Aliwal-Noord, Lady Grey onder wit komberse ná haelstorms

Die hael het Sondag op dele van Aliwal-Noord en Lady Grey toegesak. (Foto: Amanda Rheeder/Facebook)

Dele van die Vrystaat en die Oos-Kaap is die afgelope naweek in wit getooi – só dat dit gelyk het asof daar sneeu in die strate van Aliwal-Noord en Lady Grey geval het.

Ooggetuies wat Sondag deur die wit komberse moes ploeg sê dit was ʼn reusehaelstorm wat die strate so wit getooi het. Sosialemediagebruikers het gespekuleer dat dit dalk sneeu is, maar foto’s van reusehaelkorrels het enige gedagte daarvan uit die weg geruim.

Amanda Rheeder het foto’s van die weersverskynsel op Facebook gedeel en gesê hulle moes boonop van die pad af trek weens die verkeersopeenhoping wat die hael veroorsaak het.

Dituo Tawana, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sê hulle het Sondag oproepe oor die weerverskynsel ontvang.

“Weens die opwaartse lugstroming wat in die Noord-Kaap begin en oor die Vrystaat en Oos-Kaap beweeg het, was daar veral baie reën, donderstorms en selfs sneeu in van die gebiede,” sê sy.

Sy sê dat daar vandeesweek nog verdere reën, donderstorms en sneeu oor die ooste van die land verwag word.

(Foto: Amanda Rheeder/Facebook)

“In hierdie stadium kan daar dalk sneeu oor die hoogliggende dele van die Oos-Kaap en Lesotho verwag word. Daar sal egter nie ʼn beduidende hoeveelheid daarvan wees nie.”

Die weerdiens verwag dat die temperature in die oostelike dele van die Oos-Kaap teen Vrydag erg gaan daal namate winde vanaf die kus na die binneland beweeg.

Hiermee saam beweeg die reën wat die afgelope naweek oor dele van Limpopo, Mpumalanga en Gauteng uitgesak het ook na die ooste van die land.

“Die reën is besig om oor die sentrale en oostelike dele van Limpopo op te klaar, maar beweeg nou na die oostelike dele van die land,” sê Tawana.

“Daar sal beslis vandag geïsoleerde reën- en donderbuie oor die ooste van die land wees, wat na verwagting tot Woensdag sal duur. Daarna sal die gebied slegs gedeeltelik bewolk wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.