AfriForum sit voet neer oor Taalmonument se naam

Afrikaanse Taalmonument (Foto: Maroela Media)

AfriForum het skriftelik ten sterkste beswaar gemaak oor die beoogde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmuseum en -Monument (ATM).

Die burgerregtegroep het Saterdag die openbare vergadering van die ATM se raad in die Paarl in die Wes-Kaap bygewoon.

Daar heers die afgelope paar weke groot kommer oor Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, se skynbare plan om die “Afrikaanse” uit die Afrikaanse Taalmonument se naam te laat verwyder.

Dit het ook opnuut debatte ontketen oor die rol en plek van monumente in die Suid-Afrikaanse konteks.

Die raad se voorsitter, adv. Jean Meiring, het die naweek skriftelike insette van diegene by die vergadering, sowel as enige ander belanghebbendes, gevra.

AfriForum se kommentaar is Dinsdag aan Meiring en Michael Jonas, ATM-direkteur, gestuur.

In sy kommentaar sê AfriForum die monument se huidige naam is akkuraat en hy vind geen element van polarisasie of eksklusiwiteit daarin of in die huidige optrede van die instelling se bestuur nie.

“Inteendeel, ons wil die raad en personeel komplimenteer vir die wyse waarop hulle verseker dat alle besoekers aan die museum, monument, webwerf en sosiale media welkom voel en ingesluit word,” lui die kommentaar.

“’n Taal met die unieke geskiedenis van Afrikaans, met wortels in drie vastelande, van meet af moedertaalsprekers van alle rasse en die prestasie van hoëfunksiestatus wat in die 20ste eeu saam met slegs drie ander tale bereik is, verdien tog om gevier te word en te inspireer.”

AfriForum sê die langtermynideaal sal wees dat al die land se inheemse tale ewe sterk ontwikkel, gebruik en waardeer sal word.

“Om dít egter te probeer bereik deur erkenning aan een taal te verwater, die simboliek van een gemeenskap se erkenning te ontken en die spesifieke fokus van ’n erfenisbaken prys te gee, is ’n daad van verdeling en disrespek. Die verwydering van die fokus op Afrikaans in die naam en die wese van die museum en monument sal niks anders wees as ’n daad van damnatio memoriae [ʼn veroordeling van die geheue] teenoor ’n gemeenskap nie.

“Optrede van hierdie aard het geen plek in ons tyd waar die bewaring van unieke erfenishulpbronne van alle kultuurgemeenskappe juis erken en gekoester word as ’n internasionale reg en verantwoordelikheid nie.”

AfriForum het ook sy kommer uitgespreek oor voorgestelde wetgewing om van die instelling – saam met ander – ʼn enkele vlagskipmuseum te maak.

“Die risiko is dat dit in ’n amorfe instelling kan versmelt wat fokus en spesialisasie verloor.

“Die huidige ministeriële inmenging in die aard van die instelling skep die indruk dat hy dit as instrument wil gebruik waardeur die Afrikaanssprekende gemeenskap se aandeel aan die opbou van die land ontken kan word.”

AfriForum sê as oplossing vir die onnodige omstredenheid stel die organisasie voor dat die Afrikaanssprekende gemeenskap se diverse verteenwoordigers saamkom, ’n alternatiewe bestuursmodel vir die ATM saamstel en dat die minister dan sy reg gebruik om die eiendomsreg van die instelling af te staan aan so ’n volhoubare gemeenskapsgedrewe alternatief.

“AfriForum sal graag ’n konstruktiewe rol speel in onderhandelinge van dié aard.”

Op 18 Mei het AfriForum ook ’n vergadering met Mthethwa oor die aangeleentheid aangevra. Ontvangs van die skrywe is erken, maar geen verdere terugvoer is nog ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Misky ·

Dan wil ek wil graag hê hulle moet “Zulu” uit KwaZulu Natal haal.

Nettie ·

Pragtig! En Tswane uit Tswane Metropolitaanse Munisipaliteit, asb. Dis uitsluitend en verdelend. ;-)

Burgermeester ·

Tussen Lesufi en Mthethwa kom die ANC se rassistiese houding mooi na vore.

Mieke ·

Dit het die ANC vir die laaste 27 jaar nie gepla nie!! Hoekom nou skielik?? Daar is genoeg veranderinge in SA om hulle bestaan te verkondig: Werkloosheid, korrupsie, moord, finansiële wanbestuur.. ens. Hulle kan daarop hulle roem vind!!!

OW ·

Die ANC is polities en parlementêr in die moeilikheid vir die volgende verkiesing in 2024 en gryp nou na enige strooihalm wat hy in die hande kan kry.

Chris dupreez ·

Hulle gaan nog konkel om die verkiesing uit te stel

henndrik ·

Ek begin die idee kry al hierdie goed is net om ons aandag van iets anders weg te neem

Bertie ·

In plaas daarvan dat hulle hul werk doen, moet alle name verander. So asof dit nou goeie leierskap bewys? Pateties!

Jr ·

Sê vir hulle om dan ” African” uit African National Congress te vat want ons weet dit is nie inclusive of all South Africans. Te slim vir hulle eie bes wil. Vat die woord black out of Black managers forum

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.