Beloning uitgeloof ná moord op Duitse toeris

Numbi-hek (Foto: TripAdviser.com)

Die Kruger-Laeveld-sakekamer het ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisname en vervolging kan lei van diegene wat vir die moord op ʼn Duitse toeris in Mpumalanga verantwoordelik is.

Afgevaardigdes in die toerismebedryf sal Dinsdag met familielede van die slagoffer vergader. Die moord en aanval op die toeriste is intussen ook uit verskeie oorde veroordeel, onder andere deur die sakekamer, die Mpumalanga-toerisme-en-parkagentskap (MTPA), die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) en Lindiwe Sisulu, minister van toerisme.

Maroela Media het vroeër berig dat die Duitse toeris saam met drie medelandsburgers na die Mdluli Safari-lodge naby die Krugerwildtuin se Numbi-hek (R538) op pad was toe hulle deur gewapende mans voorgekeer is. Die bestuurder het die deure van die Hyundai H1-bussie gesluit, maar is deur die venster in die bolyf geskiet. Die verdagtes, wat in ʼn VW Caddy gery het, het leë hande gevlug.

“Ons is uiters hartseer oor die afsterwe van die Duitse toeris wat die slagoffer van ʼn gepoogde kaping was. Ons ondersteun die polisie in hul ondersoek,” het Oupa Pilane, toerismevoorsitter van die sakekamer, gesê.

Die Hyundai H1-bussie waarmee die toeriste gery het. (Foto: SAPD)

Mduduzi Vilakazi, waarnemende uitvoerende hoof van die MTPA, sê die vereniging is “gewalg deur hierdie soort voorvalle wat ʼn slegte reputasie vir en ervaring van Mpumalanga en die land in die algemeen veroorsaak”.

“Ons toerismeveiligheidspan is tans in verbinding met die oorlewende slagoffers en geliefdes en bied aan hulle die nodige berading en ondersteuning. Die saak is ook by die Duitse ambassade aangemeld.”

Die MTPA sê die vereniging werk nou saam met die polisie en die sakekamer om maniere te vind om toeriste se veiligheid te verseker.

Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van Fedhasa, sê die voorval het die vereniging in hul “binneste geruk”.

“Ons kan nie toelaat dat so iets weer gebeur nie en ons as Fedhasa vertrou dat, benewens die spoedige mobilisering deur die polisie en ander rolspelers om die skuldiges vas te trek, daar ’n werklike toewyding sal wees om die kern van die probleem uit te roei sodat geen familie ooit weer so ʼn verlies moet verduur nie.

“Niks verander as niks verander nie. Ons het ʼn diepgaande, nasionale ingryping nodig om die kern van misdaad in ons land uit te roei. As Covid-19 ʼn noodtoestand vereis het, dan noop die misdaadpandemie sekerlik ook ʼn noodtoestand,” het Anderson gesê.

Sisulu het Dinsdag in ʼn verklaring gesê dat Suid-Afrika se toerismebedryf juis danksy toeriste van reg oor die wêreld op die herstelpad ná die Covid-19-pandemie is.

“Ek sal met my kollegas in die kabinet beraadslaag om planne te bespreek om die veiligheid van toeriste in Suid-Afrika te verseker.

“Toerisme is een van die grootste ekonomiese drywers wat ook werk vir die jeug skep. Ons moet hard werk om dié bedryf te beskerm.”

‘Ons sal nie opgee’

Linda Grimbeek, hoof‑ uitvoerende beampte van die sakekamer, meen hoewel die voorval die bedryf “hard gaan slaan”, die sakekamer en ander rolspelers nie sal ophou met pogings om misdaad te bekamp nie.

Benewens die beloning wat nou uitgeloof is, het die sakekamer al in April vanjaar R2,4 miljoen bekom om ʼn private sekerheidsmaatskappy aan te stel op vasgestelde patrollies op die Numbi-pad uit te voer – juis om toeriste se veiligheid te bevorder. Veiligheidskameras is ook op strategiese plekke aangebring terwyl sommige spoedhobbels verwyder is.

Grimbeek sê dié maatreëls is wel doeltreffend, maar dat daar nou na nog maniere gekyk sal word om veiligheid verder op te skerp.

Sy meen uit ʼn toerismeperspektief kan so iets enige plek in die wêreld gebeur, maar sê dat geen geld of moeite ontsien sal word om die skuldiges te vang nie.

Die sakekamer bied ook ondersteuning aan die slagoffers se geliefde, wat “ons soos ons eie familie hanteer”.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en daar is met ʼn onmiddellike soektog na die verdagtes begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

domheks ·

Dankie Cele! Ons bevorder toerime in SA met MOORD en DOODSLAG!

Pietertjie ·

En in ‘n berig elders wonder mense hoekom die toerismebedryf nie op dreef kom nie.

