ActionSA-vrou is nuwe Tshwane-onderburgemeester

Dr. Nasiphi Moya en Cilliers Brink (Foto: Tshwane-metro)

Dr. Nasiphi Moya is Donderdag tot die Tshwane-metro in Pretoria se onderburgemeester verkies.

“Hierdie posisie is geskep weens die werklikheid van koalisies – die onderburgemeester stabiliseer die koalisieproses indien iets met die burgemeester gebeur. Daar is ook spesifieke dinge in ons ooreenkoms waarvoor die onderburgemeester verantwoordelik sal wees,” het Cilliers Brink, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro, gesê nadat Moya verkies is.

“Die werklikheid is dat talle munisipaliteite in die land onderburgemeesters het – Gauteng was die uitsondering hierop. Ek glo daar is vir ons ʼn geleentheid om te stabiliseer – dit is belangrik as ons dienste wil verseker, goeie regering wil bied en koalisieregerings wil laat werk met gedeelde mag en verantwoordelikheid.”

Moya het gesê dit is ʼn eer om as onderburgemeester verkies te word en het die versekering gegee dat sy onwrikbaar toegewyd is tot die verbetering van die stad.

“Die versekering van verbeterde dienste aan die inwoners van die stad is ons grootste prioriteit. Om dit te bereik, moet ons op verskeie sleutelterreine fokus.

“Kom ons sit ons politieke verskille opsy en werk saam in diens van die mense van Tshwane. Hou my aanspreeklik vir my dade en laat ons almal die beloftes nakom wat ons in 2021 aan ons kiesers gemaak het.”

Moya was die enigste kandidaat vir die posisie en is deur lede van die veelparty-koalisie gesteun, terwyl die EFF beswaar gemaak het teen haar verkiesing. Volgens die EFF het Moya na bewering op die metro se onkoste na Saoedi-Arabië gereis.

ActionSA het egter die EFF se “ongegronde bewerings” verwerp en gesê dié kwessie moes destyds by die destydse uitvoerende burgemeester geopper gewees het, wat die riglyne vir die reis na Saoedi-Arabië uitgereik het.

“Die EFF se desperate stap om hierdie kwessie eers ná al die jare te opper, ruik na politieke grootheid, in ag genome dat die EFF ten tyde van hierdie bewering in ʼn samewerkingsooreenkoms met die regering was,” het Funzi Ngobeni, woordvoerder van ActionSA, gesê.

“Daar moet kennis geneem word dat dr. Moya nie saam met die afvaardiging na Saoedi-Arabië op die reis gegaan het nie en ook nie opdragte daartoe uitgereik het nie. Dit is nie verbasend dat die EFF hierdie ongegronde aansprake nou opper om goedkoop politieke punte aan te teken nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael ·

As sy die beste kandidaat is agv haar kwalifikasies en ondervinding het sy my stem ,make pretoria great again.

Nicholaas ·

Baie goeie besluit, dit tyd dat ons weer moue oprol en land begin opbou.

Ore ·

As die stad dit kan bekostig is dit seker geregverdig. Hoop haar aanstelling gaan waarde toevoeg en later weer in mosies van wantroue ontaard nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.