Al meer SA’ners slagoffers van bedrog

(Argieffoto: Maroela Media)

Aanlyn bedrog in Suid-Afrika het die afgelope jaar skerp gestyg met talle niksvermoedende slagoffers wat as gevolg hiervan duisende rande uit die sak gejaag is.

Volgens die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) kan die onlangse toename in bedroggevalle moontlik toegeskryf word aan data-oortredings waartydens kliënte van groot ondernemings se persoonlike inligting gesteel is.

SAFPS het inligting ingewin oor die stand van bedrogsake die afgelope jaar deur die bedrogklagtes wat banke en ander kredietverskaffers van hul kliënte ontvang het na te gaan.

Luidens die ondersoek het bedrogklagtes in sommige provinsies sedert verlede jaar met meer as 100% toegeneem. Meer as die helfte van alle bedroggevalle is in Gauteng – die ekonomiese middelpunt van die land – aangemeld.

“Voorvalle van bedrog het ook in April skerp gestyg, waarskynlik omdat inligting wat tydens onlangse datadiefstal verkry is, nou gebruik word om toegang tot geld te kry,” sê Manie van Schalkwyk, uitvoerende hoof van SAFPS.

Talle groot ondernemings in die land, soos Dis-Chem en selfs die kredietburo TransUnion, is die afgelope tyd deur kuberkrakers geteiken waartydens kliënte se persoonlike inligting óf gebuit óf vir ʼn losprys geëis is.

Hoewel ondernemings soms van die inligting kan terugwin sonder dat erge skade aan hul kliënte aangerig word, word van die inligting dikwels aan die hoogste bieër verkoop indien die onderneming self nie opdok nie.

Volgens SAFPS se ondersoek het bedrogklagtes in Gauteng sedert verlede jaar met 117% toegeneem. Die situasie lyk elders egter net so beroerd.

In KwaZulu-Natal, waar meer as ʼn kwart van die bedroggevalle in die land aangemeld word, het klagtes wat verband hou met bedrog sedert 2021 met 106% toegeneem.

Terselfdertyd is daar ʼn toename in bedrieglike aktiwiteite in die Wes-Kaap aangeteken, met 133% meer voorvalle as verlede jaar. Slegs 8% van alle aanlyn bedroggevalle in die land kom in dié provinsie voor.

“Hierdie syfers is veral kommerwekkend gegewe die ekonomiese klimaat waarin ons tans is,” sê Van Schalkwyk.

“Verbruikers worstel met ʼn beduidende spiraal van hoë inflasie en soek maniere om te oorleef. Dit maak hulle toenemend kwesbaar vir swendelary en skemas wat deur hoogs gemotiveerde en bekwame bedrogsindikate uitgevoer word.”

ʼn Skerp toename in bedrog is ook in 2020 waargeneem, wat weer effens afgeneem het in 2021. Dié toename kan waarskynlik toegeskryf word aan die toename in digitale transaksies eerder as regstreekse transaksies tydens die Covid-19-pandemie.

Dít is hoe boosdoeners jou vang

Volgens Van Schalkwyk is daar ʼn aantal maniere waarop misdadigers alledaagse mense uit hul geld bedrieg.

Een van die algemeenste maniere is deur nabootsing, waartydens bedrieërs hul slagoffers met behulp van ʼn metode genaamd kuberroofaas of “phishing” uitlok. In vergelyking met 2021 het dié soort bedrog met meer as 250% toegeneem in die eerste vyf maande van die jaar.

“Dié verskynsel kan weer gekoppel word aan die onlangse groot data-oortredings wat by ondernemings regoor die land plaasgevind het,” sê hy.

“Dié data-oortredings het benadruk hoe kwesbaar persoonlike inligting is en hoe toeganklik dit is vir die gemotiveerde misdadiger.”

SAFPS het ook ʼn toename in gevalle opgemerk waar mense as sogenaamde geldmuile gebruik word. Dit is wanneer ʼn misdadiger iemand nader om sy rekening te gebruik om geld aan ʼn familielid in ʼn ander land te stuur.

“Hoewel só ʼn versoek onmiddellik ʼn rooi vlag behoort te wees, is dit verbasend hoeveel mense gewillig is om gehoor te gee daaraan in die hoop om die ander persoon van hulp te wees. Ongelukkig maak dié praktyk dan die deur oop vir bedrieërs om hul slagoffers uit te buit,” sê Van Schalkwyk.

Dié metode van bedrog pleeg het in die loop van die jaar met byna 100% toegeneem.

Hoop vir die toekoms

Ten spyte van die feit dat daar aansienlike toenames in bedroggevalle is, wys Van Schalkwyk daarop dat daar ruimte is vir optimisme.

Hy meen dat Suid-Afrikaners maklik hulself teen bedrogmisdade kan beskerm deur waaksaam te bly en hul bankbesonderhede soos goud te bewaar. “Biometriese intekenmetodes is ook ʼn gesofistikeerde manier om jou geld te beveilig en finansiële misdade te voorkom.

“Al hoe meer mense raak ook bewus van die metodes wat misdadigers gebruik om bedrog te pleeg, en ook hoe om hulself daarteen te beskerm,” sê hy.

“Onthou, die persoon wat by jou om hulp aanklop of jou inligting soek is dalk iemand wat werklik in die nood is of vir ʼn amptelike onderneming werk, maar hy of sy kan ook ʼn bedrieër wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

melaney ·

Jan publiek ontvang baie e-poste, oproepe en sms’e per dag van onbekendes. Van die oproepe (cold calling) is van maatskappye wat hul dienste wil verkwansel. Wat het van die Popi Act geword?

Koen ·

Die Popi wet bepaal nie dat niemand jou kan bel nie. Gaan lees die wet en benagtig jouself voordat jy jou naam plak.

Delia ·

Ek dink wat Melaney bedoel Koen, is dat lyste met ons nommers dalk vanuit n maatskappy uitgegee of verkoop word.
Vandaar die gedagte oor die POPI Act.

melaney ·

Dankie Delia. Jy is heeltemal reg. Dit is presies wat ek bedoel het!!!!

RS ·

Omdat mense al meer desperaat raak vir geld verligting in vandag se tye, is dit al meer makliker om mense met een of ander slenter te vang.

SjN ·

Die skelms is baie profesioneel en hul optredes loop seepglad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.