Aitsas 2022: En die wenners is…

Irene-Louise van Wyk wen die toekenning vir suksesvolste Afrikaanse snit: vroulik. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Corlea Botha, Ricus Nel, Spoegwolf en Esté Gross is net ʼn paar van die Afrikaanse kunstenaars wat Dinsdagaand tydens die derde jaarlikse Aitsa-musiektoekennings vereer is.

Die toekenningsgeleentheid is by die Choose Life-ouditorium in Moreletapark, Pretoria, aangebied en die room van die Afrikaanse musiekbedryf het die geleentheid bygewoon.

Daarby was Spoegwolf, Demi Lee Moore, Vatvas Dansorkes en Elvis Blue ook in die ry van wenners.

Twee spesiale kategorieë vir die suksesvolste Afrikaanse liedjie deur ʼn mans- sowel as ʼn vrouekunstenaar – wat deur syfers van stromingsplatforms soos Spotify, Apple Music, YouTube Music en YouTube Video aangedui is – is ook aangekondig.

Riaan Benadé en Jay du Plessis se “Rowwe bliksem” asook Irene-Louise van Wyk se “Tekkies brand” is onderskeidelik met dié toekennings vereer.

Corlea se “Haat” is as luisterliedjie van die jaar aangewys, terwyl Ricus Nel se “Ploeg jy?” as popliedjie van die jaar en Esté Gross se “Hemelruim” as geestelike liedjie van die jaar aangewys is.

Vervaardigers agter die skerms is ook vereer: Johan C Venter en Eric T Graham is met die toekenning vir musiekvideo van die jaar vereer vir Riaan Benadé se “Vat ʼn bietjie”. Murray Lubbe is bekroon met die prys vir vervaardiger van die jaar vir die Reën-treffer “Vrystaat vlaktes”.

ʼn Rekordgetal van 24 287 stemme is vanjaar deur lede van die publiek uitgebring, terwyl 389 inskrywings van kunstenaars ontvang is.

Die stemme is volgens ʼn voorafbepaalde formule met die beoordelaarsterugvoer gekonsolideer en deur ʼn onafhanklike ouditeursfirma geverifieer.

Die wenners van vanjaar se 14 kategorieë is:

  • Luisterliedjie van die jaar –   Corlea Botha, “Haat”
  • Vervaardiger van die jaar – Murray Lubbe, “Vrystaat Vlaktes” vertolk deur Reën
  • Popliedjie van die jaar – Ricus Nel, “Ploeg jy?”
  • Nuweling van die jaar – Eloff, “Johnnie Blou”
  • Alternatiewe/rockliedjie van die Jaar – Spoegwolf, “Vergeet”
  • Boeremusiekliedjie van die jaar – Vatvas Dansorkes, “Volstruis Vastrap”
  • Geestelike liedjie van die jaar – Esté Gross, “Hemelruim”
  • Instrumentale liedjie van die jaar – Scheppel, “Toe vind ek jou”
  • Liedjieskrywer van die jaar – Elvis Blue, “Meer as genoeg”
  • Musiekvideo van die jaar – Johan C Venter en Eric T Graham, “Vat ʼn bietjie” vertolk deur Riaan Benadé
  • Kunstenaar van die jaar –  Demi Lee Moore
  • Afrikaanse liedjie van die jaar – Jo Black en Refentse, “Rig jou oë na die berge”

Mimi Coertse, die 90-jarige sopraan, is tydens die toekenningsgeleentheid vereer vir haar lewenslange bydrae tot die musiekbedryf en die Afrikaanse kunslied in besonder.

Die Aitsa-trust het ook vanjaar hande gevat met Solidariteit Helpende Hand se Moot-Wes-tak en Pretoria FM om Kersgeskenke vir bejaardes in munisipale aftreeoorde in dele van Pretoria bymekaar te maak. Honderde Kersgeskenke is deur gaste by die toekenningsaand vir dié projek geskenk.

Volgens Willie Spies, voorsitter van die Aitsa-trust, is dit ʼn voorreg om op dié manier terug te ploeg in die gemeenskap.

“Ons bedank hartlik elke persoon wat ʼn bydrae gemaak het om bejaardes se feesseisoen meer rooskleurig te maak,” het hy gesê.

Die Aitsa-musiektoekennings sal weer in September 2023 uitgedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kaplyn ·

Afrikaans bly maar ‘n skeppende taal! Baie geluk en baie dankie aan al die wenners en mense en organisasies wat bygedra het tot hierdie voortreflike aand!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.