Herstelwerk aan die reusesinkgat in die besige Jeanlaan in Centurion gaan na verwagting eers volgende jaar voltooi word.
Die kantoor van Sheila Senkugube, die Tshwane-metro se LUR vir paaie en vervoer, het vandeesweek gesê die LUR is bly om aan te kondig dat herstelwerk aan die sinkgat in November begin nadat die gebied beveilig is vir die kontrakteur om werk daar te verrig.
“Die befondsing is verkry en die kontrakteur is aangestel. Herstelwerk behoort teen die einde van Julie voltooi te wees,” lui ʼn verklaring. “Die ondergrondse geologiese gebied moes behoorlik ondersoek word om te verseker dat die herstelwerk ʼn permanente oplossing bied. Verskeie voorstelle is bestudeer en die beste oplossing is gekies.”
Maroela Media het vroeër berig dit gaan minstens R25 miljoen kos om die sinkgat op te vul en die pad te herstel.
Die sinkgat het reeds grootskaalse ontwrigting in verkeersvloei en vir die omliggende sakeondernemings veroorsaak nadat dit in Mei vanjaar by die kruising van Jeanlaan en Gerhardstraat gevorm het.
Kontrakteurs wat opknappingswerk in die omgewing gedoen het, het op die sinkgat afgekom voordat dit heeltemal ingeval het. Die gat is minstens 12 m diep en so groot soos ʼn skoolsaal. Die dikte van die pad tussen die teer en die gat is slegs sowat 75 cm en die kruising is noodgedwonge vir die publiek en motoriste se veiligheid gesluit.
die vraag is hoeveel kos dit regtig en hoeveel beland in die gat sak van eimand al weer
Die koste beloop 25 miljoen rand om die gat te vul en die pad reg te maak gaan hulle die gat met fillet steaks of skaaptjops vul om by die bedrag uit te kom