Al hoe meer in Kaapstad vir ‘dronkbestuur’ vas

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Wes-Kaapse regering/Twitter)

Die Stad Kaapstad se wetstoepassingsowerhede het die afgelope week hul hande vol gehad met inhegtenisnemings wat met byna 25% toegeneem het in vergelyking met die vorige week.

Die skerp styging word toegeskryf aan die meeste mense wat die afgelope naweek salarisse ontvang het.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die aantal inhegtenisnemings van vermeende dronkbestuurders het verlede week verdubbel van 38 tot 68 “soos die norm oor die betaalnaweek geword het”.

In die geheel is 330 verdagtes vir allerlei oortredings in hegtenis geneem en byna 51 000 boetes is opgelê. Die week tevore is 267 inhegtenisnemings gedoen.

“Die tendens is nie verbasend nie, aangesien ons dit nou al op sekere tye van die maand verwag, veral rondom maandeinde,” sê Smith.

Die metropolisie het die afgelope naweek altesame 54 mense in hegtenis geneem en 1 640 boetes opgelê vir allerlei verkeersoortredings.

Beamptes het Vrydag met behulp van kringtelevisieoperateurs ʼn verdagte vasgetrek wat by ʼn motor op Strandstraat in die middestad ingebreek het. Die 43-jarige verdagte was in die besit van ʼn skootrekenaar en is na die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie geneem waar hy aangekla is van roof en opsetlike saakbeskadiging.

Sondag het die metropolisie voertuigkontrolepunte in Eersterivier en Mfuleni opgestel en 14 verdagtes is in hegtenis geneem vir onder meer dronkbestuur, die besit van dwelms en ontsnapping uit aanhouding. Die verdagtes, tussen 24 en 47 jaar oud, is by Kleinvlei- en Mfuleni-polisiestasie aangehou.

Op dieselfde dag het kringtelevisieoperateurs ʼn vermeende dwelmtransaksie by ʼn taxistaanplek opgemerk en beamptes is ontbied om ondersoek in te stel. Met die beamptes se aankoms op die toneel het hulle twee verdagtes betrap wat in die besit van Mandrax en tik was. Albei is in hegtenis geneem.

Kaapstad se verkeersdienste het ook 70 motoriste vasgetrek, van wie 62 vir vermeende dronkbestuur en agt vir roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem is.

Beamptes het 46 678 oortredings aangeteken, 220 voertuie geskut en meer as 2 000 lasbriewe vir inhegtenisnemings uitgereik.

Hul wetstoepassingseweknieë het 206 verdagtes in hegtenis geneem en 2 660 kennisgewings vir verskeie oortredings uitgereik.

Smith sê ongeag hoe hard wetstoepassingsowerhede werk om oortreders vas te trek, beteken dit niks as die strafregstelsel nie stappe doen om die oortreders te straf nie.

“Die afgelope naweek het een van die mense wat in hegtenis geneem is, erken dat hy ʼn gewoonteoortreder is wat nog nie die binnekant van ʼn hof gesien het nie. Dit is ontnugterend om hierdie stories te hoor.

“Dit is geen wonder dat oortreders onbeskof genoeg is om hul slegte gedrag voort te sit nie, want op die oog af blyk daar geen werklike gevolge te wees nie,” sê hy.

“Ons beamptes sal egter voortgaan om die wet na die beste van hul vermoë toe te pas, veral namate somer aanbreek en ons meer verkeer op ons paaie sal hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

marius ·

Ten minste word wetgewing toegepas. Kom kyk hoe lyk dit in Limpopo.

Wikkie ·

Ek stem, ek kom van Limpopo af, maar woon al 22 jaar in Gauteng. Jy moet kom kyk hoe bestuur mense hier. Dronk of nugter, hulle word nie vervolg nie, want wetstoepassers is self of korrup of onbevoeg, of daar heers ‘n totale tekort aan hulle.

Misky ·

Daai syfer sal so lyk omdat Kaapstad dit bekend maak en hul werk doen. Ander provinsies, word dit eenvoudig nie gedoen nie.

Tink ·

Hier by ons in Limpopo is daar meer dronk verkeersbeamtes as motoriste, of laat hulle maklik omkoop

Bolandse Nooi ·

Ja, en dis hoekom ons deesdae oorval word met “inkommers” uit Gauteng, KZN, Noord-Wes en dies meer.

Delia ·

Die ons en die inkommers …..dis hoekom die blankes nooit sal saamstaan.

Karoo ·

Woon al 25 jaar in my Karoo dorp… nog steeds net ‘n “inkommer”. LoL!!!

Hannelie ·

Julle verstaan nie, hier in die Wes-Kaap is baie wyn.
Bly dat Kaapstad nog op dit is.

Mariana ·

Kan net sê welgedaan aan die beamptes. So word ons paaie veiliger gehou. Dronkbestuurders gevaar vir almal op die pad.

piket ·

Dis reg dat hier baie streng wetstoepassing en ook regstoepassing gevolg word.
Drankmisbruik is die oorsaak van baie smart!

Truman Burbank ·

Daar behoort buite elke kroeg, veral Naweke, breathalyzers gedoen te word voor mense by hullle motors inklim

Karoo ·

Hier by ons in die Karoo is daar so baie “potholes” dat as jy reguit ry, weet die Polisie en Verkeersbeamte jy is dronk.

Bolandse Nooi ·

Kyk hier, as die owerhede nou geld wil maak, moet hulle hier in Worcester so enige tyd vanaf 02:00 soggens bietjie “straat-blokkades” in die dorp hou. 2/3 van die bestuurders daardie tyd van die oggend, is LEKKER gekuier as hulle van hulle uithangplekke terugkeer.

Karoo ·

Neeeeee wat, daai tyd van die oggend…. dit klink mos soos WERK. Soos Ouma Sarie van die Karoo se…. “ek is nie ‘n werkerige mens nie” lol!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.