Beeldskone Bryoni op pad na Mej. Supranasionaal

Bryoni Govender, naaswenner in die 2023 Mej. Suid-Afrika-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Die plaaslike skoonheid Bryoni Govender sal in Julie vanjaar die Suid-Afrikaanse vlag by die 15de jaarlikse Mej. Supranasionaal-skoonheidskompetisie in Pole laat wapper.

Deelnemers van reg oor die wêreld sal op 6 Julie in Nowy Sącz meeding om die Mej. Supranasionaal-kroon.

“Ek is ongelooflik opgewonde en geëerd om die geleentheid te hê. Ek het onverpoosd gewerk om myself geestelik en fisiek vir die kompetisie voor te berei,” sê Bryoni oor haar deelname.

“Ek sê altyd die belangrikste ding vir my wanneer ek vir enige kompetisie voorberei, is om ʼn positiewe en gesonde gesindheid te hê en al die nodige werk te doen.

Al rus die Mej. SA-kroon tans op Natasha Joubert se kop, kan Bryoni as ʼn naaswenner namens Suid-Afrika aan internasionale kompetisies deelneem.

Naas Mej. Wêreld en Mej. Heelal word dié geleentheid as een van die wêreld se top- internasionale skoonheidskompetisies beskou.

Lalela Mswane, voormalige Mej. SA, het in 2022 geskiedenis by die Mej. Supranasionaal-kompetisie gemaak toe sy die eerste swart vrou geword het wat as die wenner gekroon is.

Bryoni glo haar ervaring op die Mej. Heelal-verhoog in November verlede jaar het haar ook ʼn goeie voorbereidingshupstoot gegee. Hier het sy teen 84 vroue van reg oor die wêreld meegeding en die top‑20 gehaal.

(Foto: Verskaf)

“Dit het my onskatbare lesse oor selfvertroue en genade geleer. Hierdie platforms vra meer as fisieke skoonheid; dit gaan daaroor om jou uniekheid te omhels. Ek het geleer om regop te staan, my waarheid te praat en myself met selfbeheersing te dra.

“Die kollig kan intimiderend wees, maar ek het besef dat egtheid helderder as enige kollig skyn.”

Chanique Rabe van Namibië het Mswane in 2022 as haar opvolger by Mej. Supranasionaal gekroon. (Foto: Verskaf)

Bryoni is vasberade om haar tuisland trots te maak, of sy nou met of sonder ʼn nuwe titel en kroon huis toe kom.

“Die liefde en ondersteuning wat ek ontvang is niks minder as hartverblydend nie. Suid-Afrikaners se aanmoediging, positiewe boodskappe en onwrikbare geloof vuur my vasberadenheid aan. Aan elke persoon wat my aangemoedig het, vriendelike woorde gestuur het of bloot in my droom geglo het, dankie. Julle is nie net toeskouers nie, julle is deel van hierdie avontuur.”

Bryoni, wat ʼn regsgraad aan die Universiteit van Johannesburg verwerf het en kort voor haar kroning as naaswenner van die Mej. SA-kompetisie as prokureur toegelaat is, het verlede jaar ʼn vrouebemagtigingsveldtog, Her Way Out, bekendgestel.

Maroela Media het vroeër berig die veldtog fokus daarop om Suid-Afrikaanse vroue van hul wetlike regte bewus te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vonny ·

Bryoni jy is pragtig van binne òòk!…
en jy gaan die kroon huis toe bring!!!

africangrey ·

Sy moes definitief mej sa gewees het.
Kan maar net kopstud oor die keuse wat toe gemaak is.
Sy is beeldskoon, en sy gan die kroon huis toe bring, hopenlik is die beoordelaars die keer sonder katterakte

isabelle ·

ALL THE BEST…natuurlike skoonheid Mooi vel,goed versorg…

miche ·

Sy is wen-materiaal. Sy moes Mej.SA gewen het. Ek hoop hierdie keer werk dinge in haar guns.

Bolandse Nooi ·

Skoonheidskompetisies is uitgedien – net my mening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.