Dapper Valke-lid geloof ná Limpopo-skietery

Lt. kol. Joe Coetzer (Foto: Facebook)

’n Held. ’n Polisieman in murg en been.

Só word lt.kol. Joe Coetzer (55) van die Valke beskryf wat sy been ná ’n hewige skietgeveg tussen ’n groep transitorowers in Louis Trichardt, Limpopo, verloor het. Hy herstel tans in ’n hospitaal in Polokwane.

Coetzer is tydens die skietery Vrydagmiddag in die regterbeen gewond en om sy lewe te red, moes die been bo die knie geamputeer word.

Die Valke, gespesialiseerde eenhede van die polisie en private veiligheidsmaatskappye het Vrydag net ná 14:00 op ’n luukse huis in Eltivillas in Louis Trichardt toegeslaan terwyl ’n sindikaat van transitorowers ’n rooftog beplan het. Die rowers was swaar gewapen.

Die verdagtes was op die punt om die huis te verlaat om hul planne uit te voer, toe hulle besef het dat hulle deur die owerhede gemonitor word.

’n Skietgeveg het tussen die owerhede en rowers uitgebreek en sowat 90 minute geduur.

Volgens brig. Thandi Mbambo, woordvoerder van die Valke, is Coetzer ná die voorval per helikopter na ’n hospitaal in Polokwane gehaas vir verdere mediese behandeling. Spesialiste het onverpoos gewerk om sy been te red, maar hulle moes dit egter bo die knie amputeer.

Mbambo het Maandagoggend aan Maroela Media bevestig dat Coetzer “goed herstel”.

Lt. kol. Joe Coetzer herstel tans in die hospitaal (Foto: Facebook)

Volgens inligting van André Snyman, stigter van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch, en die drukgroep Public Interest SA, het Coetzer nie die geveg laat vaar toe sy vingers raakgeskiet is nie.

Paramedici het sy vingers verbind en hy is toe terug na die “oorlogsterrein” om sy kollegas uit te help. Hy is daarna in die been geskiet.

“Coetzer is ’n ware held. Hy het merkwaardige moed en vasberadenheid aan die dag gelê en aanhou baklei om seker te maak geregtigheid geskied, selfs nadat hy ernstig gewond is. Ons is geraak deur Coetzer se dapperheid,” sê Cassandra Kau, woordvoerder van Public Interest SA.

Volgens Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, bewys Coetzer en sy kollegas se optrede dat daar nog talle polisielede is wat alles in die stryd sal werp teen misdaad en selfs bereid is om hul lewe op die spel te plaas om wet en orde in die land te handhaaf.

Daar is aanvanklik berig dat 18 verdagtes tydens die skietery omgekom het. Volgens lt.kol. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, is nog ’n liggaam van ’n volwasse man Saterdag in een van die kamers in die huis ontdek.

Die misdaadtoneel in Louis Trichardt (Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

Dit bring die getal verdagtes wat tydens die skietery dood is op 19 te staan, onder wie 17 mans en twee vroue.

“Daar is op springstof, 11 vuurwapens, ammunisie en verskeie aanvalsgewere beslag gelê,” bevestig Maluleke.

“Daar is ook beslag gelê op vyf voertuie, waaronder ’n Land Rover Freelander, ’n Toyota Hilux-bakkie, ’n Ford Ranger Wildtrak-bakkie, ’n Jeep Cherokee-sportnuts, ’n Mercedes-Benz GL en ’n Volkswagen Tiguan. Drie van die voertuie is in Mpumalanga en Gauteng gesteel.”

Tydens die skietgeveg is vyf verdagtes by ’n ander adres in Thohoyandou, Limpopo, aangekeer. Die verdagtes is glo deel van die sindikaat.

“Een vermoedelik gesteelde voertuig (’n Volvo) en nog ’n voertuig – met ’n ambulansteken – is by die tweede adres in Thohoyandou gevind en daarop beslag gelê. Daar word vermoed dat die voertuig wat soos ’n ambulans lyk, gebruik sou word om die gesteelde geld ná die rooftog van Limpopo na Gauteng te vervoer.”

Die vyf verdagtes sal na verwagting vandag in die landdroshof in Vuwani verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde voertuie.

Die proses om die oorledenes te identifiseer sal ook Maandag geskied.

