Nuuskommentaar: Zuma se dag in die hof – gaan die gety nou draai?

Oudpres. Jacob Zuma. (Argieffoto: ANA)

Terwyl oudpres. Jacob Zuma en Julius Malema se woorde oor hul dag in die hof op die oog af in hul gesig kan ontplof, wil die dreigende staat van beskuldiging teen pres. Donald Trump nie sneuwel, soos wat Trump dit reeds verklaar het nie. Vergelykings word selfs met Nixon se geval al amper 50 jaar gelede getref. Waarmee moet die staatskaping en ander skandale hier vergelyk word?

In die jongste Amerikaanse uitgawe van The Conversation is ’n artikel waarin vergelykings getref word tussen oudpres. Richard Nixon van Watergate-faam en pres. Donald Trump. In hierdie nuuskommentaar word egter nie soseer Trump met Nixon vergelyk nie, maar oudpres. Jacob Zuma wat pas gehoor het die hof het sy aansoek dat aanklagte teen hom teruggetrek moet word van die hand gewys.

Dit verwys ook sommer na Julius Malema, wat nou (uiteindelik) op sy dag in die hof afstuur – skynbaar die eerste van vele as AfriForum en ander drukgroepe hul druk op die NVG volhou.

Zuma het vantevore vol bravade gespog dat hy sy dag in die hof wil hê. Sedertdien het hy hom ’n astronomiese regskoste op die lyf geloop, deels weens sy pogings om nié sy dag in die hof te kry nie. Hy sal waarskynlik steeds die regskoste opjaag deur alle appèl- en ander juridiese geleenthede te benut om nié te moet gaan teregstaan nie.

President Donald Trump arriveer by die Withuis in Washington ná sy besoek aan Suid-Korea se president Moon Jae-in en Noord-Korea se leier Kim Jong-oen. (Foto: Andrew Harnik, AP)

Hoewel die oë gerig is op die vordering van die Demokrate se pogings om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas, is dit nog te vroeg om die wegkyk van ander belangrike nuusgebeure te regverdig. Die hofbevel wat Trump verplig om van sy ou belastingopgawes aan die ondersoekers beskikbaar te stel, het wel ooreenkomste met Zuma se jongste nuusterugslag. Altesaam 53% van die potensiële kiesers in die VSA meen Trump moet die opgawes aan die Demokrate in die Kongres oorhandig terwyl 38% meen hy moet die opgawes weerhou. Die opgawekwessie laat veel meer Demokrate opgewonde as wat die Republikeine hulle daaroor verknies.

Die navorsingspesialis Ken Hughes meen dat Nixon in die proses van verkeerde dinge aanvang, wat onder meer vaardighede betref, Trump se meerdere was, asook dat Trump eintlik nie ’n wafferse nabootser is nie, en dat dit Trump aan die pen kan laat ry.

Beteken dit Zuma moet eintlik eerder met Trump as met Nixon vergelyk word?

Dié vraag kan gelukkig nog ontduik word, want nóg Zuma nóg Trump is al skuldig bevind.

Elke regdenkende Suid-Afrikaner wil immers hê dat reg en geregtigheid in die Zuma-saak moet geskied. Dit is gebiedend noodsaaklik dat die waarheid moet uitkom sodat die hele staatskaping en die gevolge daarvan duidelik kan blyk. Daar is nog te veel onsekerhede oor hoe die Trump-sage sal afloop om dit as gewenste voorbeeld vir die afloop van die staatskapingsdebat te beskou.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: (Pool Photo via AP)

Suid-Afrikaners sal waarskynlik nog ’n hele ruk gefrustreer word soos Zuma sy appèlopsies probeer benut om tyd te wen om die kwade dag so ver moontlik die toekoms in te dryf. Ondanks ooglopend goeie werk deur die Zondo-kommissie word die staatskaping danksy Zuma se jakkalsdraaie weg van ’n strafsaak wesenlik in suspensie gehou. Danksy die VSA se optrede teen die Guptas en Salim Essa word minstens nou al op internasionale skaal iets gedoen om reg en geregtigheid toe te pas. Die Daily Insider staan vanoggend verskeie artikels af oor die implikasies van die Amerikaners se optrede teen die Guptas. Dit kan hier, hier, hier en hier gelees word.

