‘ANC verlig dat Guptas-uitlewering misluk het’

Minister Ronald Lamola (Foto: @RonaldLamola/Twitter)

Opposisiepartye het die regering daarvan beskuldig dat hy nie alles in sy vermoë gedoen het om die Guptas na Suid-Afrika uit te lewer nie.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het egter tydens Dinsdag se dringende debat in die Nasionale Vergadering oor Suid-Afrika se mislukte aansoek aan die Verenigde Arabiese Emirate vir die uitlewering van Atul en Rajesh Gupta, teruggekap en gesê die regering het alles reg gedoen in die verband.

Volgens Lamola probeer opposisiepartye net politieke punte wen deur aan te voer die Suid-Afrikaanse regering het misluk aangesien hulle wel die ingewikkelde aard van uitlewerings verstaan.

“Ons sal verseker dat die Guptas terugkom Suid-Afrika toe en rekenskap gee vir hul sondes en misdade. Dit mag ʼn tyd neem weens die uitgerekte aard van uitlewering, maar geregtigheid sal hulle eendag in die howe van Suid-Afrika in die gesig staar,” het Lamola gesê.

Good-LP Brett Herron, wat die debat sowat twee maande gelede aangevra het, het gesê volgens die VAE se weergawe van gebeure is Suid-Afrika se uitleweringsaansoek nie met die nodige vasberadenheid deurgevoer om iets te kon vermag nie.

“Die minister se opmerking dat die uitlewering geweier is op ‘tegniese gronde’, blyk die VAE se weergawe te bevestig dat Suid-Afrika nie aan die wetlike vereistes van die uitleweringsooreenkoms tussen die twee lande voldoen het nie. Die versuim om die Guptas uit te lewer was ʼn verwoestende slag vir alle patriotiese en wetsgehoorsame Suid-Afrikaners.”

Daar is baie in die ANC wat ongetwyfeld ʼn sug van verligting geslaak het toe die aansoek om die Guptas aan Suid-Afrika te laat uitlewer misluk het, het Wouter Wessels, VF Plus-LP, gesê.

“ʼn Hofsaak in Suid-Afrika waarby die Guptas betrokke sou wees, sou ongetwyfeld ʼn miernes van korrupsie oopkrap waarby vele ANC-hooggeplaastes betrek sal word. Hierdie mislukte aansoek het daarom heel waarskynlik meer te make met opsetlike onbevoegdheid as ware onbevoegdheid, hoewel dit onder ʼn ANC-regering altyd ʼn rol speel.”

Wayne Thring, ACDP-LP, meen die uitleweringskwessie sou nie eens ter sprake gewees het nie indien die Guptas nie beskerm en toegelaat is om die land te verlaat ondanks dwingende getuienis teen hulle nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Harley Davidson ·

Die regime sal verlig wees,want die Guptas moes vennote in hoë poste gehad het om te doen wat hulle gedoen het.

Wondermaarnet ·

Die ANC sal verheug wees, want dan word die kaders se betrokkenheid ook onder die mat ingevee, soos gewoonlik.

Gaitsigubib ·

Afriforum, kan julle nie vir Gerrie Nel inspan om hierdie manne uitgelewer en op verhoor te kry?

Elma ·

Waarom moet hulle terugkom SA toe? Net om hier beskerm te word deur hulle maatjies in die regering?

Sê maar net ·

Die wiel gaan draai. Miskien stadig, maar draai sal hy. Al is dit eers eendag op die Oordeelsdag. Hulle sal almal, GEEN verskoning hê nie. ANC inkluis.

SjN ·

Kyk hoe maklik het hul vir Thabo Bester en kie gaan haal en vervoer met n luukse straler, hier is klomp vrywilligers wat die Zuptas graag sal wil gaan haal teen markverwante vergoeding.

annie ·

Wayne is reg. En die Guptas sal nooit uitgelewer word nie. Soos Zuma nooit rerig vervolg dal word nie of dat Ramaphosa verhoor sal word nie of… Ons kan so aangaan en aangaan. Dié land word deur marxiste beheer, onthou. Ons het in 1994 ‘n gruwlike fout gemaak en net Hemelse ingrepe sal ‘n ommekeer kan bring. Wat gaan ons doen om Genade te ontvang? Daar lê die oplossing. Aardse regters is nie te vertrou nie; te min mag of kop in een mus.

Cornel ·

Natuurlik is die korrupte regering verlig want hulle sou ALMAL saam gesink het. Dink ons in on-ingelig….

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die Marxistiese ANC as meerderheidsparty is ‘n grootse nasionale en internasionale ramp wat die Suid-Afrikaanse nasie getref het. Ons gaan vir dekades die negatiewe gevolge beleef.

Marthinus W ·

Net soos die ANC’s met die Guptas geheul het, is daar n klomp Kapenaars wat heul met skelms soos Bill Browder. Ons sal maar n ogie moet hou oor hulle ook.

Impact ·

Natuurlik sal hulle nie alles doen om die Guptas hier te kry nie, want dan gaan die skandevlek op die ANC soveel groter wees en meer hooggeplaastes gaan betrek word

JohanR ·

Maar net nog ‘n ANC liegbek wat Glynnis Breytenbach uitmekaar getrek het. Die ANC wil, en wou nooit he die Guptas moet ooit weer hier land want hulle het te veel om te verklaar, oor te veel ANC’s.

piket ·

Sou nogal oorweeg om hulle op sekere aanklagte kwyt te skeld op voorwaardelike voorwarde dat hulle alles wat hulle gedoen het en met wie bekend maak….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.