ʼn 32-jarige polisiebeampte van die Hartbeesfontein-polisie in Noordwes, is Woensdag in die vroeë oggendure doodgeskiet terwyl hy aan diens was.
Kol. Emelda Setlhako, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die beampte, ʼn konstabel en sy kollegas het gereageer op die alarm van ʼn bank in Hartbeesfontein, noordwes van Klerksdorp.
“ʼn Onbekende aantal verdagtes het op die bank toegeslaan. Die bank se alarm het afgegaan en die polisie en die bank se veiligheidsmaatskappy het gereageer,” het Setlhako gesê.
ʼn Veiligheidsbeampte was voor die polisie op die toneel.
“Die groep is verhinder om by die bank in te gaan en hulle het die veiligheidsbeampte se reaksievoertuig gekaap. Met die polisie se aankoms, het die verdagtes op die polisie losgebrand en die polisiebeampte noodlottig gewond.”
Die beampte se kollega het teruggeskiet, waarna die rowers in die gekaapte voertuig op die vlug geslaan het.
Die Valke ondersoek die voorval en ʼn volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur.
Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel. Sy het haar innige meegevoel met die beampte se familie, vriende en kollegas betuig. Sy het verder gesê die polisie sal alles doen om die “hartelose oortreders” aan te keer.
Die beampte se naam sal Vrydag bekend gemaak word.
Ek wonder hoe het hulle die veiligheids beamptes se voertuie gesteel.
Daar is rerig waar ni meer woorde om hierdie land se siek korrupsie te beskryf ni!!!! Baie sterkte aan di oorledene se familie
Dit sal nie srop nie hulle koop oralste onwettige ammunisie
Simpatie met die wat agter bly.
Ons is reeds in n baie donker periode vasgevang. Die slagoffers van al hierdie misdaad beleef hierdie werklikheid baie meer intens as diegene wat nog vry daarvan afgekom het. Hefaan le egter nog voor. Siener se ons sal nie ons hand voor ons gesig sien nie.