Bulle vra vir ‘ruimte’ vir vleuel Nkosi

Sbu Nkosi. (Foto: Springbokke/Twitter)

Die Bulle het Dinsdag vir “ruimte” en “privaatheid” vir Sbu Nkosi gevra terwyl hy aan sy geestesgesondheid en selfvertroue werk nadat hy weke lank uit die openbaar verdwyn het.

“Ons moet hom sy ruimte gee sodat hy tot sy volle gesondheid kan terugkeer,” het Edgar Rathbone, die Bulle se uitvoerende hoof, tydens ʼn perskonferensie by Loftus Versveld gesê.

“Ek is vol vertroue dat ons [die Bulle] in ʼn goeie posisie is om Sbu die nodige ondersteuning te gee. Hy sal van die ondersteuning gebruik maak sodra hy gereed is.”

Rathbone sê hul vleuel is nou by sy ouerhuis, maar dat daar nie op hierdie tydstip ʼn definitiewe tydlyn gegee kan word oor wanneer hy na die rugbyveld gaan terugkeer nie.

Die Bulle is wel daartoe verbind om hom terug op die rugbyveld te kry en “weer soos ʼn kampioen te laat voel”.

Die Blou Bulle Maatskappy het al weke lank na Nkosi gesoek voordat hy Maandag by sy pa se huis in Emalahleni (Witbank) in Mpumalanga opgespoor is.

Volgens Rathbone het hulle behoorlik gespook om Nkosi op te spoor. Hy en ander lede van die maatskappy het Nkosi se wonings besoek, sy familielede gekontak en op ʼn daaglikse basis al sy bekende nommers gebel.

Nadat Rathbone by die polisie aangeklop het en nie die nodige hulp ontvang het nie, is die Bulle se vennote, SSG Sekuriteit, ingespan om Nkosi te help soek.

“Dit was ʼn reuseverligting om te sien dat Nkosi lewend is, maar ek dink dit dien ook as ʼn wekroep vir almal in die sport,” het hy gesê.

“Baie mense het die afgelope tyd hulle aan die sport onttrek en dit is nou die werklikheid van die sport. Dit is duidelik dat die spelers nie masjiene is nie, maar dat hulle mense is wat onder geweldige druk verkeer om te presteer.”

Rathbone het nie verder uitgebrei oor sy gesprek met Nkosi of die uitdagings wat hom in die gesig staar nie.

Die Bulle het wel onderneem om ondersteuningsmeganismes vir die hele rugbygemeenskap in te stel.

“Hierdie is hopelik die begin van iets goed vir Suid-Afrikaanse rugby want hierdie week was ons gelukkig, maar volgende week kan ons dalk te laat wees en dit is nie iets wat ons wil sien ʼn realiteit word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Lyk asof die Bulle goed vir hul spelers sorg. Die ou is geestesongesteld en het hulp nodig. Sy werkgewer gaan saam met hom hierdie pad loop wat fantasties is om te sien. Hopelik kan hy spoedig weer vir die Bulle uitdraf. Baie sterkte aan hom.

annie ·

Hou maar die toekomstige kapteinskap oop vir die man. Die speler se hart bloei. Almal wat druk ervaar by die werk of tuis, verstaan. Groot geld is ter sprake en almal van ons wil graag hê mense moet ons verstaan. Verstaan?

Republikein in die Wes Kaap ·

Ten minste is sy werkgewer gereed om hom by te staan. Dit sou sleg gelyk het indien die Bulls hom gedrop het. Maar dis waarom die unie tops is. Bravo Willem Strauss. Die Sharks? Wel, laat ons eerder stil bly.

George ·

Hulle doen dit net vir die publiek. Kan jy dink watter stakings sou plaas vind as hulle nie dit doen nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek glo nie Willem val in daai kategorie nie.

Marcello ·

Wel hy is gelukkig, want as ek net verdwyn en nie opdaag by my werk nie, gaan hulle my defnitief uitskop.

Kattebol ·

Kon hy nie soos n verantwoordelike volwassene net laat weet het hy gaan vir n tyd lank onbereikbaar wees nie? Al die gehoe-ha omdat hy soos n kind optree!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.