Wat belangrik is om te onthou, is dat Suid-Afrika nie kan bekostig dat sake soos die wapenskandaal oneindig voortsleep en boonop nog lomp probeer onder die mat invee nie. Die hele staatskapingkwessie tesame met die misdaadsyfers, Eskom en ander se duikvlug, ideologiese selfmoordpogings van die ekonomie en dreigende rommelstatus is ’n prys wat ’n land met Suid-Afrika se werkloosheidskoers nie kan absorbeer nie.

In die VSA speel daar wel dinge af wat ander lande op hul blakers sou laat beland, soos die hele kwessie oor Trump se geskiktheid as president en die handelsoorlog met China wat die VSA volgens die jongste berigte aan die verloor is.

Soos die “spreekwoord” in goeie Afrikaans lui wanneer dinge op die rugbyveld skeefloop, maar die telling op iets anders dui: “Loeks êt de skôrbord.” Die skôrbord is uiteindelik al wat tel, al het die rêf ook hóé gekroek.

Ná Trump tot president verkies is, het Rasmussen se ekonomiese indeks begin styg, en in 2018 tot 145.9 gestyg. In Obama se laaste maand aan bewind was dit op ’n skamele 108.1. Ondanks al die kritiek op Trump is die VSA se indeks nou op 139.4 wat steeds onder die hoogste van alle tye tel. Hierteenoor was die hoogste wat Obama in die laaste ruk van sy twee termyne kon haal 121.5. ’n Gesonde(r) ekonomie of persepsies daarvan vermag baie om foute te verdwerg. SA het dit eenvoudig nie – nie as werklikheid nie, en ook nie as blote persepsie nie.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Werner ·

Die gety sal nooit draai nie daar is te veel geraamtes in die kasse van al die ander ANC leiers waarvan Zuma weet

Hartseer ·

Ek raak sommer siek op my masg dat Zuma en Trump met mekaar vergelyk word. Trump skenk sy hele salaris net so terug aan die ekonomie en is die eerste Amerikaanse president wat tydens sy eerste 100 dae as president reeds 80% van sy beloftes gestand gedoen het. Ja, die man het sy foute, wie van ons is volmaak? Maar wragtig, Zuma is oneties in elke sin van die woord. Die ANC bestaan uit twee faksies en die Zuma-faksie sal hom teen alle koste beskerm. Hy gaan skotvry wegkom.

Spiekeries ·

Herman, jou artikel stel my teleur of raak jou “uitmandjie” leeg? Jou vergelyking van Zuma met Trump/Nixon grens aan laster teen laasgenoemde. Hoekom vergelyk jy Zuma nie met met sy mede kaders in Afrika nie? Vergelyk asb appels met appels!

Herman Toerien ·

Ek stel voor dat die hele rubriek gelees word en na die bronne gekyk word.

leser ·

indien die regters, dis nou van heelbo, moeggewens – moeggewens, tot onder wat die saak moet aanhoor en besluite daaroor moet maak, nie woer-woer met hul neushare speel nie en ook nie na die gepeupel luister nie, was zuma en nkandla lankal iets van die verlede
moes moeggewens – moeggewens, nie lankal op die stoep gesit het en met die kleinkinders gespeel het nie ??????
die zondo kommisie is ook net daar vir die bluf, met al die bewyse teen spesifieke persone, moes daar al inhegtenis nemings gewees het, waars dit ?????
alles in ons regstelsel is : WAAR IS DIT, HOEKOM NIE DIT NIE, HOEKOM NIE DAT NIE, VRAE EN NOGMAALS VRAE ????????????????????? – geen antwoorde nie

humor ·

Spiekeries ja man, Ek stem saam. Los tog nou n slag vir Trump uit. Die man verrig wondere. Hoeveel maal is die liberale Demokrate se valse onderduimse, afstootlike handelinge nie al aan die lig gebring nie. Dit bevestig maar net dat dit gaan oor n gebrek aan integriteit.

