Diplomatieke kollig op SA by Geregshof

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag die eerste gedeelte van verlede jaar se sensusopname aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig. (Foto: The Presidency/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse regering is hoopvol dat ʼn grensverskuiwende saak van “volksmoord” teen Israel in die Verenigde Nasies se hoogste hof sy internasionale posisie ʼn hupstoot sal gee en sal help om plaaslike steun vir die ANC in aanloop tot ʼn kritieke verkiesing later vanjaar te werf.

Die regering stuur van die land se voorste regskenners na Den Haag om Israel die stryd in die Internasionale Geregshof aan te sê. Suid-Afrika vra die hof onder meer vir ʼn bevel wat Israel sal dwing om sy militêre operasies in Gaza onmiddellik te staak.

“Hulle is ʼn A-span,” sê prof. Cathleen Powell, ʼn internasionale regskenner verbonde aan die Universiteit van Kaapstad.

“Hulle het mense saamgevoeg wat uiters kundig in internasionale reg is, en mense wat spesifiek goed daarmee is om sake in ʼn hof aan te voer.”

Dit is Suid-Afrika se eerste aansoek in die Internasionale Geregshof, ʼn stap wat volgens ontleders deur historiese en politieke redes gemotiveer word.

Die ANC-regering is lankal reeds ʼn lojale ondersteuner van die Palestynse bevolking, en vergelyk dié nasie se historiese struwelinge met die ANC se eie vryheidstryd gedurende apartheid. In dié tyd het Suid-Afrika noue bande met Israel gehandhaaf.

Wyle oudpres. Nelson Mandela het destyds gesê Suid-Afrika se eie vryheid sal “onafgehandel wees sonder die vryheid van die Palestyne”.

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek aan ANC-ondersteuners gesê Mandela se leerstellings het die stap geïnspireer en dit terselfdertyd as ʼn “beginselsaak” beskryf.

“Die mense van Palestina word vandag gebombardeer, hulle word doodgemaak,” het hy gesê.

“Ons was verplig om op te staan en die Palestyne te ondersteun.”

Tog sê ontleders daar steek meer in die motivering vir Suid-Afrika se klag, naamlik steunwerwing in aanloop tot die nasionale verkiesing wat later vanjaar plaasvind. Die ANC het vanjaar weer deurgeloop onder beskuldigings van korrupsie en wanbestuur en het nou, waarskynlik meer as ooit, plaaslike steun nodig.

Deur ