‘BSV’ se Louis M, Louis B vra ja-woord – op dieselfde dag!

Louis Botha en Rachie is verloof. (Foto: Facebook)

Boere Louis Botha van Ottosdal en Louis Malan van Bela-Bela, wat tydens die 15de seisoen van die gewilde kykNET-maatsoekreeks, Boer soek ʼn vrou, opspraak gemaak het om verskeie redes, spog nou albei met die nuwe titel van verloofde.

Louis B het kykers se harte gesteel met sy opregte sêgoed en die vonkel wat hy van dag een af vir die spontane Rachie, van die Vivo-omgewing, gehad het. Louis M het weer kykers laat gons met sy stoute houding en kuiltjies.

Albei dié boere het Saterdag die ja-woord gevra en albei het dieselfde antwoord gekry: ʼn onomwonde ja.

Louis B vertel aan Maroela Media hy en ʼn groep vriende, wat vooraf geweet het die verlowing gaan plaasvind, het die naweek op Van Zylsrus gaan uitspan.

Daar het hy op een van die rooi duine op een knie neergesak, tot Rachie se groot verbasing. “Sy het absoluut niks vermoed nie. Ek dink haar gesigsuitdrukking op die foto’s getuig daarvan,” lag Louis B.

“Sy kon skaars praat en ek moes drie keer vra voordat sy uiteindelik ja gesê het. Ek dink die troue gaan ál wees waaroor sy vir ʼn rukkie kan praat.”

Sy broer, Kobus, en vriendin, Carla, het gereedgestaan met ʼn ou kamera om die groot oomblik vanuit die verte af te neem.

Louis B het ook vooraf sowat 700 km heen en weer afgelê om Rachie se ouers se toestemming te vra om met hulle dogter te trou.

Louis B het vir Rachie op ‘n sandduin met ‘n verloofring verras. (Foto: Verskaf)

“Ek het hulle gebel en gevra of ek kan kom kuier, want ek het sake wat ek moet praat. Hulle het geweet wat kom. Die oom en tannie was baie oulik en het my geen voorwaardes gegee nie. Hulle het net gesê hulle kan sien ons is lief vir mekaar, en haar pa het sy toestemming gegee.”

Volgens Louis B is dit nie lank voordat hulle voor die kansel gaan staan nie. “Rachie se droom is om in die Bosveld te trou, so dit is wat ons gaan doen.”

Sy vriend, diamantdelwer Jannie Lombaard, het Rachie se verloofring gemaak.

“Al die ouer mense wat al jare getroud is, het altyd vir my gesê ek moenie my trouvrou soek nie, dit sal na my toe kom. ʼn Mens het in jou kop ʼn prentjie van hoe jou vrou eendag gaan lyk, maar toe ek vir Rachie sien en haar geaardheid leer ken, die mens wat sy is, het ek geweet ek kan haar nie met iemand vergelyk nie.

“Sy is heeltemal uniek. Ek wou nie voorbarig wees nie, maar ek het van die begin af geweet sy is my trouvrou.”

Louis Malan en Annique Kleynhans is verloof. (Foto: Verskaf)

Louis M, wat aan die einde van die 15de seisoen besluit het hy wil met die donkerkop Anja ʼn pad verder stap, het intussen liefde gevind by Annique Kleynhans, ook van Bela-Bela.

Dié twee staan ook binnekort voor die kansel nadat hy Saterdag op sy plaas ʼn ring aan Annique se vinger gesteek het.

Hy vertel aan Maroela Media die verlowing was ʼn groot verrassing vir Annique. Hy het sonder haar medewete ʼn betonbankie met ʼn bordjie wat lees: “Sal jy met my trou?” op ʼn berg op die plaas, waar hy en Annique hulle eerste afspraak gehad het, laat aanbring.

“Ek het vir haar gesê ʼn konstruksie-implement het op die berg gebreek en ons moet gaan kyk of hulle reggekom het. Toe ons teen die berg opry, was daar net die bankie en ʼn vuurtjie. Sy het toe gedink ons gaan net piekniek hou daar, maar ek het toe vir haar gevra om die bordjie te lees.”

Louis Malan en Annique is dolgelukkig. (Foto: Verskaf)

Annique was uit die veld geslaan, sê Louis M. “Sy was ʼn bietjie stom vir ʼn rukkie, maar die trane het geloop. Sy het uiteindelik ja gesê en my omhels, en nog ʼn paar goed gesê wat ek nie eers kan onthou nie,” lag hy.

Louis M sê hy en Annique wil hierdie jaar nog trou. “Ons het nie verloof geraak om verloof te bly nie. Die plaas is vir ons albei ʼn spesiale plek, maar ons sal nog kyk waar presies die geleentheid sal plaasvind.”

  • Inskrywings vir nuwe boere vir die 16de seisoen van kykNET se Boer soek ʼn vrou is nou oop. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Dit moet maar bietjie ongemaklik wees as jy die ja word vra en sy se nee?

Jaco ·

Ek het al na van dié reeks se episodes gekyk: deel van die reeks is dat elke boer wys hoe lyk sy plaas, waarmee boer hy en waarmee is hy besig elke dag. Dis net ‘n ope uitnodiging wat skree: onteien my eendag sonder vergoeding. Dieselfde met TV reekse soos Grootplaas, Megaboere en andere op Kyknet en Via.
Moenie dink daars geen Afrikaanssprekendes in die ANC, EFF en BLF nie. Hulle kyk ook TV en baie van hulle het ook DSTV. Wanneer gaan Kyknet en ons mense leer om hulself nie so bloot te stel nie.

Karoo ·

Baie goeie punte… maar dis ‘n besigheid, so hulle geen nie werklik om nie, solank jy kyk… betaal jy en sal hulle aanhou om hierdie soort programe te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.