

Dis nou seker die taai helde wat na die braai en brannas bereid is om 90+ miljoen aan te vat, nê….. en ons moet nie lag nie…..

marous ·

Gee die geld vandag om te gly , en more is daar baie plek vir die ander om te bly ….met meubels .

Lou ·

As Aus of NZ of Kanada dit vir ons blankes makliker maak om te emigreer dink ek daar is baie mense wat die keuse sal maak om te gly. Die grootste probleem wat mense weerhou daarvan om te gly is die koste van emigrasie en die waarde van die rand in terme van die buitelandse geld eenhede. Tweedens is seker die rompslomp en punte wat jy moet behaal om ‘n visa te bekom.
Ek bly maar, nie omdat ek wil nie maar omdat ek nie kan gly nie.

Klip ·

Ek bly – omdat ek gelukkig is hier. Ek het genoeg “punte” vir permanente burgerskap in Aus en NZ en kan dit bekostig, maar wil nie gaan nie. Ek is nie gelukkig met hoe dit in die land gaan nie, maar ek en my gesin is geseënd is gelukkig. Ek wil graag hier ‘n verskil maak en hier is baie geleenthede daarvoor. Ek hou ook van ons diverse kulture! Laat my toe om gelukkig te wees hier en die wat wil gaan het verseker goeie rede so gaan gerus. Hierdie hele emigrasie storie kry te veel aandag. Daar migreer duisende mense wêreldwyd (selfs vanuit eerste wêreld lande na Suid-Afrika!) so dink net soos gewoonlik, is Suid-Afrika agter en is dit nou skielik hoogmode hier.

Koos de Meyer. ·

As dit reën gly ek in my huis in. Ek is bejaard en daarom bly ek hier. Ander lande het ook maar probleme. Ons moet net sorg dat ons reg is vir die hiernamaals.

Jerry ·

Die Afrikaner is nie deel van die ANC regering se inklusiwiteit in diversiteit nie en word daarvan uitgesluit deurdat transformasie se regstellende aksie dit ten doel het om die onreg van apartheid, soos gepleeg deur die Afrikaner, teen die Afrikaner reg te stel. “your heritage is our slavery” Soos die ANC/eff dit dus sien, kan die onreg net reggestel word deur die Afrikaner hom van sy erfreg en bevoordeling te ontneem en dit oor te dra na die ANC/eff. Die waarheid is dus dat die Afrikaner, polities doelbewus uitgesluit word uit die breer/diverse gemeenskap en met twee keuses gekonfronteer word nl. bly en behou jou identiteit deur jouself tot eksklusiewe/uitgesluit/isolasie korporatiewe selfbeskikking te wend of gly na lande waar jy ingesluit is by ware demokrasie van inklusiewe diversiteit en waar dit van jouself afhang of jy jou volle identiteit of gedeeltes van jou identiteit wil behou of nie. Niemand kan se dat enige van die twee keuses reg of verkeerd is nie, want geen mens weet wat die dag van more inhou nie. Wat egter n feit is soos n koei, is dat daar toenemend pogings van stapel gestuur word met positiewe ingesteldheid van woorde, beloftes, veldtogte en bouprojekte om die Afrikaner te ontmoedig om te gly, terwyl daar geen van die genoemde geloods word om die Afrikaner te ontmoedig om te bly nie. Dit laat n mens tot die besef, dat die poging om mense te ontmoedig om te gly, n desperate laaste korporatiewe poging blyk te wees!

aj ·

Ons betaal ten duurste vir 4×4 toere (Safaris) deur Afrika lande … en geniet die primitiewe kampeerlewe.

Ons word gefassineer deur die eenvoudige lewensstyle en kultuurdinge van die Afrika mense in naburige lande.

Kom ons sien SA óók as egte Afrikaland met interessante kulture en natuurskoon en geniet dit.

Aanvaar SA is nie Eerstewêreld nie … en waardeer dit vir daardie rede!

Hier is nog só baie om te doen ….!

@aj ·

Dis uitstekend gestel en dis ook hoe ek dit reggekry het dat die land se probleme my nie om meer onderkry nie. Om te hunker na die verlede gaan niemand help nie. Ons bly in Afrika, ‘n derde wêreld land, en dit is nogal opwindend (al het ons baie probleme en slegte dinge). Ek ken persoonlik mense wat vanaf Kanada af teruggekeer het na Suid-Afrika oor verskeie redes, maar een hoofrede was dit is vervelig daar!

Attie. ·

Vir my lyk dit, of ons gaan vlug uit die land uit en of ons gaan bly, dis om te ewe. Ek kyk na probleme oor die hele wereld heen en besef jy kan nerens heen vlug nie oral lyk dinge sleg. Ek weet net dat ek hier bly en ek tel my seeninge elke dag want want die son skyn lekker en braaivleis smaak net lekkerder hier. Ek weet van mense wat verengels maar ek weet ook dat ‘n kennis van my goed lewe met Afrikaanse baardolie en ‘n Afrikaanse restourant waar jy beeshaas of ‘n allegaartjie kan eet. Ek weet van mense wat trots is om suiwer Afrikaans te praat en ek weet van Afrikaanse universiteite wat te graag boedel wou oorgee. Ek weet van die Ooste van Pretoria waar die meeste Afrikaanses per hektaar woon maar waar elke meenthuiskompleks ‘n Engelse naam het. Ek kyk na besighede se name dan dink ek ek is nou in Engeland. Een ding is vir my duidelik, die Afrikaner gaan stadig maar seker van die aarde verdwyn en dit gaan net sy eie skuld wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.