Cosatu-uitsprake oor ‘misdadige’ boere kwetsend (maar nie haatspraak)

(Foto: Argief)

Die landbouorganisasie TLU SA het die Menseregtekommissie (MRK) se bevinding dat ʼn stelling deur Cosatu – dat sommige boere moordenaars en verkragters is – bloot kwetsend is en nie op haatspraak neerkom nie, verwerp.

TLU SA het vroeër ʼn klagte van haatspraak by die MRK ingedien nadat Cosatu in sy verklaring oor Menseregtedag gesê het “nêrens is menseregte meer in die gevaar as op plase landwyd nie, waar werkers die minste regte geniet en die meeste uitgebuit en misbruik word”.

Die vakverbond se verklaring het voorts gelui: “Genadelose werkgewers steel armoedelone, skop huurders summier uit hul huise, terwyl hulle hul werkers soms aanrand, verkrag en selfs vermoor.”

Die landbouorganisasie sê die kommissie het bevind dat die uitlatings bloot gevoelens seermaak en nie neerkom op ʼn menseregteskending nie.

“Met so ʼn uitspraak het die MRK nou weereens gewys dat hy sake eensydig oordeel en uiteindelik nie veel doen om menseregte te beskerm of te bevorder nie, hoewel dit sy primêre taak is,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

“Ons sal die saak beslis nie daar laat nie, want ons primêre taak is om boere se volhoubaarheid te beskerm.”

TLU SA het hom in Maart tot die MRK gewend ná die bewering dat plaaswerkers landwyd uitgebuit en mishandel word.

Van Zyl sê TLU SA het aangedui dat die stellings veralgemeen en van enige waarheid ontbloot is. Die organisasie het ook aangevoer dit versuur die verhouding tussen boere en werkers en verhoog die voorkoms van plaasaanvalle omdat dit mense – nie noodwendig plaaswerkers nie – opsweep.

Die landbouorganisasie het aangedring op ʼn openbare verskoning van Cosatu aan alle boere en die betaal van skadevergoeding van R5 miljoen aan die slagoffers van plaasaanvalle.

Die MRK het die klagte verlede maand verwerp en gesê die stelling kom nie neer op haatspraak nie.

“In verdere gesprekke met die MRK het TLU SA weer beklemtoon dat uitsprake soos dié van Cosatu haat stook en hulle veiligheid bedreig.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA (Foto: Maroela Media)

Van Zyl sê die MRK hou egter vol dat – hoewel “die taalgebruik nie ideaal is nie” – die stelling nie haatspraak is nie en bloot “kwetsend” is.

Hy het ook verwys na ʼn beslissing van die Appèlhof dat die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag binne ʼn sekere konteks haatspraak is. Die gelykheidshof het in 2019 beslis dat die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag in ’n sekere konteks op haatspraak neerkom. Adjunk-regter-president Phineas Mojapelo het ook destyds bevind dat die swaai van die vlag verdelend en kwetsend is.

Van Zyl sê hulle wil graag by die MRK hoor hoe hy “onderskei tussen wat kwetsend en haatspraak is”.

“Want vir ons kan die vertoon van ʼn ou vlag moontlik vir sommige mense kwetsend wees, maar beslis nie haatdraend nie. Uitsprake dat boere hulle werkers aanrand, vermoor en verkrag is vir ons haatdraend in die ergste graad.

“Ons wil verder ook weet of dit haatspraak sou wees indien TLU SA sê Cosatu-lede is brandstigters en misdadigers omdat een van hulle lede moontlik betrokke was by die afbrand van pakstore in Kirkwood.

“Die probleem – afgesien daarvan dat die MRK duidelik eensydig optree en sommige mense in die land se menseregte meer gelyk as ander s’n ag – is dat die MRK wil redeneer oor terminologie terwyl mense se lewe bedreig word.”

Die organisasie het weer aan die MRK geskryf en onder meer gevra dat die MRK die 37 000 bewyse van beweerde aanranding, verkragting en moord teen boere beskikbaar stel, alvorens die kommissie die klagte voor die voet verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Theunis ·

Cosatu gebruik ‘n politiese platform vir hulle voortbestaan, hulle kyk defnitief nie na die individuele werker se werksbelange of menseregte nie, tensy hulle self polities daarby kan baat. Cosato staan dan hand in die sak tensame met die ANC. Defnitief het hulle nog nie kennis geneem van die ekonomiese impak wat die boere het, ‘n voorbeeld is wat in Zimbabwe gebeur. Dit kom voor dat die MRK ook maar sukkel om deurlopend regverdig te wees, speel politiek hier ook ‘n rol.

Amelia ·

Ja n woord is haatspraak n lansflag is haatspraak maak dit wat gese word dat boere mense verkrag is nie hoe verstaan mense dit met n plaasaanval word mense verkrag en raai deur wie maar wys my waar n boer sy werker verkrag hoekom is daar dan nie verkragtingsaak gemaak nie hierdie menseregte kommisie is net vir sekere mense hoe kan die klomp so bedreig voel deur n handjie vol mense kan nie verstaan nie

piet ·

Dit hang af hoe jy dit interpreteer. As jy verwys na Genadelose boere…. kan dit vir my beteken:
1. ‘n totale veralgemening dat alle boere genadeloos is en hul skuldig maak aan die wanpraktyke ,of
2. Dat net boere wat genadeloos is hulle skuldig maak… of
3. Dat sommige boere wat genadeloos is hulle skuldig maak…
Die stellig sal dus nie noodwendig haatspraak verteenwoordig nie want as net ‘n paar boere hulle aan dit skuldig maak (wat ek dink wel die geval kan wees), is die algemene stelling ook nie verkeerd nie. Ek stem saam met die MRK in die geval.

efjy ·

Die mense aan wie die uitspraak deur cosatu gerig was verstaan nie dit soos jy nie. Hulle “hoor alle” boere doen dit.

Blikkantien ·

Waar is Cosatu se bewyse?! Sekerlik sou die media histeries daaroor berig het indien dit waar was.

Pierre ·

Cosatu maak hulle self skuldig aan n krimenele klag as hulle bewyse het en nie sake maak nie.

Johann ·

Ergste is die MRK is bloot ‘n afkorting vir ‘n instelling. Die werklike onheil lê in die name van mense wat díe besluite bedink en verkondig. Blatante HAATSPRAAK opsig self.

piet ·

As die algemene stelling was dat alle wit boere of alle Afrikaner boere so is, sou dit haatspraak wees.

efjy ·

Gee vir cosatu statistieke van hoeveel boere cosatu lede verkrag en hoeveel van hulle self die verkragwerk doen.

Hennie ·

Ek gebruik ook net “kwetsende” taal, definitief nie haatspraak nie. Ha Ha ….

Jannie van Niekerk ·

Andre Gaum en Chris Nissen sal mos nooit hulle persoonike misdadige huisvriende skuldig vind aan haatspraak nie. Maar as ek as witte dieselfde aantygings maak teen die Cosatu misdadigers sal ek waarskynlik al verlede jaar in die tronk gestop word.

David ·

Cosatu Leiers: Hoe werk dit dan dat jul ANC die minimum loon vasstel en dan boere doodmaak omdat die loon nie genoeg is nie? Die tegniek wat jul volg kom al van die Kongo en Kenia se dae af wat afgespoel het to in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.