Brandstofpryse gee dalk dié maand skiet

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Alle aanduidings is dat die prys van diesel en paraffien volgende maand beduidend gaan daal en dat selfs petrolverbruikers effense verligting kan verwag, het die Outomobiel-Assosiasie Vrydag gesê. Die AA grond sy vooruitskattings op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds.

Die AA sê die jongste verwagting is uitstekende nuus vir verbruikers, aangesien syfers vroeër vandeesmaand daarop gedui het dat die prys van petrol moontlik met sowat 25 sent per liter kan styg. Diesel- en paraffienpryse het ook vroeër gelyk of dit veel minder sou daal as wat nou verwag word.

Die prys van 95 oktaan-petrol en 93 oktaan-petrol gaan na verwagting met onderskeidelik 1,5 sent en 4 sent per liter daal.

Die prys van diesel sal na verwagting volgende maand omtrent 78 sent per liter goedkoper word. Die prys van paraffien sal na verwagting met R1,39 per liter daal.

“Die hoofdryfveer agter die dalings is laer internasionale produkpryse, maar die hoër as gemiddelde wisselkoers van die rand en dollar balanseer hierdie winste uit,” sê die AA.

“Dalings van sowat 40 sent per liter vir brandstof is weggevee deur die swak rand. Die verwagte dalings sou groter gewees het as die rand regdeur Maart sterker was.”

Die verwagting is egter presies dit: net ʼn verwagting, sê die AA.

Die organisasie maan dat ander faktore, soos die koste verbonde aan die vervoer van brandstof na die binneland, asook aanpassings aan die balansfondsheffing deur die departement van minerale hulpbronne en energie, ook ʼn uitwerking op die uiteindelike brandstofprys sal hê.

“Die goeie nuus is egter dat as daar aanpassings aan vervoerkoste en die balansfondsheffing gemaak word, petrolpryse waarskynlik nie beduidend gaan styg nie. Die prys van diesel en paraffien sal ook steeds daal,” sê die AA.

“Die daling in dieselpryse is veral belangrik omdat dit ʼn groot insetkoste in die vervaardiging-, mynbou- en landbousektor is, en ʼn daling onmiddellike styging in koste van goedere en dienste verhoed.”

Ondanks die onsekerheid oor die moontlike styging in die balansfondsheffing gaan die algemene brandstofheffing en die Padongeluksfonds se heffing nie vanjaar verhoog word nie.

“Hierdie heffings word tradisioneel in April verhoog, maar die minister van finansies het gehoor gegee aan oproepe om dit nie te verhoog nie. Hoewel dit as sodanig nie ʼn besparing is nie, sou enige verhogings bykomende druk op brandstofpryse geplaas het.”

Die amptelike aanpassings van die brandstofpryse tree op 5 April in werking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannelie ·

Nes Eskom………jy weet nie waar jy met hulle staan nie.

melaney ·

Wat ‘n pragtige verassing….’n hele 4 sent. Ek sal nie ‘n oog kan toemaak nie!

George ·

Afrikaners is darm maar n ondankbare klomp. Styg dit moan ons, daal dit, dan moan ons. Regtig waar.

SomeOne ·

wil jy vir my sê dat dit ons van die dak af gaan spring van blygeid, net daarna gaan dit met R1 of meer styg, grapkas

Eugene ·

WOOOOP WOOOOP ek kan nog steeds nie ‘n blikkie bier bekostig nie!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.