Chevonne se oupagrootjie ‘sterf van ʼn gebroke hart’

Brian Rusche (77), Chevonne se oupagrootjie. (Foto: Mariska Nanni/Maroela Media)

Die vermoorde kleuter Chevonne Rusch se oupagrootjie het volgens getuies aan ʼn “gebroke hart” gesterf.

Brian Rusch (77) is verlede week voor die aanvang van die verhoor dood. Hy het sedert die moord op Chevonne “net agteruitgegaan”.

“Haar dood was ʼn skok. Dit het hom gebreek. Hy was verpletter,” het ʼn getuie vandeesweek in ʼn sitting van die hooggeregshof in Palm Ridge gesê.

“Hy het net op lewe opgegee.”

Chevonne se ma, Rochelle Botha, en haar gewese verloofde, Stefan van Niekerk, staan tereg op die moord van die kleuter. Die verhoor het vandeesweek begin en sal na verwagting nog ʼn paar weke voortduur.

Getuies het vandeesweek daarop gewys dat Chevonne en haar sibbe sedert hul geboorte van huis tot huis getrek het.

Vandat Chevonne nege maande oud was, het sy egter by haar oupa- en oumagrootjie gewoon omdat sy glo erg verwaarloos was. Sy het later by ander familielede gaan woon, maar Brian het haar nogtans gereeld gesien en versorg.

Weke voor die moord op Chevonne het Botha en Van Niekerk versuim om die kleuter met haar sussie en ander familielede te herenig soos hulle belowe het.

Brian het haar egter vlugtig voor haar dood gesien, maar toe hy haar wou omhels, het sy geskree en gehuil.

Een van die getuies wat tydens dié interaksie teenwoordig was, sê sy was geskok oor Chevonne se reaksie, aangesien sy net so lief was vir haar oupagrootjie soos hy vir haar was.

“Hulle was baie na aan mekaar,” sê die getuie.

“Daardie kleintjie het nie verdien wat met haar gebeur het nie.”

Chevonne, sibbe seergemaak

Brian Rusche. (Foto: Mariska Nanni/Maroela Media)

Botha het in een van haar verklarings wat sy aan die polisie gegee het, toegegee dat Van Niekerk al vantevore aggressief teenoor haar en haar kinders was.

Voorvalle waar Chevonne kneusplekke en brandwonde weens “valle” opgedoen het, is vandeesweek in die hof vertel.

Selfs die tweejarige se sibbe het erg deurgeloop.

ʼn Dokter het vandeesweek getuig dat hy in ʼn stadium een van Chevonne se sibbe ondersoek het nadat familielede bekommerd was dat die aangerand of mishandel is.

Die dokter het in sy verslag altesaam 13 beserings aan die kind opgemerk. Van die beserings was dae oud, terwyl ander maande gelede genees het, maar steeds sigbaar was.

Die dokter het onder andere daarop gewys dat die kind ʼn sny aan sy kop gehad het, wat moontlik deur ʼn harde voorwerp soos ʼn pyp of ʼn bottel veroorsaak is.

Hy het boonop verskeie kneusplekke op plekke soos sy gewrigte, kneukels en voete gehad.

“Hierdie soort beserings word dikwels veroorsaak wanneer iemand met ʼn harde voorwerp geslaan word, of selfs in ʼn bakleiery met iemand betrokke is,” het die dokter gesê.

“Ek het egter tot die gevolgtrekking gekom dat die soort beserings wat die kind opgedoen het, nie self toegedien kon wees nie.

“Die motief agter die beserings was beslis om ernstige skade aan te rig.”

Die hofsaak duur Maandag weer voort wanneer Chevonne se sibbe in ʼn geslote hof gaan getuig oor hul ervaring. Hulle is maar vyf en ses jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.