Comrades gee 25 deelnemers die trekpas

Die Comrades-marathon word Sondag tussen Pietermaritzburg en Durban beslis. (Argieffoto)

Die 96ste Comrades-marathon is om die draai en die beheerliggaam van dié ikoniese ultrawedloop, die CMA, het bevestig dat 25 ingeskrewe deelnemers die trekpas vir oneerlikheid gegee is.

Volgens die CMA het die deelnemers valse kwalifiseringsinligting verskaf en benewens vanjaar se skorsing sal hulle ook nie toegelaat word om in 2024 en 2025 in te skryf nie.

Rowyn James, wedloopdirekteur, het dit beklemtoon dat oneerlikheid nie geduld sal word nie.

“Deelnemers wat op enige manier ʼn onregverdige voorsprong probeer kry – hetsy deur vooraf valse kwalifiserende inligting te verskaf óf tydens die wedloop te probeer kul – berokken nie net skade aan die wedloop nie, maar het terselfdertyd ook nie respek vir hul mede-atlete nie,” het James gesê.

Die CMA het die atlete en die bestuur van die betrokke marathonklubs reeds omtrent sy besluit ingelig.

“Dit is elke atleet se plig om die etiese kode en etos van die sport te eerbiedig. Ons poog om regverdigheid te bevorder en daarom sal ons ook voortgaan om die optrede van ander beweerde oortreders te ondersoek.”

James het onderneem dat die bevindings van dié ondersoek binnekort bekendgemaak sal word.

2023-Comrades is weer ʼn “af-wedloop”

Atlete in vanjaar se wedloop spring Sondag by die stadsaal in Pietermaritzburg weg en die marathon kom by die Kingsmead-krieketstadion tot ʼn einde.

Die marathon is ook ʼn kilometer of twee korter as in 2022 en deelnemers sal nou 87,701 km – teenoor verlede jaar se 89,885 km – moet aandurf.

Suid-Afrika se goue langasem, Gerda Steyn, is die gunsteling-atleet om Firth van der Merwe se rekord van 5:54:43 vir die af-wedloop te verbeter.

Steyn het immers in 2019 gewys dat die roete van Durban na Pietermaritzburg gʼn opdraande stryd is nie toe sy die rekord met haar tyd van 5:58:53 laat spat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos 100 ·

Net 3 jaar of 3 wedlope, vir oneerlikheid. Julle moet bietjie kyk hoe krieket spelers straf as hulle oneerlik is. Sommer 2 jaar, en baie wedstryde of lewenslank in sommige gevalle.

Anel ·

Wonder nou of dit die eerste keer is dat so iets gebeur. Dis net soos in ‘n eksamen. Kul om jou matiek te maak of jou graad te kry. Daar is nie iets soos groot en klein kul nie. Kul is kul. Pleks hulle sommer permanent geskors word. Nou het hulle 25 ander, eerlike atlete van ‘n plek ontneem. So iets gaan my ou verstandjie te bowe!!!

Kobus ·

Toe ek nog deelgeneem het moes die klubvoorsitter die inskrywing waar die kwalifiserende maraton en tyd gestipuleer was afteken. Hulle is dus net so skuldig indien die reël nog geld. Oneerlike atlete is steeds deel van die sport. Een atleet spring weg en langs die roete wag ‘n vars een waar hulle frokkies met die nommer op ruil. Niemand weet wat daar tussen die bosse gebeur tydens ‘n “pit stop” nie. Dit sal goed wees indien die name en klubs genoem word. “Name en shame”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.