Adjunkminister sê nee vir nog BTW-vrye kos

David Masondo, adjunkminister van finansies. (Foto: David Masondo/X/Twitter)

David Masondo, adjunkminister van finansies, het gesê kwytskelding van BTW gaan nie na meer kositems uitgebrei word nie aangesien dit tot laer belastinginkomste sal lei en beteken daar is minder geld vir meer doelgerigte armoedeverligting.

Masondo het tydens Donderdag se DA-gemotiveerde debat in die Nasionale Vergadering oor die uitbreiding van ʼn kosmandjie wat van BTW uitgesluit is, gesê die regering weet dat Suid-Afrikaners uitdagings ervaar in die moeilike ekonomiese klimaat. Hy is egter van mening dat nog meer BTW-vrye kositems nie die beste oplossing vir die probleem van hoë lewenskoste is nie.

Die adjunkminister het daarop gewys dat BTW-vrye kositems ʼn inkomsteverlies van R31 miljard in die 2019-’20-boekjaar tot gevolg gehad het. “Om nog items van BTW vry te stel sal lei tot ʼn afname in inkomste wat gebruik kan word om die armes te ondersteun,” het Masondo gesê en bygevoeg dat die belastinginkomste wat só verlore gaan hoofsaaklik middel- en hoë-inkomstehuishoudings bevoordeel, wat volgens hom meer van dié produkte koop.

Masondo sê dat BTW gemiddeld 26% van die bruto belastinginkomste uitmaak, wat via ʼn aantal pro-arm-regeringsprogramme aan die armes herverdeel word. Hy het ook opgemerk dat die regering meer as 60% van sy begroting aan die maatskaplike loon bestee, wat grootliks op die armes gerig is.

Bruinbrood, mieliemeel, rys, groente, melk, plantaardige olies en eiers is van die BTW-vrye kositems, maar die DA wil hê hoender aan die been, beesvleis, blikkiesbone, volkoringmeel, margarien, grondboontjiebotter, babakos, tee, koffie en soppoeier moet ook hierby ingesluit word.

Dion George, DA-LP en woordvoerder oor finansies, het gesê sukkelende Suid-Afrikaanse huishoudings ly onder die regering se swak beleidskeuses.

“Deur brandstof te belas, styg die petrolprys en verhoog dit vervoerkoste wat weer kospryse opjaag en dan kan al hoe meer Suid-Afrikaanse huishoudings nie genoeg kos op hul tafels sit nie. Die regering kan die belasting en heffings op brandstof verminder wat tans 33% van die brandstofprys uitmaak. Dit sal onmiddellik die koste van brandstof, die koste van vervoer en die koste van voedsel verlaag.”

Die IVP en VF Plus het ʼn uitbreiding van die BTW-vrye voedselmandjie ondersteun.

Wouter Wessels, VF Plus-LP en woordvoerder oor finansies, het gesê die ANC praat nou uit verskillende monde oor die uitbreiding van ʼn kosmandjie wat van BTW uitgesluit is en gee duidelik nie om oor die swaarkry van die land se mense nie.

“Suid-Afrikaners kry baie swaar. Die armes word armer en die uitgebreide werkloosheidskoers is meer as 40%. Bykans die helfte van Suid-Afrikaners is werkloos. Na raming sal 50% van Suid-Afrikaners teen 2025 – oor minder as twee jaar – nie weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie.

“Vir die huidige krisis is onmiddellike korttermyn-oplossings nodig om behoeftiges te help en om terselfdertyd ekonomiese groei te stimuleer. Die adjunkminister se argument dat middel- en hoër-inkomstegroepe die meeste bevoordeel sal word deur BTW-toegewings op basiese kosprodukte is onnadenkend. Dit sou juis as deel van die algehele waardeketting besteding en ekonomiese groei aanwakker wat vir almal voordelig sal wees.”

Onder die ANC-regering word belastinginkomste in elk geval grootliks wanaangewend, meen Wessels. “Die regering gee nie werklik om vir die behoeftiges nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Anel ·

Nou kyk, ek weet niks van ekonomie nie, maar ek het gedonde verstand. Die goed wat vrygestel is btw, is nie goedkoper nie. Btw is klaar by die prys ingereken! Daar word op die strokie mos gewys watter items ingesluit en watter uitgesluits is. Dan sal ek ook verwag dat daardie items goedkoper moet wees, maar hulle bly nog steeds onbekostigbaar en hul pryse gaan ook maar goed op. So, om te sê sekere items is vrygestel is ‘n klug. Dis wat my gesonde verstand en logika vir my sê. Ek kan verkeerd wees!

Sobymykoolkop ·

Ek vermoed jou gesonde verstand is nie verkeerd nie.They can fool some people sometime………

Tricea ·

Armoede verligting? Hy bedoel seker verryking van politici en kaders!

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat help dit die regime deel toelaes uit maar vat dit terug met BTW .

Yvonne ·

Hulle is glad bekommerd oor armoede en swaar kry nie….leef mos in n ander wereld

Elma ·

glad nie bekommerd nie. Hulle eet sushi. Belastingvrye items is nie in hulle mandjies nie (met n trollie shop ek lankal nie meer nie)

Andries ·

Hoekom 19/20 se inkomste verlies noem? Was dit toe mense nog geld gehad het om kos te kon koop? 21/22 se syfer is seker te laag om te gebruik…

Lettie ·

Daar kom dit weer duidelik deur van die kader: waarom sal daar aan arm werkloses gedink word, ek eet driekeer per dag vleis van hoogste gehalte en drink meer as genoeg koffie, tee, melk, milo en koeldrank. Voel absoluut níks vir julle nie.

Marthinus Johannes ·

Hulle praat almal strooi, daardie ekstra belasting word nie gebruik vir verligting van armed nie, dit gaan sakke toe en word op allehandse gemors gemors. EN as petrol prys sak word Kos nie goedkoper nie maar styg weer as petrol prys opgaan

Johan ·

My sinisme in my rakende die minister se stelling van “doelgerigte armoedeverligting” laat my wonder watter kaders die “armoedeverligting” gaan ontvang.

skurweberg ·

Dit gaan ook sy eie salaris verhogings en rykmanslewe beinvloed. Stop om julle besluite op die armoediges se lewe. te baseer en misbruik hulle maar weer soos julle gedoen het om jare gelede aan bewind te kom

Oosieoos ·

Natuurlik nie daar is klaar te min geld in hul onverdiende belasting vir hul vermorsing begroting

Watsenaam ·

Ek Haal aan: “Suid-Afrikaners kry baie swaar. Die armes word armer en die uitgebreide werkloosheidskoers is meer as 40%. Bykans die helfte van Suid-Afrikaners is werkloos. Na raming sal 50% van Suid-Afrikaners teen 2025 – oor minder as twee jaar – nie weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie. Onder die ANC-regering word belasting-inkomste in elk geval grootliks wanaangewend, Dit inag-genome, waar lê die probleem? By die regering of die mense.

JohanR ·

Maak my lag. As die ANC en onse president minder vreet op die presidensiale vliegtuig sal daar meer as genoeg geld wees om die armes te voed! Kom tog gou verkiesings dag 2024.

Hannah ·

Die staat het meer as R1,5 miljard in een jaar verloor weens finansiële wangedrag deur amptenare in nasionale en provinsiale departemente. – In hierdie week se nuus. Maar die BTW geld sal armes help? Ek bid vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.