9 plaasaanvalle, 3 plaasmoorde in twee weke

(Foto: Petrus Phakamile Sitho/Facebook)

AfriForum het Donderdag bekend gemaak dat altesaam nege plaasaanvalle en twee plaasmoorde tussen 22 en 30 Julie in die land aangemeld is.

Maroela Media het egter intussen van ’n derde plaasmoord berig, waar die liggaam van dr. Carel Nel Woensdag op sy plaas in die Biesiesvlei-omgewing in Noordwes gevind is.

Die aanvalle is hoofsaaklik in die Vrystaat, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga aangemeld.

Vier verdagtes het ook Donderdag in die landdroshof in Balfour verskyn vir die moord op die 71-jarige Theo Bekker en die aanval op sy vrou, Marlinda, op hul plaas in die Groenvlei-omgewing.

Theo Bekker en sy vrou, Marlinda (Foto: Lizanne Fourie/Facebook)

Die verdagtes is tieners tussen 16 en 19 jaar oud.

’n Groot groep boere en gemeenskapslede het buite die hof met plakkate waarop staan “Stop Plaasmoorde” en “Farmers’ Lives Matter”, byeengekom om hul misnoeë oor plaasaanvalle en ‑moorde te kenne te gee.

(Foto: Petrus Phakamile Sitho/Facebook)

(Foto: Petrus Phakamile Sitho/Facebook)

Saam met die aanvalle, het EFF-leier Julius Malema ook opspraak gewek met die sing van die omstrede “Kill the Boer”-liedjie tydens die party se tienjaar-verjaarsdagvieringe.

Kommer oor toename in plaasaanvalle

Die DA vra dat ’n ondersoek van stapel gestuur word om die moontlike verband tussen die EFF se aanhitsing van geweld en die oplewing in wrede plaasaanvalle en -moorde te ondersoek.

“Hierdie ondersoek moet geen steen onaangeroer laat nie, en die bevindinge daarvan behoort omvattende maatreëls te bevat om die veiligheid van ons boere en plaaswerkers te verseker,” sê Noko Masipa, die DA se skaduminister vir landbou.

Die party het ook sy hartseer uitgespreek oor die toename in plaasmoorde wat die afgelope twee weke duidelik te sien is en sê die gevaarlike retoriek en geweld wat op ’n spesifieke groep van die samelewing gerig is, is kommerwekkend.

“Ons moet vinnig optree om hierdie ernstige situasie te hanteer.”

Volgens Masipa is die ANC se versuim om Malema se omstrede uitsprake en die skerp styging in die aantal plaasaanvalle te hanteer, ’n duidelike aanduiding dat daar nie op hul leierskap staatgemaak kan word om hul burgers te beskerm nie. Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het ook nog nie ’n woord gerep oor die aanvalle nie, sê Masipa.

“Dit is tyd dat alle politieke partye hul verskille opsy skuif en saam staan om die lewens en waardigheid van alle Suid-Afrikaners te beskerm.

“Pres. Cyril Ramaphosa moet hierdie dade onomwonde veroordeel en daadwerklike leierskap toon om hierdie krisis te hanteer. Die veiligheid en sekuriteit van ons burgers, ongeag hul agtergrond, moet op die voorpunt van ons nasionale agenda wees.”

Masipa sê die DA het deurgaans gepleit vir die implementering van behoorlike landelike veiligheidseenhede en reserviste, met erkenning van die unieke uitdagings wat die landelike gemeenskappe in die gesig staar. Die onsekerheid wat hulle daagliks verduur, vra dringende optrede en ondersteuning van die regering.

“Gegewe die gebrekkige reaksie van die polisieminister rakende polisiëring in landelike gebiede, word ’n kommissie van ondersoek selfs meer kritiek. Dit is tyd om alle segmente van die samelewing te verenig om hierdie dringende kwessie gesamentlik te pak.

“In die lig van die ontstellende historiese voorbeelde waaruit ons moet leer, veroordeel die DA hierdie sinnelose moorde ten sterkste. Ons harte gaan uit na die gesinne wat geraak word, en ons belowe om te baklei teen gevaarlike politieke retoriek wat lewens in gevaar stel.”

Mike Pattinson (Foto: Mike Pattinson/Facebook)

Charl Kalamer, VF Plus-raadslid in Maluti-A-Phofung (middel) saam met die boere en gemeenskapslede buite die hof in Qwaqwa (Foto: VF Plus Vrystaat/Facebook)

Maroela Media het vroeër berig oor Mike Pattinson (67), ’n boer van Sterkfontein naby Harrismith, wat Maandag as vermis aangemeld is, waarna sy liggaam ure later in ʼn huis in Tseseng gevind is. Vyf mans het reeds in die hof vir sy moord verskyn.

Twee plaasaanvalle is die naweek van 22 tot 23 Julie in sentraal-KwaZulu-Natal aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Harley Davidson ·

Praat baie maar doen niks konstruktief nie ,begin ‘n opleiding sentrum om plaasaanvalle te bekamp ,honderde wit seuns gaan oorsee omrede daar nie werk is vir hulle in sa nie..Die opleiding kollege kan dan die rekrute uitplaas na verskillende brandpunte en stasies wat volgens ‘n besigheid module bestuur word.

melaney ·

Werk in die buiteland klink meer rooskleurig en wit seuns staan ‘n groter kans op oorlewing.

