Anakonda los in KZN

Die anakonda het tussen Woensdagaand en Donderdagoggend ontsnap. (Foto: Verskaf)

ʼn Anakonda seil iewers in die strate van Phoenix in KwaZulu-Natal rond nadat dié 2 m lange reptiel vroeër vandeesweek uit ʼn tydelike skuiling ontsnap het.

Die slang het glo tussen Woensdagaand en Donderdagoggend ontsnap en is sedertdien nog nie met ʼn oog gesien nie.

Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), het Vrydag aan Maroela Media gesê dat die eienaar van die slang kopkrap oor die skielike verdwyning.

“Die eienaar sê hy het die slang Woensdagaand laas in ʼn tydelike skuiling gesien, maar weet steeds nie hoe die slang daarin geslaag het om daaruit te ontsnap nie.”

Die swart en geel slangwyfie het in die omgewing van Starwood ontsnap en is moontlik steeds in dié omgewing.

Rusa het inwoners van dié gebied gevra om op die uitkyk te wees vir die slang.

Die ontsnapte anakonda. (Foto: Verskaf)

Hoewel hierdie anakonda-spesie nie giftig of gevaarlik is vir mense nie, maan die slangkenner Johan Marais dat die anakonda wel kan byt.

“ʼn Geel anakonda kan onaangenaam raak wanneer hy byt, en ʼn mens sal redelik bloei as hy jou bykom,” het Marais aan Maroela Media gesê.

“Andersins hou die slang nie ʼn gevaar in nie, ook nie vir kinders nie.”

Marais sê die betrokke anakonda is nog redelik klein, aangesien dié slange tot 5 m lank kan word. Daarom is dit hoogs onwaarskynlik dat sy ʼn hond of ʼn kat sal aanval.

“Piepklein diere kan dalk geteiken word, maar andersins is daar nie eintlik ʼn gevaar nie.”

Die anakonda, soos verskeie luislange in die provinsie, is veral goed daarmee om weg te kruip en sal dikwels tussen plante en in donker plekke skuil.

“Iemand gaan omtrent oor die anakonda moet val voordat sy opgemerk word. Maar indien ʼn lid van die publiek wel die anakonda teëkom, moet hulle die slang van ʼn afstand af dophou en ʼn slangverwyderaar ontbied,” sê hy.

Marais het benadruk dat daar nie enige rede is vir mense om nou paniekerig te raak nie.

  • Klik hier vir kontakbesonderhede vir ʼn slangverwyderaar in jou omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Plaaskind ·

Nou gaan die arme slang weer die pakslae moet vat vir die onnosel mensdom.

Blomme ·

Laat ń paar slange los in die strate veral in die aand. Siende die polisie nie instaat is om die geweldadige skurke in toom te hou.. Sal dit dalk goeie afskrikmiddel vir die middenagtelike boewe wees om liewer in hulle huise te bly. Goeie beheer vir SA se geweld.

Marina ·

Ek het nie geweet ons het Anacondas in SA nie of mis ek iets?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.