Atul Gupta kry nie SA paspoort – hof

Atul Gupta (Argieffoto)

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Vrydag beslis dat een van die Gupta-broers, Atul, inderdaad ʼn voortvlugtige van geregtigheid is en dus nie kwalifiseer vir ʼn Suid-Afrikaanse paspoort nie.

Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het die uitspraak verwelkom en sê dit wys dat die wet op almal van toepassing is.

Die uiteindelike uitspraak volg nadat Atul in September 2018 die konsul-generaal van Suid-Afrika in Dubai genader het om aansoek te doen vir ʼn paspoort. Dit nadat hy en sy broer, Rajesh, uit die land gevlug het.

Die departement het destyds al die aansoek van die hand gewys nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bevestig het dat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is vir beweerde bedrog en geldwassery.

In Februarie 2021 het Gupta die hof genader om die departement te dwing om ʼn hernieude Suid-Afrikaanse paspoort aan hom uit te reik. Hy het beweer dat hy as ʼn Suid-Afrikaanse burger die grondwetlike reg het om ʼn paspoort te hê. Hy het verder gesê dat die Grondwet bepaal dat niemand van sy burgerskap ontneem kan word nie.

Die departement het die aansoek teengestaan en aangevoer dat hy ʼn voortvlugtige van die gereg is en dus nie eens die reg het om die saak in die hof te betwis nie.

Die departement het toe Gupta uitgedaag om aan te dui of hy bereid sou wees om na Suid-Afrika te kom as die hof hom sou aansê om dit te doen.

Hy het egter gesê hy sal regsadvies oor die kwessie moet inwin.

Die regter in die saak het Vrydag gesê “as Gupta dan nie ʼn voortvlugtige van die gereg is nie, hoekom sou hy regsadvies benodig om na Suid-Afrika te reis”.

“Die feit dat hy regsadvies benodig spreek boekdele, aangesien hy iemand is wat besighede en eiendomme in die land besit,” lui die uitspraak.

Die regter het bygevoeg dat Gupta nie eens ʼn spesifieke adres in Dubai vir hom gegee het nie.

“Al wat hy blykbaar bereid is om te sê, is dat hy ʼn Suid-Afrikaanse burger is wat in Dubai woon. Niks verder word bekend gemaak nie. Ek is van mening dat dit nie ʼn oorsig is nie, maar opsetlik gedoen is.”

Daar is as sodanig bevind dat hy ʼn voortvlugtige van geregtigheid is en geen locus standi, oftewel reg, het om die hof te nader vir verligting nie. Gupta is ook aangesê om die koste van die aansoek te betaal.

Motsoaledi het op sy beurt gesê dat die uitspraak ʼn reuseoorwinning is vir geregtigheid.

“Die uitspraak wys dat jy nie aanspreeklikheid kan vryspring in ʼn land en ook dan probeer om die gebruik van sy amptelike dokumente te geniet wat uitsluitlik gereserveer is vir wetsgehoorsame burgers van die land nie.”

Hy het ook die kostebevel verwelkom, aangesien belastingbetalers nie nou verder daarvoor hoef op te dok nie. Die minister het die departement opdrag gegee om dadelik met die proses te begin om die koste van die hofsaak van Gupta te verhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marcello ·

Tien uit tien vir die regter, die Guptas moet maar braai in hulle eie vet.

OW ·

Gee vir hom ‘n paspoort en arresteer hom as Hy sy voete op SA bodem sit,tensy hy met ‘n vermomming probeer inkom.

Marius ·

Soos die spreekwoord se ” Meng jou met die semels en die varke vreet jou op” .
Laat dit vir almal in die hool n les wees , almal konkel vir sy eie sak .

Nie Verbaas ·

Het ons nie laas gehoor dat Gupta’s in Dubai gearresteer is nie of was die berig net ANC propaganda en leuens?

Piet 6 ·

Die laaste berig in die media verlede week was dat die uitlewering nog op koers is.

Nie Verbaas ·

Dan hoef hy homself nie te bekommer oor n paspoort nie. Hy gaan dit hopelik nie in die toekoms nodig hê nie.

Nie Verbaas ·

Neem in ag dat Eskom se “herstelplan” ook op “koers” is.

domheks ·

Zuptas al weer in die nuus. Afgesaag. Die skuim sal seker in nkandla land.

Pietertjie ·

Ek dink nie dit skeel die Guptas veel nie: hulle doen nog lekker sake agter die skerms, al sit hulle oënskynlik agter tralies. Hulle lakeie sit nog steeds is sleutelposisies ter lande.

Renier ·

Het hy n indiese passpoort? Hoe bly hy so lank in Dubai sonder n paspoort,of met een wat verval het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.