Daisy ·

Die idee is goed, maar die hoofrede hoekom jong mense oorsee gaan is om ‘n ordentlike salaris te verdien en te oorleef.
Wie gaan jou idee soos bo genoem, befonds? Wat gaan hierdie jong rekrute verdien hier teenoor wat hulle in die buiteland kan verdien.

Cherokee ·

Jou en Melaney se kommentare is sinvol, maar dit weerspreek absoluut niè wat die HR sê nie, want die strekking van wat julle sê, is verskillend. Wat HR sê. is gemik op landsveligheid, terwyl julle twee finansies praat. Julle praat by mekaar verby.

Linda ·

Befondsing is n probleem, wat Kan nog gedoen word, enige iemand idees

JN ·

Daisy jammer ek stem nie met jou saam nie…
N ordentelikke salaris alleen is nie die hoofrede nie..
Baie wittes gaan oorsee jonk en ouer, ek is een van hulle want ja daar word nie meer werk geskep in Suid Afrika nie so daar en nog minder gespesialiseerde werk want die word uitgehou vir die uitverkorenes…
My velkleur bepaal ek is nie n uitverkorene nie..

melaney ·

Die eff draai die krane oop en geen woord uit die hoek van die regering is net so duidelik ‘n boodskap aan ons. Daar sal op ‘n ander manier die probleem moet aanpak.

MJLS ·

Wat vir my duidelik uitstaan is dat die regering (cANCer) en EFF saamstaan. Dis hoekom daar niks gebeur met die oortreders nie.

George ·

Die EFF is gestig deur die ANC, die ANC het Julius uitgeskop as youth leader oor sy uitsprake, sodat hy die EFF kan vorm, en so kan doen en se wat hy wil sonder enige backlash ANC toe, dis my opinie. Malema is n ANC rolspeler en puppet.

Charles ·

NIE noodwendig op straatvlak beplan nie en nie deur die die mense wie meeste verwag noodwendig beplan nie.

Christine ·

Dis skokkend. Maar ons almal weet dit. En NIKS gaan verander nie. …

kaplyn ·

Ja hulle sing die lied van toenterjare af maar, in die apartheids jare was daar kommandos en die polisie wat opgetree het. Daarom was daar so min plaasmoorde in die apartheids jare. Die kommandos is afgeskaf en die polisie beteken niks en dit het die pad voorberei vir die vergrype van plaasmoorde. Plaasmoorde is niks anders as ‘n beplande uitwissing van plaasboere nie.

piet ·

Nee, niks te doen met uitwissing van plaasboere nie want dan sou hulle nou al uitgewis gewees het met die honderde aanvalle elke jaar. Waar jy wel korrek is, is die kwesbare posisie waarin afgelee boere hulle bevind weens onvoldoende beskerming. Die hoofdoel van die misdade is egter roof (veral wapens) en nie moord (of etniese uitwissing) soos sommige wil voorgee nie. So maklike teiken en baie tyd om dit uit te voer en hulle weet omtrent alle boere het wapens.

Truman Burbank ·

En toe daar kommandos was, was daar feitlik geen. So waaroor moet mens dankbaar wees?

Andre ·

effies is die anc se militere vleul en die wat dit nie kan raak sien nie is maar kortsigtig.
Die moorde is totaal en al onaanvaarbaar!!!

Nicholaas ·

Ek vra dat elkeen wat my kommetaar gaan afmerk mooi dink oor wat ek gaan skryf, ons geveg is nie teen vlees en bloed maar teen die bose magte wat heers oor die wereld, die geestes wereld is n werklikheid en alles wat ons in ons daaglikse lewe doen bepaal wat in die geestes wereld gebeur en dit het weer n groot effek wat met ons gebeur in die natuurlike lewe, die duiwel en sy demone gebriuk boonop nog rassisme om hul bose werk te doen, die buite wereld gee nie veel aandag aan ons hulp krete en die anc en eff verlekker hulle terwyl hul ondersteuners gelei die die duiwel en sy demone ons vermoor,verkrag, verneuder ens, hierdie oorlog gaan ons net wen deur op ons kniee te gaan en ons verhouding met God reg te stel, geseende dag almal.

John ·

Laat die boer toe om te skiet wie ookal sy grond betreë sonder toestemming.
In teendeel, enige persoon moet die vermoë hê om sy eiendom so te kan beskerm – die prentjie sal vinnig verander.

Anna-marie ·

Dit moet gedoen word…..dat moet gebeur…..laat dit toe…..laat dat toe…………..

Sê maar net ·

Piet, en jy glo Wikipedia? Wat sê die nuus en daai wit kruise vir jou? Moorde neem toe, nie af nie….

JN ·

En jy dink dit is normaal onder enige en alle omstandighedes?
Wat van niks plaasmoorde nie..?? Veral die gebaseer op ras!
In Suid Afrika is mense so gekondisioneer dat minder plaasmoorde aanvaarbaar is veral in n situasie waar dit juis aangeblaas word…

marius ·

Daar sal van diegene wat in regeringstoele sit nie ‘n woord gerep word nie want hulle keur dit goed.

Isobel ·

Die EFF hits hulle dan aan. Wat anders kan ons verwag en niemand doen rerig iets aan die aanhitsing nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.