6-jarige verdrink, drie kinders nog vermis ná vloede

‘n Brug na Koffiebaai het heeltemal weggespoel. (Foto: Ocean View Hotel/Facebook)

Die liggaam van ʼn sesjarige meisie is Sondag gevind nadat sy en vyf ander mense die afgelope naweek deur vloede in Koffiebaai in die Oos-Kaap meegesleur is.

Die polisie soek steeds na die ander slagoffers, van wie drie kinders is. Daar is egter ʼn sterk vermoede dat hulle ook verdrink het.

Die OR Tambo-distriksmunisipaliteit het in ʼn verklaring gesê die jong meisie is opgespoor nadat sy, haar vierjarige sussie en hul ma Vrydagaand vermis geraak het.

“Die slagoffers is saam met hul huis in Lutshini meegesleur terwyl hulle die aand geslaap het,” lui die verklaring.

Die oorledene se jonger sussie en ma is nog nie gevind nie.

(Foto: Ocean View Hotel/Facebook)

Intussen spook polisieduikers ook om twee sibbe, onderskeidelik vyf en sewe jaar oud, se liggame te vind nadat hulle Vrydagmiddag verdrink het.

Die twee seuns, wat in Qhogi woonagtig is, het die middag verdrink terwyl hulle ʼn stroom wat sy walle oorstroom het saam met hul ma en ouer sussie probeer oorsteek het. Die gesin was op pad huis toe nadat hulle vroeër ʼn naburige kliniek besoek het.

Nog ʼn persoon, ʼn 24-jarige vrou van Mapuzi, word ook nog gesoek nadat sy weens die vloedwater saam met haar huis meegesleur is. Die vrou het glo die aand geslaap toe sterk strome deur haar huis gevloei het en die hele struktuur meegesleur het. Sy het glo probeer om deur die venster te ontsnap, maar kon nie daarin slaag nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se reënverslag het die gebied Vrydag nagenoeg 155 mm reën ontvang en Saterdag weer 118 mm reën. Dit is byna 300 mm reën in twee dae.

Die SAWD het vroeër verlede week gewaarsku dat veral die Oos-Kaap verwoestende reën sou kry, terwyl die polisie ʼn beroep op burgers gedoen het om groot watermassas te vermy.

Die distriksmunisipaliteit se ramp- en risikobestuurspan is steeds in die betrokke woongebiede waar die mense verdrink het om “ondersteuning te gee en die omvang van die skade te bepaal wat deur die voortslepende reën veroorsaak is”.

“ʼn Beroep word op lede van die publiek gedoen om riviere of strome te vermy wat enigsins hul walle oorstroom, asook brûe wat dalk weens die vloede beskadig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.