Maroela Media het vroeër berig die toeslaan op die sindikaat is die hoogtepunt van ’n groot ondersoek wat reeds in Januarie vanjaar begin het.

Limpopo het die afgelope jaar veral onder ’n vlaag transitorooftogte deurgeloop. Luidens die jongste misdaadstatistieke het daar tussen April en Junie vanjaar 11 transitorooftogte in die provinsie plaasgevind.

“Limpopo en Mpumalanga het kragte saamgesnoer om die sindikaat vas te trek. Verdagtes is geïdentifiseer op grond van verskeie ondersoeke wat deur die span uitgevoer is. Ons glo dus dat ons inderdaad die verdagtes vasgetrek het wat ons ondersoek het. Vedere ondersoeke sal van stapel gestuur word om vas te stel of die groep by ander misdade betrokke was,” het lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, gesê.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die polisiekommissaris van Limpopo, het in Junie vanjaar erken dat transitorooftogte ernstig toegeneem het in veral die Vhembe-distrik. Hy het bekendgemaak dat ’n kontant-in-transito-plan vir Limpopo ingestel is.

“Dit lyk asof die instelling van dié plan suksesvol is en hopelik sal hierdie optrede van die polisie ander transitorowers ontmoedig,” sê Maritz van die VF Plus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Koos 100 ·

Baie goeie werk, mag jy gou herstel. Ek is egter ook oortuig dat jy een van die lede van die STM was, wat moes plek maak vir ander lede. Maar jou opleiding en durf kan niemand van jou wegneem nie!

Jason ·

Nie hoofsaaklik pad gemaak nie. Die STF se standards is nogsteeds so hoog so altyd. Baie veteran taakmag en NIU beamptes word beter posiesies in die valke se spesiale eenheid(TOMS) aangebied en dus verseker dit dat die manne en dames met die kennes in die diens bly en die taakmag se operationele standarde bly staan

Leon ·

Hierdie operasie was n span poging. Ander eenhede en lede betrokke verdien dieselfde lof

Yolandie ·

Ja Leon die ander lede wat betrokke was verdien ook erkenning. Ek wil egter sê dat die betrokke man wat reeds gewond was toe die toneel kon verlaat het – maar geskies het om terug te gaan en in die proses nou sy been kwyt is…….so die uitsondering in my opinie kom hom toe.

JohanR ·

Nou 19 dood by daai huis. Dit behoort vir ‘n rukkie transito rowers te stuit. Baie dapper man die. Hoe kan die wees dat die skelms amper beter bewapen is as die polisie?

Goldy ·

90 minute is n Baie lang tyd, ons is nou in n stadium waar mini oorloe uitbreek. Dis nou waar n links linerale regstelsel die misdadigers so mooi oppas en laat groei dat hulle begin om te regeer.

Bolandse Nooi ·

Kyk net van waar “opereer” hulle. ‘n “Housing establishment” … een van daardie fênsie spoghuis, spogwoonbuurt plekke! Kyk net na die voertuie wat betrokke was (weliswaar almal gekaap, maar nog steeds … LUUKSE modelle). Dit laat geen twyfel nie: die “Nigerian Mafia/Crime Cartels” is hoogs operatief in Suid-Afrika!

Kobus ·

Ek ken hom nie maar hy lyk soos ‘n yster. Geharde en lojale dienaar. Sterkte, dit kan nie maklik wees nie.

Bolandse Nooi ·

Ek haal my hoed vir u af, Genl. Duidelik is u nog een van die pre-1994 SAP (ja, Suid-Afrikaanse Polisie, NIE SAPD = South African Police Department nie!) beamptes wie se werk sy eer en trots is. Ek is baie jammer dat u u been verloor het; ek hoop nie die SAP[D] verloor u nou as direkte gevolg hiervan nie. U kan steeds ‘n waardevolle rol speel in misdaad-intelligensie en kriminele ondersoekwerk.

Dewald ·

Om die skuldiges te verwyder uit die samelewing word daar verseker dat hul nie weer n misdryf sal pleeg nie. Wel gedaan.

Blikkies ·

10/10, kon nie vir ‘n beter uitslag gevra het nie. Kol Coetzer jy is ‘n yster en ek weet jy gaan goed herstel. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.