Zoom Zoom ·

Van die hofsaak gaan dadels van kom. Vir Zuma en Malema. Hulle is untouchable.

Doris ·

Ek stem nogal saam Spiekeries hulle moet net omgee wat in ons land aangaan Suid Afrika vergeet van Truimp hy is nie hier betrokke nie.

JohanR ·

Die VSA het darem stappe teen die Guptas geneem. Wat het SA al gedoen, en gaan doen – 00000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000000!!

Andre ·

Ek kan nog geen ooreenkoms tussen Trump en Zuma sien waarvolgens daar n vergelyking gemaak kan word nie. Trump wil ten minute sy land n beter plek maak.

Dries du Toit ·

Stem saam. Trump is die mees suksesvolste President tenspyte van die verfoeilike haatveltog teen hom. Wat is Zuma anders as n veelwywer en n korrupte skelm

Schalk ·

Ek glo ons almal is gatvol om hom op n foto te sien hou op berig oor hom hy is onbelangrik en julle kan berig wanneer hy skuldig bevind word dis n gedermry asseblief.Besf julle nie hy is onbelangrik.

Cornelia ·

Baie interessante artikel. Twee staatshoofde in die spervuur. Die “telbord” toon dat Trump ten spyte van die “korrupsie aanklag” teen hom, nogtans uittroon as ‘n Aanwins vir sy Land in haas elke doel wat bydra tot ekonomiese groei en prestasie in die Amerikaans geskiedenis. ‘n Man wat doelbewus regeer om Amerika se burgers nuwe hoop te gee en met nuwe insigte na beter lewensomstandige uitkomste te rig. Dit is soos u tereg sê: Die man se persoonlike belasting opgawe mag dalk vol skuiwergate wees maar dit gebeur nie ten koste van ‘n totale staatsopbrengs nie!? Hy staan op vir sy nasie se geluk en voortbestaan. Zuma andersyds het homself as Suid Afrika se “begunstigde” uitgesonder. Gunste gekoop en verkoop om sy persoonlike belange te dien vóór Suid Afrika en sy burgers s’n. ‘n Tipiese “kommunistiese” regeerstyl. Dankie vir ‘n goeie artikel. U ken u terrein en gee mens ‘n kykie vanuit ander hoek in breë nuusdekking.

Cornelia ·

Baie interessante artikel. Twee staatshoofde in die spervuur. Die “telbord” toon egter dat Trump ten spyte van die “korrupsie aanklag” teen hom, nogtans uittroon as ‘n Aanwins vir sy Land in haas elke doel wat bydra tot ekonomiese groei en prestasie in die Amerikaanse geskiedenis. ‘n Man wat doelbewus regeer om Amerika se burgers nuwe hoop te gee en met nuwe insigte na beter lewensomstandige uitkomste te rig. Dit is soos u tereg sê: Die man se persoonlike belasting opgawe mag dalk vol skuiwergate wees maar dit gebeur nie ten koste van ‘n totale staatsopbrengs met die doel om die land te plunder nie? . Zuma andersyds het homself as Suid Afrika se “begunstigde” uitgesonder. Gunste gekoop en verkoop om sy persoonlike belange BO die van Suid Afrika en sy burgers te stel. ‘n Tipiese “kommunistiese” regeerstyl sou ek sê. Dankie vir ‘n goeie artikel. U gee mens ‘n kykie vanuit ander hoek in breë nuusdekking.

Therese van Schalkwyk ·

Goeie poging, Cornelia.
Kon selfs met die herlees van die artikel steeds géén geloofwaardige punt van ooreenkoms vind tussen die staatshoof van die voorste, suksesvolle demokrasie in die wêreld, en dié van ‘n staat in Afrika wat met rommelstatus flankeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.