Al minder ouers betaal skoolfonds

(Argieffoto: Unsplash)

Afrikaanse skole se skoolfonds styg volgende jaar wéér met meer as wat die huidige inflasiesyfer is en al meer ouers sukkel om by te hou. Kenners waarsku toenemende finansiële druk op ouers én skole kan ʼn bose kringloop tot gevolg hê, waar skole al duurder word en al minder ouers daarvoor kan betaal.

Sommige skole vind egter kreatiewe oplossings om dié probleem die hoof te bied.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het verlede jaar ʼn vierjaarlikse omgewingsanalise gedoen, waar die styging in skoolfonds ook gemeet is.

Volgens Riaan van der Bergh, adjunk-uitvoerende hoof van Fedsas, het hoërskole se skoolfooie tussen 2013 en 2022 gemiddeld met 10,54% per jaar gestyg. Dit terwyl inflasie op 5% gestaan het.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, meen skole skarrel nou om “op te maak” vir die uitermatig klein verhogings wat hulle sedert die Covid-19-pandemie gehef het.

Maar Van der Bergh sê enige skerp stygings moet dadelik gevaarligte laat flikker “bloot omdat die gemiddelde ouer nie hierdie soort verhogings kan absorbeer nie”. Tans doen gemiddeld 20% van ouers aansoek om kwytskelding van skoolfonds. Fedsas se syfers wys daarop dat ʼn verdere 8% net glad nie betaal nie.

ʼn Gautengse ouer wat tans deur ʼn uitermatig hoë styging in skoolfonds in die gesig gestaar word, sê dit gaan hom sowat R450 per maand meer kos om een kind op skool te hou.

Die ouer, wat op versoek van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, sê sy kind se skool wou aanvanklik ʼn veel hoër styging implementeer, wat ʼn maandelikse verhoging van R600 tot gevolg sou gehad het.

“Die ouers het bloot geweier om dit te doen; niemand kan dit bekostig nie,” sê hy.

“Hoewel die styging nou minder is, is dit steeds ʼn skok. Ek sal wel die geld iewers kan uitkrap, maar ek voel jammer vir die ouers wat dit net nie kan bekostig nie.”

Wanbetaling ʼn groot probleem

Van der Bergh sê dit is altyd moeilik vir skole om ʼn groot verhoging te regverdig, juis omdat elke situasie uniek is, en oor sy eie narratief beskik.

“Skerp verhogings is dalk omdat ʼn spesifieke projek soos sonpanele, of tegnologiese opgraderings befonds moet word, of die personeelkorps uitgebrei word.”

Die rede is egter dikwels omdat al meer ouers aansoek doen om kwytskelding van skoolfonds en sommige bloot ophou betaal.

“Drastiese stygings in skoolfonds het in baie gevalle ʼn negatiewe impak op ʼn skool se inkomstestaat, omdat al meer ouers kwytgeskeld word,” sê Van der Bergh.

“Dit is omdat die bedrag skoolfonds ʼn veranderlike in die formule is, wat gebruik word om kwytskeldings te bereken.”

Van der Bergh sê Fedsas is reeds besig om met die onderwysdepartement in gesprek te tree om die formule en tabelle vir kwytskeldings te hersien.

Maroela Media se eie peiling, waaraan byna 4 800 ouers deelgeneem het, het aan die lig gebring dat sowat ʼn derde van respondente (31%) steeds skoolfonds betaal, maar weens skerp stygings in skoolfonds, al meer sukkel om by te bly.

Altesame 18% van die respondente het aangedui dat hul kinders se skoolfonds agterstallig is weens finansiële uitdagings, terwyl 8% ten volle of gedeeltelik van skoolfonds kwytgeskeld is.

ʼn Verdere 8% van ouers het aangedui hulle betaal geensins skoolfonds nie en het ook nie aansoek om kwytskelding gedoen nie.

ʼn Ouer van ʼn hoërskoolleerder sê dit het by ʼn ouervergadering aan die lig gekom dat kwytskeldings by sy kind se skool al byna 50% beloop.

Volgens Van der Bergh wissel die kwytskelding van skoolfonds van skool tot skool, maar kan tot soveel as 30% beloop by skole wat minder as R17 000 per jaar vir skoolfonds hef.

Hoe nou gemaak?

(Argieffoto: Unsplash)

Van der Bergh wys daarop dat die volhoubaarheid van skole afhanklik is van die deelname en bydraes van soveel as moontlik ouers.

“Dit is gevaarlik en onvolhoubaar as 40% of meer van die skool se ouers nie hul bydraes lewer nie, want dan is die las op betalende ouers net te groot vir die waarde wat hulle kinders by die skool ontvang,” sê hy.

“Skole moet ook fokus op die kernbesigheid, en versigtig wees vir die oordrewe besteding aan sekondêre funksies wat soms baie duur is.”

