‘ActionSA steek Brink in rug’ oor stakende werkers, sê DA

Cilliers Brink (Foto: Facebook)

Die DA het ActionSA, sy vennoot in die veelpartykoalisieregering in die Tshwane-metro, daarvan beskuldig dat hy burgemeester Cilliers Brink in die rug gesteek en die mat onder die koalisie se voete uitgepluk het.

Die twee partye is haaks oor stakende werkers wat dienslewering in Pretoria die afgelope weke lamgelê het.

Kwena Moloto, die DA se woordvoerder in die Tshwane-koukus, het ActionSA daarvan beskuldig dat sy dringende mosie om Brink te dwing om met die stakende werkers te onderhandel en vakbonde se eise te oorweeg, ingedien is sonder om die veelpartykoalisie te raadpleeg.

Volgens Moloto sluit die vakbonde se eise die toevoeging van R600 miljoen tot die loonrekening in, sowel as die betaling van stakende werkers wat dienste vir inwoners ontwrig het, en die herinstelling van werkers wat betrokke was by voorvalle van aanranding en intimidasie teen Tshwane-werknemers.

Funzi Ngobeni, ActionSA se Gauteng-voorsitter, het gesê die realiteit is dat die werkers wettige bekommernisse het aangesien die stad reeds in 2021 ʼn driejaarooreenkoms met werkers gesluit het en nou al twee jaar lank versuim het om daardie ooreenkoms te implementeer.

“ActionSA, as ʼn toegewyde vennoot van die veelpartyregering, sal voortgaan om met alle vennote saam te werk om ‘n oplossing te vind om die huidige stakingsaksie te beëindig. Ons gaan voort om enige skade aan eiendom te kritiseer en glo dat ʼn kompromie gevind kan word.”

Moloto het egter gesê die Tshwane-metro het talle pogings aangewend om met vakbonde wat by die voortgesette stakings betrokke is in gesprek te tree.

“Die vakbonde het hulle van die stakings gedistansieer en ActionSA se mosie doen dus in wese ʼn beroep op die burgemeester om in gesprek te tree met die kriminele elemente wat hierdie stad gyselaar gehou het deur geweld en vernietiging.”

Volgens Moloto is die veelpartykoalisie die afgelope nege weke in ʼn stryd gewikkel om die finansiële toekoms van die Tshwane-metro. “ActionSA se mosie toon ʼn gebrek aan versiendheid. Die toestaan van loonverhogings in Tshwane sal onvermydelik ten koste wees van hulpbronne wat vir noodsaaklike dienste aan inwoners toegewys is. Indien hierdie mosie aanvaar sou word, wat die illusie skep om die staking te beëindig in die naam van die hervatting van dienslewering in Tshwane, sal dit lei tot ʼn langtermyn-afname in die gehalte van dienste wat aan Tshwane-inwoners gelewer word.”

Cilliers Brink, burgemeester van Pretoria, het in Augustus in Mamelodi gehelp om die agterstand met vullisverwydering in te haal (Foto: Tshwane-metroraad)

Die DA en VF Plus het ʼn dispuut met ActionSA ingevolge die koalisieooreenkoms verklaar, sê Moloto.

“Die DA sal onder geen omstandighede ʼn mosie onderskryf wat tot die finansiële ondergang van die Tshwane-metro kan lei nie. Die DA sal ook nie ʼn mosie steun wat die inwoners van die Tshwane-metro benadeel om diegene wat verantwoordelik is vir die vernietiging van munisipale infrastruktuur, aanrandings op en skietery van munisipale werknemers te paai nie.”

ActionSA se mosie het gevolg nadat lede van die party oorsigbesoeke aan Mamelodi en Soshanguve gebring het. Volgens Ngobeni het die besoeke beklemtoon hoe dienslewering in townships in die Tshwane-metro byna tot stilstand gekom het met vullis wat vir weke lank nie verwyder is nie, kritieke herstelwerk aan water- en elektrisiteitsinfrastruktuur wat nie plaasvind nie en munisipale kantore wat met tussenposes gesluit is.

“Die oorsigbesoeke aan geaffekteerde township-gemeenskappe benadruk ActionSA se oortuiging dat in plaas daarvan om die bekommernisse van munisipale werkers te ignoreer, die stad proaktief met vakbonde moet skakel om ʼn oplossing vir die huidige dooiepunt te vind.

“Terwyl voorstedelike gemeenskappe moontlik maniere kon vind om die huidige diensleweringdalings hok te slaan, is dit die township-gemeenskappe wat nie die finansiële hulpbronne het om soortgelyke stappe te doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Althes ·

Action SA waar is julle morele kompas?