Byekonfyt ·

Die rooi eff party doen die waarskuwing sommer spontaan

Phillip ·

Hulle sal in elk geval nie daar in slaag om dit te stop nie . Ek is al so gewoond aan moord en dood dat ek dit al self sprekend aanvaar in die piesangland waar in ek woon . En gaan hulle des moontlik nooit vang nie

vuurvliegie ·

Ek wonder hoeveel keer het Kruger-Laeveld-sakekamer al belonings uitgeloof vir plaasmoorde?

Johann ·

Gaan seker vir almal.skree SHARAAAAAP!. Met sy konfooi kader karre opdaag en beloftes maak en die erns afspeel.

Joggie ·

Probleem sal nie opgelos word solank ons die ANC regime aan bewind het wat geen politieke wil het om dit te stop nie..

Frans ·

Dit is werklik kenmerkend van algehele agteruitgang sedert die ANC aanbewind gekom het en Suid Afrika nou gelys word as die land met die 4se hoogste misdaad,’n Gatslag vir die toeristebedryf en ‘n mwns kan slegs jou innige simpatie betoon met die slagoffer se mense

Byekonfyt ·

“Ek sal met my kollegas in die kabinet beraadslaag om planne te bespreek om die veiligheid van toeriste in Suid-Afrika te verseker” … AG ASB!!!! Wat wil julle nóg beraadslaag?? Almal moet veilig kan wees. Punt.

Martin ·

Almal wt di land in di buiteland as n veilige toerustebesteming bemark is skuldig aan di persoon se dood dis omdat hul vr di mense lieg vrtel di mens di waarheid dt is di anc se moordkuil

Manie ·

Die regering is ‘n totale mislukking en die res wat ek graag wil sê, sal nie geplaas word nie.

Nie Verbaas ·

Dit is te laat. Sekuriteit in die Numbi hek area is volgens gerugte lankal verbeter maar soos gewoonlik is dit net weer gerugte.

Lesly ·

So as ek dit reg verstaan, word ‘n bohaai oor koelbloedige moord net ‘n probleem as dit internasionale toerisme nadelig beinvloed. Andersins is dit nie ’n probleem nie.

Oujongvrou ·

Jy is absoluut reg lesly. Ons mag maar wreed om die lewe gebring word. Net nie toeriste nie dan is dit nag.

LANA is ELANè ·

Hoe belaglik, hierdie misdadigers weet hulle het die hef in die hand. Hulle kyk met dieselfde oë na die SAPD as wat eerbare mense kyk en weet die polisie en die hele stelsel is ñ klug en dat die kans dat hulle sal wegkom met misdaad is byna 100 persent. En die regering self is die beste bewys dat dit lonend is om skelm te wees – kyk maar net wat aan die gang is by ESKOM.

Joseph ·

Julle word gewalg deur moord op toeriste, ja, dit mag nie geduld word nie maar niemand se iets van die moord op ons boere nie. Hoekom word daar nie deur hierdie departemente, soos toerisme, druk op die regering geplaas om daadwerklik teen alle misdadigers op te tree nie?

Vincent ·

So maak hulle (ANC) alles dood: SAL, SPOORNET, SAUK, ESKOM, TOERISME …….

Fanus ·

Dit is n feit dat toeriste gereeld van die buiteland by OR Tambo lughawe met hul aankoms agtervolg word. Misdadigers weet dat híérdie toeriste baie geld en toerusting besit. Misdagers weet selfs waarheen toeriste oppad is weens inligting wat deur werknemers verskaf word. Die POPI wet is veronderstel om persoonlike inligting te verhoed, maar dit blyk nie die geval te wees nie…

Niklaas ·

Nou wat het geword van die sekuriteits firmas wat die gevaarlike Numbi pad sou beveilig ?

christo ·

Die Minister belas met Toerisme reageer nie eens na die voorval nie. Die besigheid sektor wat afhanklik is vir hulle bestaan van toerisme moet maar nét wéér planne beraam op eie koste, terwyl die staat (SAPD) op sy louere rus.
Wat die burgerlike samelewing en meer spesifiek die belastingbetaler, moet besef dat die ANC is min gepla oor hulle verantwoordelikheid en heel tevrede terugsit, want ons kom mooi reg sonder die staat. Ons is die ‘ suckers’.

Niklaas ·

Dit is voorheen gesê en aanbeveel dat daardie groot aantal hoê spoedhobbels in Masoyi tot naby die Numbi hek , waar die voertuie net in eerste of tweede kan oorry , platgeslaan moet word. Vinnig bewegende karre sal erg beskadig word aan die onderstel met redelike vinnige spoed .Ons ry gereeld daardie pad (nie meer te dikwels) en dis maklik vir ‘n voetganger om langs die stadig bewegende voertuig by een van die sowat 28 hobbels, te stap en sommer die motor-deur oop te pluk.

Kobus ·

Hoeveel plaasmoorde word gepleeg, maar geen belonings word daarvoor uitgeloof nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.