Hy sê wel ouers het steeds die grootste stem om ʼn begroting, soos voortgestel deur ʼn skool se beheerliggaam, te aanvaar.

“Ouers moet die moeilike vra oor aanstellings, kwytskelding, ekstra vergoeding en projekte vra, en uitvind wat noodsaaklik en wat ʼn luuksheid is,” sê Deacon.

Of die onderwysdepartement meer geld aan skole moet gee, is ʼn kwessie wat reeds hewige debat ontlok het, sê Van der Bergh.

Deacon meen as die onderwysdepartement voldoende poste vir opvoeders en terapeute volledig befonds “en bloot hul plig volledig en betyds nakom, gaan ons reeds in ʼn baie beter posisie wees”.

Sommige skole het egter reeds met kreatiewe planne vorendag gekom om te verhoed dat die begroting net uit ouers se sakke befonds word. Een só ʼn skool is Hoër Tegnologiese Skool John Vorster, wie se beheerliggaam daarin kon slaag om die verhoging in skoolfonds tot 8,1% (R165 per kind) te beperk.

Die beheerliggaam het reeds drie jaar gelede planne bedink om die skool se inkomste te verhoog, sonder om ouers daarvoor te belas.

Dié ingrypings het reeds toegesien dat die skool se skenkings met 400% gestyg het.

Dr. Marlize Kantor, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê 21% van ouers is van skoolfonds kwytgeskeld, daarom moes hulle vinnig planne bedink om die verliese aan te vul.

“Ons het begin deur te sê dat projekte deur middel van werwing en skenkings gedra moet word, indien dit suksesvol deurgevoer wil word. Dit is presies wat ouers, leerders en onderwysers toe gedoen het,” sê sy.

Die skool het ook twee organisasies sonder winsbejag gestig. Die een is ʼn klerewinkel wat deur ouers bestuur word. “Al die wins word in die skool teruggeploeg en word deels gebruik om akademiese uitgawes te finansier. Die ander organisasie beoog om donasies in te win om sportsoorte wat minder steun geniet, soos skaak of jukskei, te ondersteun.”

“Ons groot doel is om self aan die probleem te werk, en nie ouers te belas nie,” sê Kantor.

“Dit is uiteraard nodig dat die skool akademies gefokus is, en dat die beheerliggaam die gemeenskap betrek by inisiatiewe om die skool op te hef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nommer 7 ·

Onregmatige skoolgeld besteding soos beurse en bykomemde vergoeding vir skoolhoofde (sonder dat hul bykomende pligte verrig), sal groot verligting aan ouers gee!

Di ·

In baie van vandag se skole word daar van kinders se ouers verwag om meer skryfbehoeftes te koop volgens hulle “lyste” want daar moet gesorg word vir DIE wat glad nie skoolfonds betaal OF nie skryfbehoeftes “kan bekostig nie”. Dink dis ook die rede dat die skoolfonds bly opgaan sodat “betalende” ouers vir die res kan opmaak

electricmango ·

Dis moeilik om te betaal wanneer jy nie waarde kry vir jou geld nie. Die omstandighede in n klaskamer is n bittere pil om te sluk, die wanbetaling was nooit so groot probleem nie maar dinge het drasties verander en baie mense volg nou die pad van 80% skoliere wat glo hulle het die reg tot vry onderwys.

Jaco ·

Wat dan nou van die ANC se Freedom Charter wat gesê het “free education for all”?

Sebastiaan ·

Ek is een van die ouers wat nie meer kan betaal nie. Met inperking het ek elke maand betaal, selfs terwyl ek ‘n “paycut” van 30% vir 3 maande gehad het. Die onderwysers het absoluut niks gedoen nie, maar het volle salaris op ons dorp ontvang. PS…hoop nie my vrou lees nie,want sy is ook een van die onderwysers.

Jedi Knight ·

In die vroeë tagtigs was ek in n laerskool waar die skoolfonds R16 per jaar PER GESIN was, ongeag hoeveel kinders in die gesin. Ja, R16. Selfs teen n inflasiekoers van 10% per jaar oor 40 jaar, is dit vandag slegs sowat R800 per jaar PER GESIN.

Karoo ·

Het Malema van die EFF nie laas jaar gese hy gaan skoole bou nie. En as die Bella inkom… dan is skool mos “verniet”?

Dandeleen ·

Skool geld is statutere skuld wat tot 30 jaar teen jou gehou kan word, maar ouers betaal eerder hulle bloeitjies se DSTV, wil mos nou nie dat hulle verveeld by die huis sit nie, Tops is ook hoog op die lys as mens na bank state kyk. As jy nie kan skoolgelde betaal nie, doen aansoek vir vrystelling, as jy nie wil betaal nie moet jy maar jou kind uit die model C skool uithaal en in ‘n goverment skool gaan sit en kyk wat kry jy dan vir die opleiding wat gratis is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.