Dickason-verhoor: Websoektogte oor oordosis vir kinders

Die Dickason-gesin. (Foto: Facebook)

Internetsoektogte oor “dodelike dosisse” medisyne vir kinders is op Lauren Dickason se selfoon gevind. Sy het dit enkele weke voor die moord op haar drie dogtertjies glo probeer verwyder.

Die jurie het Maandag in die hooggeregshof in Christchurch, waar Lauren tereg staan vir die moorde op haar dogtertjies Liané (6), Maya en Karla (albei 2), gesien waarna Lauren op die internet gesoek het kort voordat sy besluit het om die drie kinders met kabelbinders en daarna hul kombersies te versmoor.

Stuff.co.nz berig dat die soektogte in Julie en Augustus 2021 op Lauren se foon gedoen is. Sy het aanvanklik die soekgeskiedenis verwyder, maar ná verdere ondersoek kon die polisie dit herwin.

Die soekgeskiedenis sluit in:

“Dodelike dosis alprasolaam vir kinders.” Dit is op 31 Julie op Lauren se selfoon se internetsoekfunksie opgesoek. Alprasolaam word gebruik om angs en paniek te behandel.

Op 14 Augustus het sy gesoek: “Ambien dodelike dosis”. Ambien word gebruik om slapeloosheid te behandel.

Skaars ʼn week later is daar weer na “doeltreffendste oordosis by kinders” gesoek en einde Augustus is “dwelms om kinders te [laat] oordoseer” opgesoek.

Joshua Locke, ʼn digitale forensiese ontleder vir die polisie, is tydens kruisondervraging deur Lauren se prokureur Abbie Hollingworth oor die internetsoektogte gevra.

Hollingworth het Locke gevra of die foonrekords aandui wie die foon tydens ʼn sekere bedrywigheid gebruik het, en wat daardie persoon gedink het terwyl hy of sy dit gedoen het. Locke het bevestig dit doen nie.

Hollingworth het ook gevra of Locke opdrag gekry het om sommige soektogte uit sy finale ontledingsverslag te verwyder. Dit sluit een soektog in wat verband hou met vergiftiging deur droplekkers (liquorice).

Locke het bevestig dat hy dit nie by die verslag oor Lauren se foon ingesluit het nie nadat hy opdrag gekry het dat dit nie relevant is nie. Die ondersoekbeampte in die saak het dit so aan Locke oorgedra.

Volgens Hollingworth was Lauren destyds besig om ʼn TV-program te kyk wat vergiftiging met droplekkers behels het. Locke het gesê hy was onbewus hiervan.

Hollingworth het aan die hof gesê dat hierdie maar een voorbeeld is van hoe ʼn internetsoektog dalk as sinister gesien kan word, maar met konteks nie aandui wat Lauren destyds gedink het nie.

Locke het haar stelling aanvaar.

Lauren ‘nie gevaar’

Die Dickason-sussies is dood in hul huis in Nieu-Seeland aangetref. (Foto: Facebook)

Die jurie het Maandag briewe onder oë gehad wat dokters verskaf het oor Lauren se geestesgesondheid. Die briewe was deel van die Dickason-gesin se emigrasie-aansoeke.

Die eerste brief is in Februarie 2020 deur ʼn psigiater in Suid-Afrika geskryf en is aan die owerhede in Nieu-Seeland gerig. ʼn Afskrif van die brief is in Lauren se foon se fotogalery gevind.

Die brief het daarop gewys dat Lauren sedert 2015 ʼn pasiënt by die praktyk is en dat sy aan ʼn ernstige “depressiewe versteuring” lei.

“Sy kan goed funksioneer ten spyte van haar siekte en was nog nooit in ʼn psigiatriese hospitaal opgeneem nie,” lui die brief.

“Dr. Dickason was nog nooit ʼn gevaar vir haarself of enige ander persoon nie.”

Die brief het gelui dat Lauren finansieel vir haarself kan sorg en dat haar gemoedstoestand stabiel is met gebruik van die voorskrifmedisyne Cipramil en Trepiline.

“[Sy] sal moet voortgaan met haar medikasie en kan op ʼn buitepasiëntbasis met haar behandelende dokter opvolg.”

Volgens Lauren se selfoonrekords het die Nieu-Seelandse immigrasieowerhede in September die volgende jaar, nadat die Dickasons reeds in die land aangekom het, só ʼn brief aangevra.

Lauren het die brief per e-pos gestuur met die meegaande boodskap:

“My verslae. Het ook nie weer dokter gesien nie en nou van alle medikasie af. Ons het hierdie goed vir die dokter in Suid-Afrika gegee. Miskien het hy vergeet om hulle in te skandeer? Vriendelike groete, Lauren.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Truman Burbank ·

Wat sy gedoen het en die navorsing wat dit vooraf gegaan het, het absoluut niks met depressie te doen nie.

Minnie ·

Stem 100% saam.
Dit maak my siek voel dat sy depressie as verskoning wil gebruik.

Althes ·

Haar arme man is beskuldig dat hy nie aandag geskenk het aan haar sielkundige probleme nie. Nou is daar ñ duidelike bewys dat mense onnodig oordeel en dat sy voorafbeplande gedagtes gehad het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wag totdat die verdediging hul eie getuies en kenners begin roep. Dan sal jou siening weer veander. Regsgeleerdes is goed om die jurie se gedagtes in ‘n rigting te stuur.

piet ·

Nee wat, sy kan nie geestesongesteldheid ten tyde van die moorde aanvoer nie. lank voor die tyd reeds beplan (voorbedagte rade). Ek hoop sy sit LANK.

Jr ·

Man sluit haar toe en gooi die sleutel weg. One of the worst monsters you can get. A mother that kills her own children. Ek is oupa en dis unimaginable om so iets te doen. Gun simpatie

Henriette ·

Henna So hartseer dat daar baie is wat geen benul van depressie het

Truman Burbank ·

Die wat dit as verskoning aanvaar vir moord, het geen benul daarvan nie.

AH ·

As almal wat aan depressie ly hul Kinders vermoor sal dit ‘n katastrofiese euwel wees! Sy was genoeg by haar verstand om maniere te soek om haar kinders dood te maak. Dit was dis goed beplan!

ES ·

Ek kan nie dink wat deur jou kop moet gaan om jou eie kinders te moet vermoor nie – ek dink nie depressie kan daarvoor beskuldig word nie. Daar moet werkliks iets boos in haar wees om dit te kon doen.

Hannelie ·

My mening is sy gaan n lang vonnis opgele word na al die inligting wat nou voor en dag kom.

AH ·

Hoe gaan hulle bewys dat sy nie geweet het wat sy doen toe sy navorsing gedoen het oor maniere om haar kinders te vermoor nie?

Sue ·

Die ongemaklike waarheid is dat sy oor n tyd perk daaroor gepraat het, wat daarop dui dat Sy van haar kinders wou ontslae raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.