Cele gelas om Ian Cameron nou om verskoning te vra

Mediakonferensie van die regering se interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Bheki Cele, minister van polisie, is opdrag gegee om Action Society se Ian Cameron om verskoning te vra nadat hy tydens ʼn polisie-imbizo teen Cameron uitgevaar het.

LP’s in die Nasionale Vergadering (NV) het Dinsdag ʼn verslag van die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange aanvaar waarin aanbeveel is dat Cele om verskoning moet vra vir sy gedrag tydens die polisie-imbizo op 5 Julie verlede jaar in Gugulethu, Kaapstad.

Cele was nie Dinsdag teenwoordig nie en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker, het gesê hy is op ʼn ampsbesoek aan die buiteland, maar dat hy mettertyd versoek sal word om sy verskoning aan te bied.

Die komitee het reeds begin Oktober bevind dat Cele die kode van etiese gedrag oortree het en om verskoning moet vra.

Cele het egter aangedui dat hy die parlementêre besluit op hersiening gaan neem. Hy het gesê die media-opskrifte dat hy “skuldig bevind is”, is lagwekkend en die sanksie wat hy opgelê is nog meer so. “Ons gaan hierdie op hersiening neem want ons stem nie hiermee saam nie,” het Cele gesê toe hy hieroor uitgevra is. Cele sal egter nou aan die opdrag gehoor moet gee.

Cameron het destyds in reaksie gesê Cele skuld die hele land ʼn verskoning en moet die eerbare ding doen en bedank.

“ʼn Eerbare persoon sal met grasie uitstap. Maar Cele blyk te magshonger te wees daarvoor. Daarom sal Action Society voortgaan om te eis dat hy uit sy pos as minister van polisie verwyder word.

Ian Cameron (Foto: Action Society/Twitter)

“Niks het sedert daardie dag verander nie; om die waarheid te sê, meer mense sterf nou. ʼn Verskoning sonder optrede sal altyd leeg wees. Die SAPD moet herstruktureer en herbou word. Cele moet die eerste wees om te gaan,” het Cameron gesê.

Cele het in Julie verlede jaar tydens ʼn polisie-imbizo in Gugulethu, Kaapstad, teen Cameron uitgevaar nadat laasgenoemde hom vasgevat het oor die polisie se tekortkominge. ʼn Konfrontasie het tussen Cele en Cameron ontstaan waartydens Cele aan Cameron geskree het: “Jy beskou my as ʼn tuinjong. Bly stil! Bly stil! Sit en luister jong man, of gaan uit.” Toe Cameron geweier het om die saal te verlaat is hy “gewelddadig” deur die polisie verwyder en na sy motor begelei.

Volgens die komitee het Cele in sy skriftelike vertoë nie spesifiek die voorval aangeraak nie, asook nie gemeld dat hy vir Cameron geskree het om stil te bly nie. Videomateriaal wat op die dag geneem en vir die komitee gespeel is, wys egter dat Cele woedend was en dat hy wel op die klaer geskree het.

Die komitee het bevind dat selfs al was Cele ontevrede met die wyse waarop Cameron die kwessie by die imbizo aangeraak het, word daar nietemin van hom as parlementslid vereis om op te tree op ʼn wyse wat lede van die publiek se vertroue én vertroue in die integriteit van die parlement sou behou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Danie ·

Dit wil ek graag sien en beleef en wat van die groot menere in blou uniform sogenaamde hoe polisie offisiere se geweldadige gedrag?? Maar net n bewys van agteruitgang.

Wondermaarnet ·

Opgevoede mense sal uit hul eie verskoning vra, maar sekere mense moet aangesê word om dit te doen, dan beteken daardie verskoning NIKS.

Manie ·

Dit gaan vir Cele ‘n bittere vernedering wees om Cameron om verskoning te moet vra. Kom ons hoop hy bedank eerder, dan is ons ontslae van hom.

Aai ·

Hy het geen gewete so om jammer te se beteken vir hom niks so hoekom sal hy dit nie doen want die polisie kyk mooi na die vent.

Marthinus Johannes ·

Julle maak n Groot fout as julle dink Hy gaan dit doen.

Mariana ·

Nee wat hy sal dit nie doen nie. In elk geval glo ek nie Ian Cameron sal val vir sy gedwonge verskoning nie en hoekom moet hy. Cele moet liewer weg, sal beter wees vir die land.

Sobymykoolkop ·

Ian begin al soos die DA klink. Is daar een kader wat al bedank het…gmf EERBARE ding doen en bedank?? Van eerbaar weet hulle niks

Janine ·

Selfs al vra hy vir Ian Cameron onverskoning, opreg of nie, sal dit enige verskil maak aan sy handel en wandel?

Frikkels ·

Verskonings sal geen verskil maak nie. Die voorval weerspieël presies wat cele in sy hart voel. Daar is beslis ñ minderwaardigheids gevoel en ñ diepe haat in sy hart! Geen verskoning kan egter dit wat gesê is ongedaan maak nie.

Kokerboom ·

Die Minister se ego is groter as die saak en dis dodelik vir goeie polisiëring in SA!

Althes ·

Vat so Cele! Jy skuld Ian Cameron ñ verskoning, maar jy skuld die hele SA om verskoning. SA het ñ misdaadnes geraak onder jou regime.

Pieter ·

wat soek hy in die buiteland, hyt niks daar verloor nie. Nou reis hy lekke op die belastingbetaler se onkostes. Hy moes al lankal die trekpas gekry het.

Seef ·

Hoekom moet hy “versoek” word om verskoning te vra? Hy moet BEVEEL word.

Waarnemer ·

Ampsbesoek?Seker Rusland of China of Kuba of dalk Hamas gaan besoek.

Jannie van Niekerk ·

“Mettertyd”in ANC terme beteken dat dit NOOIT sal gebeur nie.

Bolandse Nooi ·

Cele is GELAS om om verskoning te vra, maar die ANC sal hom VERSOEK om om verskoning te vra ……………………… Ek hou nie my asem op nie!

SjN ·

Wat soek die kader in die buiteland, kan plaaslik nie eers die mas opkom nie?

Elmarie ·

Die speaker sê hy sal “mettertyd” versoek word om verskoning te vra. Mens wonder nou net wanneer presies hulle “mettertyd” is!

Oosieoos ·

A verskoning van a oneerbare man beteken niks hy het nie enige gewete of selfrespek nie

Tokkel ·

Cameron het nie ‘n verskoning nodig van ‘n onbeskofte persoon nie. ANC behoort skaam te kry vir die optrede van Cele.

Jakes ·

Cele sal dalk eendag jammer se maar nie voordat Ramaphosa eers n kommissie aangestel het om die saak te ondersoek nie.

Papsak ·

Cele het geen maniere nie so wat weet hy van omverskoning te vra en dit nogals vir wit wil dit ook graag beleef

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.