‘Cele het bloed aan sy hande’; ‘SA erger as oorlogsone’

Polisieminister Bheki Cele. (Argieffoto: Kopano Tlape/GCIS)

“Minister Bheki Cele het bloed aan sy hande.”

Só sê Action Society nadat die minister Vrydag bekend gemaak het dat die nasionale moordsyfer tussen April en Junie vanjaar met 3,1% gedaal het, maar dat nie minder nie as 6 228 moorde gedurende hierdie drie maande in Suid-Afrika gepleeg is.

Maroela Media het vroeër vandag berig van die algehele aantal moorde was 895 moorde dié van vroue en 293 dié van kinders.

Action Society wys nou in reaksie op dié syfers daarop dat sowat 125 000 mense tydens Cele se tyd as minister van polisie in Suid-Afrika vermoor is.

Die drukgroep het die somme gaan maak: Byna drie mense word tans uurliks in Suid-Afrika vermoor. Dit kom neer op 69 moorde per dag. Pogings tot moord vind byna drie per uur plaas en verkragtings byna vyf per uur.

In die eerste kwartaal van vanjaar het Suid-Afrika 293 kinders weens moord verloor. Dit is drie kinders per dag. Sestien kinders word ook elke dag aangerand met die doel om ernstig te beseer.

“Trouens, dit is dalk selfs veiliger vir vroue en kinders om in die Oekraïense oorlogsone te gaan woon as wat dit is om in Suid-Afrika te woon,” sê Action Society.

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê ook die jongste misdaadsyfers is ʼn duidelike bewys dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onder leiding van Cele ergerlik misluk het.

“Die SAPD is veels te lank deur politieke inmenging, korrupsie, ʼn gebrek aan opleiding en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid lamgelê. Dit is duidelik dat hierdie situasie nie op nasionale vlak reggestel kan word nie, aangesien dit daarop sal neerkom om die wolf te vra om die skape op te pas,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Broodryk sê nou dit is duidelik dat Cele nie in staat is om sy pligte uit te voer nie. “Hy prioritiseer partypolitiek en die beskerming van politieke pelle pleks daarvan om te verseker dat die SAPD doeltreffend funksioneer.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die polisie se kwartaallikse misdaadstatistieke, soos dié wat vandag uitgereik is, is ʼn goeie barometer van die ANC se mislukking as regering waar korrupsie gedy en die ekonomie sodanig vernietig is dat dit die perfekte teelaarde vir misdaad skep.

“Die oorhoofse prentjie van misdaad in Suid-Afrika onder die ANC as regering het oor die jare gedy tot op vlakke waar die wêreld vir die eerste keer werklik daarvan begin kennis neem,” sê Groenewald. “Dit skets veral ʼn onrusbarende beeld van ʼn gewelddadige gemeenskap waar moord en ernstige aanranding aan die orde van die dag is.”

Lees vandag se berigte oor die jongste misdaadstatistieke op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

M ·

Hopeloos, van die mees hopelooste hopeloses . in die hopelose vrot regime.

KB ·

Cele moes lankal in die pad gesteek gewees het. Wat word hieraan gedoen?…nie veel nie.????

007 ·

Hierdie vent voel niks vir die land se mense nie. Hy is die hoof van die ondergrondse wêreld in SA. The Godfather.

Riaan ·

Dis wat gebeur as jy onbevoegde mense aanstel, regtig watter een van die klomp in die huidige regering is regtig bevoeg vir sy pos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.