Cele: Veiligheidsmaatreëls is getref vir dié naweek

Bheki Cele (Foto: Rasaad Adams)

Bheki Cele, minister van polisie, het mense wat aan van verskillende groot geleenthede die komende naweek deelneem, gerusgestel met die wete dat veiligheidsmaatreëls getref is.

Dit volg nadat die Amerikaanse ambassade Woensdag ʼn kennisgewing op sy webwerf geplaas het oor ʼn moontlike terreuraanval wat dié naweek in Sandton beplan word. Volgens die waarskuwing word die aanval moontlik vir Saterdag tydens ’n groot byeenkoms beplan.

Behalwe vir dié byeenkoms gaan 48 000 mense na verwagting in die Moses Mabhida-stadion in Durban byeenkom waar pres. Cyril Ramaphosa ʼn sertifikaat van erkenning aan die Zoeloe-koning, Misuzulu Zulu Zwelithini, sal oorhandig.

Die Zoeloekoning Misuzulu Zulu KaZwelithini (Foto: SAgovnews, Twitter)

Zwelithini (48) is reeds in Augustus as koning gekroon ná sy pa, Goodwill Zwelithini, se dood verlede jaar.

Zwelithini benodig ʼn sertifikaat van Ramaphosa in sy hoedanigheid as die president om ten volle toegang tot regeringshulpbronne te kry.

Volgens Lirandzu Themba, woordvoerder van die minister van polisie, is ’n veiligheidsplan opgestel vir hierdie groot byeenkoms.

“Die minister het Vrydag ʼn omvattende veiligheidsverslag van die polisie ontvang oor die maatreëls wat getref is voor die Zoeloekoning se sertifikaatoorhandiging,” sê Themba.

“Ná die inligtingsessie deur die polisie het Cele operasionele lede van die polisie, wat by die oorhandigingseremonie ontplooi sal word, toegespreek. Die lede sluit in gespesialiseerde eenhede van die diens, die eThekwini-metropolisie en verkeerswetstoepassingsagentskappe wat in en om die gebied van die Durban-geleentheid ontplooi sal word.”

Cele het gesê die polisie sal “soos gewoonlik” teenwoordig wees om veiligheid te verseker.

“Bedreiging of nie, die polisie is gereed om by al die groot geleenthede wat die naweek in Suid-Afrika aangebied word veiligheid te verseker. Dit is hul taak, of die geleentheid in KwaZulu-Natal, Gauteng of die Wes-Kaap is, die polisie sal byderhand wees om veiligheid te verseker. Die oorhandigingseremonie in Durban sal een van die veiligste plekke wees,” het Cele gesê.

Maroela Media het vroeër berig die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) het in ʼn verklaring dit duidelik gemaak dat hy alle dreigemente ernstig opneem en reeds teen-intelligensiemaatreëls getref het om terrorismebedreigings te assesseer en op te tree.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.