Beskuldigde in Baaise moordsaak laat vaar borgtogaansoek

Marolien Schmidt. (Foto: Facebook)

Die man wat beskuldig word van die moord op Marolien Schmidt (40) sowat twee weke gelede in haar huis in Gqeberha, het sy aansoek om borgtog laat vaar.

Simxolele Zitshu (31) het Dinsdag vlugtig in die Gqeberha-landdroshof vir sy borgtogaansoek verskyn. Die staat het egter aan die hof gesê dat Zitshu hierdie aansoek laat vaar.

Zitshu het dit bevestig. Hy sal in polisieaanhouding bly totdat hy dalk later van plan verander.

Die saak is tot Donderdag uitgestel sodat Zitshu met ʼn senior prokureur van Regshulp Suid-Afrika kan konsulteer.

Zitshu het tydens sy eerste verskyning aangedui dat hy sy eie verdediging wil behartig en wil pleit op die aanklagte teen hom. Nadat die landdros die hofproses aan hom verduidelik het, het hy by sy tweede verskyning aangedui dat hy regsverteenwoordiging wil bekom.

Marolien Schmidt is op Vrouedag in haar huis deur ʼn vermeende inbreker met ʼn mes gesteek. (Foto: Maroela Media)

Dit het intussen aan die lig gekom dat Zitshu jare gelede op parool vrygelaat is nadat hy op aanklag van moord en roof skuldig bevind is. Hy was glo die afgelope ruk soek nadat hy nie sy paroolvoorwaardes nagekom het nie.

Hy is ʼn dag nadat ʼn erg beseerde Schmidt deur haar bure in haar huis in Richmond Hill aangetref is, in hegtenis geneem.

Schmidt is op Vrouedag dood nadat ʼn vermeende inbreker haar in haar huis met ʼn mes gesteek het.

Honderde mense het die Vrydag byeengekom om die bekende fisioterapeut, wat alombekend was as die “pienk fisio”, se lewe te vier. Daar is intussen ook ʼn Facebook-groep gestig waar vriende, familie en ander geliefdes hul herinneringe van Schmidt deel. Byna 450 mense is reeds deel van dié groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

marius ·

Jare gesoek vir verbreking van parool voorwaardes en hy wil aansoek doen om borgtog ?

Patch ·

En hy sal miskien nog suksesvol wees soos reg en geregtigheid in SA geskied.

IlseL ·

Dis is presies wat ek nou wonder….. Hoe kwalifiseer hy vir bortog???

Hy was op patrool nadat hy skuldig bevind was aan moord en roof, hy kon nie sy partool voorwaardes na nie, maar hy kan aansoek doen vir borgtog, om net weer vrygelaat te word in die samelewing…

Hoe is mens veronderstel op vertroue in so ‘n regsstelsel te hê??!!!

Karoo ·

Ek is bly iemand het in sy oor gefluister om eerder nie vir parool aansoek te doen nie.

Karoo ·

Dankie Delia, jy is reg ja, vinger fout, jy is skerp vir ‘n Dinsdag :-)

bolletjie blom ·

Hy word op parool vrygelaat nadat hy op ‘n klag van moord en roof skuldig bevind is. Hoe gebeur dit? Dit is mos pure nalatigheid.

piet ·

Glad nie, volgens Wet kan jy aansoek doen om parool nadat jy ‘n sekere aantal jare uitgedien het en het hy soos baie moordenaaers en rowers soos vantevore parool gekry. Dis nie uniek net in SA nie, werk oral ter wereld so…

Anel ·

Nog bloed aan die anc se hande. As jy moor moet jy lewenslank tronk toe. Dit beteken tot jy eendag doodgaan. Nie op parool vrygelaat word vir mooi en soet wees in die tronk nie!!!

MC ·

Suid-Afrika is gladnie meer ‘n uitstekende toermisme bestemming nie, dit het die beste moord bestemming geword (wat ‘n uitstekende advertensie – ek dink julle moet in Mexico begin adverteer). Wie was sy eerste moord slagoffer en wie het op die paroolraad gesit wat vir hom parool gegee het in die eerste plek. Ek dink dit het tyd geword dat ons ook hierdie mense se name en fotos agter op melkhouers begin adverteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.