20 jaar vir man wat jong ma vermoor

Ondersteuners Woensdag buite die Mitchells Plain-landdroshof waar Cleo Diko se moordenaar gevonnis is. (Foto: Action Society)

Cleo Diko (34) se moordenaar is Woensdag in die Mitchells Plain-landdroshof tot 20 jaar agter tralies gevonnis.

Die uitspraak bring ʼn einde aan die uitgerekte saak wat keer op keer uitgestel is sedert Sandile Jegwa meer as ʼn jaar gelede in Mandalay in Kaapstad in hegtenis geneem is.

“Oor [ʼn tydperk van] 425 dae moes Cleo se familie en vriende male sonder tal in haar moordenaar vaskyk, net om te hoor die saak word weer uitgestel en die hof elke keer met meer vrae as antwoorde te verlaat,” het Kaylynn Palm, hoof van die drukgroep Action Society se provinsiale aksiesentrum, buite die hof gesê.

“Hulle het egter geweier om op te gee en vandag was die hofsaal volgepak met Cleo se vriende en familie. Hoewel ons ʼn lewenslange vonnis sou verkies, is dit goed om te weet dat hy [Jegwa] vir 20 jaar uit die samelewing verwyder sal word. Dit bring ook ʼn mate van vrede aan Cleo se geliefdes en lede van die publiek.”

Cleo Diko (Foto verskaf deur Action Society)

Diko, ʼn ma van drie jong kinders, se ontbinde liggaam is op 27 Januarie verlede jaar onder ʼn bed in ʼn huis in Mandalay gevind nadat sy in Oktober 2022 verdwyn het. ʼn Tou was om haar nek gedraai en sy was met beton en teëls bedek. Diko se identiteit moes met private DNS-toetse bevestig word.

Jegwa is in hegtenis geneem toe die polisie ʼn oproep ontvang het oor bloedbevlekte komberse en kussings in die huis waar hy gewoon het. Hy het in die landdroshof erken hy het Diko twee keer met ʼn hamer geslaan en toegekyk hoe sy doodgaan.

Hy is ʼn gewoontemisdadiger en het reeds skuldigbevindings van roof en diefstal.

Sandile Jegwa (Foto verskaf deur Action Society)

“Jegwa is ʼn moordenaar met ʼn geskiedenis van geweld. Hy was ʼn bedreiging vir almal om hom en selfs sy eie familie het hom gevrees. Hy verdien om vir die res van sy lewe in die tronk te verrot,” het Palm gesê.

“Hy het geen plek in ons gemeenskappe nie en die mense van Mandalay kan vanaand rustiger slaap in die wete dat hy uit die samelewing verwyder is.”

Palm beskryf die vonnis as ʼn oorwinning vir kwesbare slagoffers van geweld en misdaad.

“Ons het nog ʼn lang pad om te stap en glo swaarder vonnisse moet vir oortredings teen kinders en vroue opgelê word, veral wanneer die oortreder ʼn geskiedenis van gewelddadige optrede het.

“Vandag was egter ʼn stap in die regte rigting in ons stryd om ʼn veiliger Suid-Afrika vir almal te vestig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marous ·

Met die patetiese parool stelsel moes hy 100 jaar kry om 20 te sit.

Jannie van Niekerk ·

NET 20 jaar?! Skreiende skande dat hy nie tien maal lewenslank gekry het nie

Wondermaarnet ·

Is 20 jaar al? Toemaar, hy sal uitkom en dan sal hy hopelik deur haar familie/vriende reggesien word.

Bolandse Nooi ·

20 jaar gekry, beteken nie hy gaan 20 jaar sit nie. Een-derde uitgedien (d.w.s. 6½ jaar) onder “goeie gedrag” en hy is weer ‘n vry man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.