DA ‘bekommerd’ oor paneel wat president moet ondersoek

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: STEFAN HEUNIS/AFP)

Die amptelike opposisieparty is bekommerd oor die nuutaangestelde paneel wat pres. Cyril Ramaphosa se betrokkenheid in die Phala Phala-sage gaan ondersoek.

Die DA voer aan dat ʼn spesifieke akademikus se betrokkenheid by die paneel die “legitimiteit en integriteit van die hele proses” in gedrang kan bring.

Die drie gekose lede van die paneel, wat deel sal vorm van die artikel 89-proses wat moet bepaal of die parlement ʼn afsettingsproses teen Ramaphosa moet begin, se name is vandeesweek bekend gemaak.

Sandile Ngcobo, oudhoofregter van die Konstitusionele Hof, is as voorsitter van die paneel aangestel, terwyl oudregter Thokozile Masipa en prof. Richard Calland, medeprofessor in publiekreg aan die Universiteit van Kaapstad, ook op die paneel is.

“Hoewel die DA geen bekommernis het oor die lede van die regbank wat deel is van die paneel nie, is ons nie oortuig van prof. Calland se objektiwiteit en onafhanklikheid nie,” sê Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep.

“Prof. Calland is ongetwyfeld ʼn gerespekteerde akademikus in die regsgemeenskap, maar is ook ʼn politieke kommentator wat gereeld sy politieke sienings, veral wat die president betref, deel.

“Die reëls maak voorsiening daarvoor dat ʼn akademikus in die paneel ingesluit word, maar prof. Calland se betrokkenheid sal onvermydelik die legitimiteit en die integriteit van die hele proses bedreig.”

Volgens Siviwe Gwarube, die DA se hoofsweep, het Calland in sy politieke kommentaar en uitsprake op sosiale media ʼn vooroordeel teen Ramaphosa getoon “wat hom ongeskik maak vir hierdie rol, aangesien die paneel vry moet wees van enige vooroordeel”.

“Dit is onduidelik waarom die speaker – wat bewus is van die sensitiwiteit van hierdie proses – iemand sou kies wat nie as ʼn onafhanklike paneellid beskou kan word op grond van hierdie openbare werk oor die jare nie.”

Die paneellede is daarmee gelas om te bepaal of daar prima facie-bewyse is dat Ramaphosa die wet oortree het met die Phala Phala-sage en of vervolging deur die parlement ingestel moet word.

“As die paneel [se onpartydigheid] in gedrang gebring word – hetsy in realiteit of in persepsie – sal dit beteken dat die hele oefening nie ernstig opgeneem kan word nie,” sê Gwarube.

Die DA is van plan om volgende week sy bekommernis oor die aangeleentheid onder die aandag van die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, te bring.

“Die objektiwiteit van hierdie paneel is die enigste manier waarop ons kan verseker dat hierdie proses nie nutteloos gemaak word nie. Soos dit nou staan, kan lede van die parlement en die publiek nie seker wees dat dit nie die geval sal wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jacobus ·

Ek word elke jaar deur SARS geoudit, wat van hom wat die president is?

Wondermaarnet ·

Goeie vraag. SARS is op almal se “case”, maar wat van CR en sommer alle ANC leiers? Tyd dag hulle sake onder die loep geneem word.

LANA is ELANè ·

Die DA weet mos nou al die een hand was die ander, so maklik soos dit. Asof enige ondersoek in hierdie land na die regerende party se korrupte handelinge al ooit enige vrugte afgewerp het!

Koos 100 ·

Kom nou DA. Onduidelik hoekom daar CR ondersteuners op die paneel is? Is julle so min op hoogte wat in SA en die Prez aangaan.
Nog ‘n kommissie. R1 mil. later. Geen aksie.

Agge nee ·

Die DA weet ook nie aldag wat presies hulle wil hê nie.

Nick ·

Hierdie Phala ding word nou gebruik om ontslae te raak van Rhamaposa en die Zumas weer terug te kry in beheer. Dit moet NOOIT toegelaat word nie!! Almal wat wens Rhamaposa val moet weer dink. Asseblief.

Dries ·

Wat praat jy Nick. Wat kies jy long kanker of maagkanker. Altwee ewe erg. Raak net ontslae van die man

JohanEtz ·

Hoe meer dae hoe meer kommissies!!!

Gooi miljoene in die water – hoeveel dra al oranje oorpakke – bitter min!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.