‘Gee monumente vir die mense’

Die toekoms van erfenisbestuur word ʼn al hoe groter kwessie. (Argieffoto: Alexander Mickel)

Sprake dat die regering die naam van die Afrikaanse Taalmonument wil verander om die “Afrikaanse” te verwyder, het opnuut debatte ontketen oor die rol en plek van monumente binne die Suid-Afrikaanse konteks.

Die toekoms van erfenisbestuur word ʼn al hoe groter kwessie en daar is kommer dat die geld wat die staat daarvoor bewillig as hefboom gebruik kan word om ʼn instelling te dwing om na die regering se pype te dans.

Kenners stel nou voor dat Suid-Afrikaners self beheer – en finansiering – van hul monumente oorneem ten einde bewaring van hul kultuurerfenis te verseker.

Motsaathebe Serekoane, ʼn dosent in antropologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê museums en monumente gee breër konteks aan ʼn kwessie wat nie in teks gevind kan word nie.

“Indien mense nie die funksionele waarde van die voortbestaan van museums en monumente besef nie, loop hulle die gevaar dat dié kosbare instellings tot blote objekte gereduseer sal word.”

Vusumuzi Mkhize, direkteur-generaal (DG) van die departement, het vandeesweek aan eNCA gesê die minister het geen opdrag gegee – en kan ook nie – dat “Afrikaans” uit die naam van die ATM geskrap moet word nie. Volgens die DG het Mthethwa wel versoek dat oorweging geskenk word aan ʼn manier om meer inklusief te wees.

Mkhize sê taal speel ʼn belangrike rol in maatskaplike samehorigheid, maar dat uitsluiting nie die antwoord is nie. Hy sê ook dit is belangrik dat museums en monumente, nes die res van die land, Suid-Afrika se uiteenlopendheid moet weerspieël en dat hierdie instellings maniere moet vind om dit te doen.

ʼn Openbare vergadering waar mense hul insette oor die moontlike naamsverandering sal kan gee, word Saterdag (28 Mei) by die ATM gehou. Dit vorm deel van ʼn konsultasieproses om ʼn moontlike naamsverandering te ondersoek.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, waarsku enige gepeuter aan die naam van die instelling kan lei tot groot ongelukkigheid en woede.

Dit is net nog ʼn bevestiging van die kulturele miskenning wat ons op soveel ander terreine beleef. Dit is nie net ʼn miskenning van Afrikaans nie, maar van alle tale en kulture as die regering so maklik een monument se naam verander.

Finansiering

Die ATM het by navraag gesê een van die grootste kwessies waarmee hy oor die volgende vyf jaar gekonfronteer sal word, is die “uitwerking wat die aanbevelings in die voorgestelde witskrif vir kuns, kultuur en erfenis en nasionale museumbeleid op die werksaamhede van die instelling kan hê”.

Die voorgestelde witskrif fokus grootliks op die “transformasie, herstrukturering van die erfenislandskap, doeltreffende bestuur en lewering van dienste aan voorheen benadeelde gemeenskappe binne die genoemde sektore”.

Die grond waarop die Afrikaanse Taalmonument gebou is, behoort aan die departement van openbare werke en die monument self behoort aan die staat – dus, die belastingbetaler.

Die ATM is ingevolge wetgewing ’n skedule 3A‑ openbare entiteit.

Die instelling sê wat dit beteken, is dat hy jaarliks subsidie ontvang “om agentskapdienste namens die departement vir sport, kuns en kultuur te lewer en veronderstel is om ʼn nasionale mandaat te vervul”.

Die ATM se huidige begroting beloop sowat R19 miljoen, waarvan die ATM self net R3 miljoen genereer. Die res kom uit die staatskas.

“Weens ons afhanklikheid van staatsfinansiering wat tans nagenoeg 80% van die begroting beloop, word daar van dié openbare entiteit verwag om uiting te gee aan die nasionale imperatiewe en strategiese doelwitte soos uiteengesit in hoofstuk 15 van die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030,” sê die ATM.

Dit is peperduur om ʼn instelling soos hierdie te bedryf en besoekersgetalle het (grootliks weens die Covid-19-pandemie en gepaardgaande beperkings) van sowat 65 000 in 2019‑’20 tot die huidige sowat 36 000 besoekers aan die ATM gedaal.

Ander instellings  

Die Voortrekkermonument ontvang geen staatsubsidie nie. (Foto: Christel Cornelissen)

In teenstelling met die Afrikaanse Taalmonument ontvang die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria nie ʼn enkele sent subsidie by die staat nie (en dit word ook nie ingevolge dieselfde wetgewing gereguleer nie). Die VTM se Vryheidspark-buurman het in die vorige boekjaar wel R97 miljoen se belastinggeld ontvang.

Die VTM is in private besit en bestuur sy eie sake. Die instelling is boonop verantwoordelik vir die bedryf van verskeie ander instellings en terreine, waaronder die gedenkterrein by Bloedrivier in KwaZulu-Natal. Hiervoor moet hy self opdok.

Die Louis Trichardt-museum en gedenktuin in Maputo word deur die Erfenisstigting bestuur.

Die Vegkopmonument en -museum by Heilbron val op hul beurt onder ʼn artikel 21-maatskappy, terwyl Paardekraal by Krugersdorp en Majuba tussen Volksrust en Newcastle byvoorbeeld ook aan private maatskappye behoort.

Die Vrouemonument in Bloemfontein. (Argieffoto)

Die Vrouemonument in Bloemfontein is ook ʼn “geprivatiseerde, nie-staatlike onderneming” en die instandhouding daarvan geskied deur en onder leiding van die Nasionale Vrouemonumentkommissie.

Toekoms van erfenisbestuur

Langner meen die staat gebruik subsidies wat bedoel is vir onderhoud van monumente en erfenisterreine om die regering se “verstikkende ideologiese agenda” op erfenis af te dwing.

Hy sê ʼn subsidie aan ʼn museum of ʼn monument gee nie die staat die mag om “Afrikaans uit te vee”, of voorskriftelik te wees oor hoe ʼn monument of museum moet lyk, of wat die naam daarvan moet wees nie.

Die fout kom nie net in by Mthethwa se belaglike plan nie; dit is bloot die gevolg van die fout dat die staat die Afrikaanse Taalmonument besit en beheer.

Ook Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die geld wat die staat aan ʼn kulturele instelling betaal, is nie ʼn guns nie. Dit kom immers uit belastingbetalers se sak.

Buys sê die minister probeer ʼn skuldgevoel onder mense aanwakker in ʼn poging om hulle te verlam. “Ons gaan ons nie laat afskrik nie. Die visie vir die toekoms moet sterker as die geheue van die verlede wees,” sê hy.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging en Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. (Foto: Maroela Media)

Hy sê die staat gaan genader word om monumente en standbeelde wat onder regeringsbeheer is, met hul subsidies na gemeenskappe oor te dra. Maatskappye sonder winsoogmerk sal vir die doel gestig word, of die subsidies kan na die Erfenisstigting oorgedra word.

Volgens Buys verbied niks die minister om ʼn monument na ʼn gemeenskap oor te dra nie – staatsubsidie ingesluit. Hierdie oordrag moet egter sonder politieke voorwaardes wees en die geld wat daarvoor bewillig word, moet behoorlik bestee word.

Hy sê taal- en kultuurgemeenskappe moet self in staat gestel word om hul kulturele bates te bewaar deurdat die beheer van monumente en standbeelde, saam met die belastinggeld wat daarvoor benodig word, vanaf die staat aan gemeenskappe oorgedra word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.