VF Plus, DA dring ook aan op Nzimande se afdanking

Blade Nzimande, algemene sekretaris van die SAKP (Foto: Zanele Zulu/African News Agency/ANA)

Die DA doen ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa om die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, onmiddellik van sy pligte as minister te onthef en ʼn ondersoek in te stel oor sy betrokkenheid by die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) se fondse.

Chantel King, die DA se woordvoerder oor hoër onderwys, sê die president moet ook sy mag toepas om Ernest Khosa, voorsitter van die NSFAS-raad, te skors van enige betrokkenheid by staatsfondse.

Dit volg ná die drukgroep Outa ʼn ondersoekverslag en twee stemopnames met die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) – wat sedert 2022 korrupsie by NSFAS ondersoek – gedeel het om verdoemende bewerings van ʼn patronaatskapnetwerk in die departement van hoër onderwys te steun. Nzimande en Khosa word direk onder verdenking geplaas.

Nzimande en die NSFAS-raad is egter woedend oor Outa se verklaring en het dit met minagting verwerp.

King sê die stemopnames tussen Khosa en Thulas Ntumba, ʼn diensverskaffer en ʼn anonieme individu het ʼn korrupte patronaatstelsel blootgelê wat slegs daarop gemik is om fondse van studente af weg te lei.

“Hierdie stemopnames werp ʼn blik op korrupsie onder die huidige raadsvoorsitter by NSFAS wat beheer word deur ʼn sindikaat wie se lang vingers ook na die Sektorale Onderwys-en-opleidingsowerheid (SETA) se fondse strek.

“Nzimande se oorlogskamer om uitdagings aan die begin van die akademiese jaar aan te pak, is dus niks anders as ʼn rookskerm om die aandag af te trek van die feit dat meer as 20 000 studente steeds nie aan boord is nie,” sê King.

Nog ʼn verslag deur Outa onthul hoe verblyfdiensverskaffers (instellings én privaat) nadelig geraak sal word wanneer hulle aansoek doen op die NSFAS- gesentraliseerde stelsel vir per bed-akkreditasie en ʼn maandelikse fooi van 5% aan NSFAS gehef word, wat baie NSFAS-studente behoeftig sal laat.

“Tenderooreenkomste met diensverskaffers moet ook deeglik bestudeer word, asook die betrokkenheid van NSFAS se huidige waarnemende hoof- uitvoerende bestuurder, Masile Ramorwesi, as die destydse finansiële direkteur.”

King sê die bewerings en opnames moet sonder inmenging getoets word.

“Pres. Ramaphosa moet in gedagte hou dat hierdie korrupte bedrywighede rakende fondse veroorsaak het dat 87 712 studente nie vanjaar gefinansier sal word nie.

“Studente en die hoëronderwyssektor in die algemeen is noodsaaklik om opgevoede en vaardige mense vir die ekonomiese vooruitgang van die land te ontwikkel.

“Die DA sal verseker dat die verslae wat deur Outa uitgereik is – en enige strafregtelike aanklagte of ondersoeke wat ingedien word – deeglik ondersoek en toepaslike strafmaatreëls of selfs tronkstraf ingestel word teen diegene wat aanspreeklik is.”

Die VF Plus sê hy het ʼn dringende vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir hoër onderwys versoek nadat die NSFAS “weer geruk is met nuwe bewerings van korrupsie”.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en woordvoerder oor basiese en hoër onderwys, sê NSFAS is sedert 2018 – toe die skema die ANC-belofte van gratis hoër onderwys moes waar maak – voortdurend in ʼn noodtoestand.

“Daar is onophoudelik ʼn wolk van korrupsie wat oor die skema en sy begroting van meer as R40 miljard hang.

“Die huidige raad is in 2021 aangestel nadat NSFAS vir twee jaar onder administrasie was. Om die minister en die voorsitter te beskuldig dat hulle omkoopgeld ontvang het, is baie ernstig.

“Die portefeuljekomitee, wie se plig dit is om die minister, asook die departement en entiteite binne die departement (soos NSFAS) verantwoordbaar te hou, het hier ʼn duidelike verantwoordelikheid om na te kom,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.