Brief bewys ramptoestand is ongrondwetlik – Sakeliga

(Argieffoto ter illustrasie: Facebook)

Die organisasie Sakeliga sê ’n brief wat hy van die Nasionale Rampbestuursentrum (NRBS) ontvang het, bewys dat die huidige ramptoestand in Suid-Afrika op ’n ongrondwetlike wyse gehandhaaf word.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê dr. Mmaphaka Tau, hoof van die NRBS, het strydig met sy pligte ingevolge die Rampbestuurswet en Grondwet opgetree, deur die kabinet toe te laat om hom te lei, in plaas daarvan om die klassifisering van die Covid-19-pandemie as ’n nasionale ramp onafhanklik te heroorweeg en herevalueer.

Tau, wat die pandemie op 15 Maart tot ’n nasionale ramp verklaar het, sê in sy brief aan Sakeliga dat die herklassifikasie daarvan tot ’n provinsiale of plaaslike ramp nie “redelik of rasioneel” sal wees nie, veral gegewe die voortdurende impak van die pandemie en die kabinetsbesluit dat die ramptoestand minstens nog tot 15 Februarie 2022 van krag bly.

“Die belangrikheid van die klassifikasie as sodanig lê in die feit dat, ingevolge die Wet op Rampbestuur (WRB), ’n nasionale ramptoestand deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake verklaar kan word slegs op grond van ’n vorige en bestaande klassifikasie van ’n nasionale ramp deur die NRBS,” sê Le Roux.

“Hierdie klassifikasie moet nie net onafhanklik gedoen word nie, maar moet ook deurlopend herevalueer word. Slegs nadat en vir solank as wat die hoof van die NRBS ’n gebeurtenis as ’n ramp geklassifiseer het, kan die minister ’n nasionale ramptoestand verklaar en handhaaf.

“Dr. Tau se brief toon dat die NRBS nie as ’n objektiewe rem op die uitvoerende gesag optree nie, hom as ’n agent van die uitvoerende gesag beskou, nie ’n proses ingestel het om sy twee jaar oue klassifikasie van ’n ‘nasionale ramp’ deurlopend te herevalueer nie, en strydig met óf die WRB óf die Grondwet of albei optree,” sê Le Roux.

Sakeliga meen die Rampbestuurswet se bepalings oor klassifikasie is belangrik ten einde die publiek se grondwetlike regte te beskerm.

“Tau verklaar dat hy net die rampklassifikasie sal herevalueer op grond van ’n kabinetsbesluit om die nasionale ramptoestand te verleng, terwyl die kabinet, deur die minister, hom in die eerste plek tog op die NRBS se klassifikasie verlaat alvorens hy die nasionale ramptoestand kan verleng. Dit is die kabinet wat op die NRBS se besluit moet staatmaak, nie die NRBS op die kabinet s’n nie.”

Le Roux meen Tau se erkenning kom neer op óf ongrondwetlike pligsversuim óf ongrondwetlikheid van die WRB self, wat in ieder geval beteken dat versuim word om onafhanklike toesig oor die uitvoerende gesag toe te pas. Eindelik lei dit dan ook tot die versuim om grondwetlike regte te beskerm.

Die organisasie het sy regspan opdrag gegee om die hooggeregshof te nader vir die tersydestelling van die klassifikasie van Covid-19 as ’n nasionale ramp en vir verdere grondwetlike regshulp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

As jy nie die kaders soos kinders oppas nie dan soek jy skade.

Groen Ghoen ·

Goed so, Sakeliga! Om die algemene kultuur van Covidverlamming wat na twee jare noual orals ingetree het opgehef te kry is egter ‘n perd van ‘n heel ander kleur. Die skade is gedoen.

Fanie ·

Kom ons kyk hoe spike die “Covid gevalle” in die volgende paar dae sodat hulle beheer kan hou, dis eintlik al waaroor dit gaan – vrees te skep en beheer oor die mense te wil behou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.