Byna 90 nog vermis ná vloede

Woonstelblokke is verwoes deur vloede in Umhloti, noord van Durban. (Photo by MARCO LONGARI / AFP)

Byna 90 mense word steeds vermis sowat twee maande nadat verwoestende oorstromings die lewe van honderde mense in KwaZulu-Natal geëis het en talle dakloos gelaat het.

Intussen spook die provinsiale regering om paaie te herstel, behoeftige mense te versorg en te huisves, asook om gevaarlike vlakke van E. coli in die water onder beheer te bring nadat rioolinfrastruktuur beskadig is.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het Sondag tydens ʼn mediakonferensie gesê dat die dodetal weens die oorstromings tot 461 gestyg het, met 87 mense wat tot op hede nog nie opgespoor is nie.

“Die oorstromings in KwaZulu-Natal is tot dusver in alle opsigte die verwoestendste vloedramp in ons geskiedenis,” het Zikalala gesê.

Meer as 27 000 huise is deur die oorstromings geraak en meer as 8 500 hiervan is heeltemal vernietig. Duisende mense is gevolglik dakloos gelaat en maak staat op die provinsiale regering om in hul basiese behoeftes te voorsien.

Sommige dele van dié provinsie het in April meer as 300 mm reën binne ʼn tydperk van 24 uur gekry. Hierdie swaar reënval het tot erge modderstortings gelei wat onder meer mense, paaie en geboue meegesleur het.

Zikalala het onlangs twee padprojekte van stapel gestuur wat die provinsiale regering altesaam R500 miljoen uit die sak sal jaag.

Hierdie projekte is deel van die regering se verbintenis om beskadigde padinfrastruktuur te herstel as deel van die ekonomiese herstel en heropbou-program ná die onlangse oorstromings.

Die projek behels dat ʼn gedeelte van die P725, die grondpad naby Umbumbulu, geteer word, terwyl ʼn ander gedeelte wat erg beskadig is herstel sal word. Meer as R409 miljoen word vir hierdie opgradering geoormerk.

“Baie mense in Umbumbulu maak staat op hierdie pad om na stedelike gebiede in die provinsie te reis en dit sal op sy beurt broodnodige ekonomiese groei in die gebied skep nadat die oorstromings gemeenskappe lamgelê het,” het Zikalala gesê.

Meer as R86 miljoen sal ook gebruik word om die stuk pad van Engonyameni na Umlazi te herstel.

“Hierdie pad is noodsaaklik om gemeenskappe van Umbumbulu, Folweni, Engonyameni en Umlazi met mekaar te verbind. Dit dien ook as ʼn skakel na die R603 wat strategies is vir die vervoer van goedere.”

Die provinsie het reeds meer as 1 365 projekte aan die gang wat verband hou met die verwoesting wat die oorstromings veroorsaak het. Altesaam R6,5 miljard word benodig om hierdie projekte af te handel. Van hierdie projekte behels die oprigting van tydelike wonings vir diegene wat hul huise in die oorstromings verloor het.

Die provinsiale regering spook ook steeds om die watersituasie in die provinsie te stabiliseer.

Weens die onlangs oorstromings was daar aansienlike skade aan die afvalwatersuiweringsaanlegte en sanitasie-infrastruktuur – soos die rioolnetwerk en pompstasies.

Benewens die feit dat inwoners boorgate moes sink in ʼn poging om skoon drinkwater te kry, het die infrastruktuur wat onklaar geraak het ook veroorsaak dat talle watermassas in die provinsie met riool besoedel is.

“Afvalwaternetwerke en sanitasiebedrywighede het reeds geringe rioolinfrastruktuurfoute herstel en is besig om die herstelwerk aan groot rioolinfrastruktuur vinnig deur middel van die Rampverkrygingsforum te doen,” het die eThekwini-munisipaliteit vroeër gesê.

“Strande sal tot verdere kennisgewing gesluit bly weens die hoë E. coli-vlakke in die water. In die belang van openbare gesondheid word gemeenskappe aangeraai om alle kontak met water in riviere en strome – soos swem, visvang, sport- en tradisionele-aktiwiteite – te vermy, aangesien E. coli gastro-enteritis, diarree, tifus, cholera en ander waterverwante siektes kan veroorsaak.”

Skenkings stroom steeds in

Die Harmony-goudmyn oorhandig ‘n tjek aan Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal. (Foto: KZN Provincial Gov/Twitter)

Terwyl die provinsiale regering probeer om mense wat sonder behuising is by te staan, het talle weldoeners ook intussen probeer om die las van diegene wat alles in die oorstromings verloor het te verminder.

Werknemers van die Harmony-goudmyn het reeds 200 matrasse, 283 komberse, 130 kussings, 242 paslakens, asook klere, toiletware en kruideniersware ter waarde van R400 000 aan die provinsie se mees kwesbare inwoners geskenk.

ʼn Tjek van R600 000 is ook aan Zikalala oorhandig.

“Ons is geïnspireer deur die ondersteuning van die Harmony-goudmynwerkers en verskeie belanghebbendes vir die ondersteuning wat tydens hierdie moeilike tyd gegee is,” het Zikalala gesê.

“Ons is ook uiters dankbaar vir die hulp wat die Motsepe-stigting aan die provinsie gegee het in die vorm van ʼn R30 miljoen skenking wat gebruik is vir die begrafnisse van vloedslagoffers.”

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

casper ·

Al wat die lokale regering doen is spook — Hulle herstel niks man !!!!!!!!!!!!

JM ·

Wonder hoeveel van hierdie skenkings gaan in eie sakke beland …

domheks ·

Skenk nog meer – ek is seker dit is nie vir die regte persoon gegee nie!

Anel ·

30milj vir begrafnisse! Kon die geld nie beter aan gewend word nie? En as die infrakstruktuur onderhou was, sou hierdie onnodige uitgawes nie nodig gewees het nie, want dan sou daar ook nie sulke hewige oorstromings gewees het nie!!! Maar stormwaterpype was mos verstop en dit is werk om dit skoon te maak! Kyk maar hoe lyk ons riviere en strome van die besoedeling!!!

Cindy ·

ja nee kyk! R65000/persoon vir ‘n begrafnis – ek eet my eie hoed as dit is wat hulle betaal het per begrafnis! Skep sal ons skep sal ons skep

Swerwer ·

Spook vir wat en hoeveel? Die regering moet spook want spartel kan hul nie meer nie, hul is besig om te versuip in hul eie gemors wat hul geskep het.

E ·

90 mense dis erg, nie gedink daar is soveel wat nie opgespoor kon word nie. Regtig jammer vir almal wat agterbly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.