97 onwettige myners vas

97 mans van Lesotho is in hegtenis geneem. (Foto: Verskaf)

Altesame 97 mans van Lesotho is Maandag in Heidelberg in Gauteng vasgetrek nadat hulle glo by onwettige mynbedrywighede betrokke was. ʼn 62-jarige boer is ook in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê ʼn span bestaande uit verskeie gespesialiseerde eenhede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het op ʼn plaas toegesak waarop daar glo onwettig gemyn is.

Die verdagtes, almal tussen 18 en 35 jaar oud, van wie die meeste onwettig in die land is, is op die perseel in hegtenis geneem.

“Die span het op myntoerusting en -werktuie beslag gelê, asook drie ongelisensieerde vuurwapens en 570 patrone,” sê Mathe.

ʼn Span bestaande uit verskeie gespesialiseerde eenhede in die polisie het op die plaas toegeslaan. (Foto: Verskaf)

Die polisie het dieselfde dag ook die eienaar van die betrokke plaas in hegtenis geneem nadat hy met onwettige ammunisie en ander myntoerusting betrap is.

Die verdagtes sal na verwagting eersdaags in die Heidelberg-landdroshof verskyn op aanklagte van onwettige mynbou, oortreding van die Immigrasiewet, die besit van springstof, asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Aanklagte van mensehandel sal ook by die klagstaat gevoeg word.

Die vuurwapens waarop beslag gelê is, is intussen vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of dit in enige ander misdade gebruik is.

Mathe het lede van die publiek opnuut daaraan herinner om enige onwettige bedrywighede by die polisie se noodnommer, 086 001 0111, aan te meld.

“Alle inligting sal vertroulik hanteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Di ·

Land is VROT van die duisende ONWETTIGE immigrante! Tyd dat sekere mense hulle werk begin doen

Kokerboom ·

Die euwel moet uitgeroei word. Sluit hul toe vir lank. Deportasie help nie. Verhaal koste van toesluit van Lesotho regering. Beste is ..Annekseer Lesotho by Vrystaat. Ala Rusland

Pietertjie ·

‘n Druppel aan die emmer. En hulle “vervolging” gaan die belastingbetalers weer ‘n pot vol goud kos. Sonder enige positiewe gevolge. Nóg ‘n Mandela-nalatenskap

SjN ·

Tree ook asb op teen die onwettige zama zamas in Orkney omgewing.

koos ·

“Beste is ..Annekseer Lesotho by Vrystaat”. Laaskeer toe ons befaamde SANDF probeer het om die Lesotho regering teen ‘n rebellie te help, het die rebelle die SANDF se g@t geskop :-)

miche ·

SA gaan binnekort moet begin om nog tronke te bou óf te begin deporteer.

Nico ·

Wat die ANC howe met hierdie onwettige immigrante doen, hulle maar net weer vrylaat want hulle het nie kos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.