Staatsdienswerkers kan ook nie eens meer ñ verhoging demand nie, loopbaanbevorderings is uiters beperk,die begroting uiters knap.
En daar is niks wat die staatsdienswerkers daaraan kan doen nie, hulle is maar net dankbaar dat hul ñ werk het. Al kom hul nie finansieel uit met hul maandelikse salaris nie.

So Action SA indien die ANC regering dit op werknemers afdwing – hoekom ondersteun jul nie eerder vir Cilliers Brink wat ook die regte ding wil doen nie?

J. J. ·

Wat het die unies met die bestuur van die stadsraad te doen, al wat hulle doen is om die stadsraad se bestuur se gesag te ondermyn, raak ontslae van hulle, laat hulle die mense se verhogings gee, aangesien hulle lede elke maand betaal vir dienste, wat net maak dat hulle sonder werk kan opeindig. Staan vas en Moenie ingee nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Foutiewe politieke besluite het gevolge. Die DA metro regering moes verhogings reeds 2021 geweier het. Maar hulle wou werkers gelukkig hou voor die metro verkiesing.

Frikkels ·

Nou is dit die townships wat gebuk gaan onder swak dienslewering en munisipale kantore wat periodiek gesluit word, maar al die probleme het hulle oorsprong in die townships. Vandag brand hulle die munisipale kantoor af en môre betoog hulle omdat daar nie ñ munisipale kantoor is nie. Action sa het as ñ baie belowende party afheskop, maar begin nou sy ware kleure wys. Hulle is net soos die eff, ñ filiaal van die anc. Sterkte Cilliers Brink. Hou by jou oorspronklike besluit. Geen mens onderhandel met kriminele nie!

Nico ·

Eintlik gedink die mooi praatjies van ActionSA gaan nie lank hou nie. Stemme werf is belangriker

Republikein in die Wes Kaap ·

Die wettige loonooreenkoms in 2021 moet eerbiedig word. Brink moet sy DA voorgangers blameer vir die ondeurdagte ooreenkoms en aanbeweeg. Om ‘n metro te bestuur is nie kinderspeletjies nie.

Bolandse Nooi ·

Nou, Republikein, dit wil voorkom asof jy ‘n persoon met mag en kennis is – hoekom gaan bestuur JY dan nie daardie metro nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek is ‘n demokraat. Nie ‘n diktator nie. Ek woon ook (nie meer) in die metro nie.

Anel ·

Ek sou sê, staan die verhoging toe, MAAR, trek dit weer net so af vir skade wat veroorsaak is. Baie mense is maar te bly om werk te hê. Hierdie lot is baie van treurig verby. Kyk maar wie is dit wat so tekere gaan oor verhogings! En waar dink hulle moet die geld vandaan kom? Dink hulle nou vir een oomblik dat ons gaan betaal aan hulle salarisse maar tevrede moet wees met geen dienste nie? Vergeet dit!! Kry eerder die wat nie betaal nie voor stok, dan jan ons weer praat.

Bolandse Nooi ·

Nee, “fire” die hele lot wat so gestaak en skade aangerig het en gee die werk aan blanke werkloses, wat die werk wel sal doen en nie net op verhogings aandring, ten spyte daarvan dat die metro bewyse voorgelê het dat hulle dit níé kan bekostig nie en ook mense wat werklik sal wérk soos en wanneer dit van hulle gevra word.

Cherokee ·

Ek neig te dink daar is lede van ActionSA wat ook lede is van hierdie groep. Hulle kan gerus ook hul opinie duidelik stel.

Manie ·

Die DA gaan ‘n groot toets druip indien hulle dink dat koalisie vennootskappe gaan werk. Dit werk net totdat die opposisie iets aanbied wat blyk beter te wees, dan loop hulle oor.

Bolandse Nooi ·

En dan dink julle ‘n koalisie gaan op nasionale regeringsvlak werk ná volgende jaar se verkiesing????????????????????? Die DA wil ook maar net nie leer nie!!!

Alexander ·

Die Brink ou lyk na goeie leier jammer hy kry nie samewerking terwyl hy (Pret)oria van die “brink of collapse” probeer red :)

Alexander ·

Mooi voorbeeld van hoekom SA nie vorentoe beweeg, want jul koppe is nog in PW se grot op

Oosieoos ·

Jy kan ook min vertrou deesdae een of ander tyd wil hulle maar net hulself bevorder en steek jou dan in die rug

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.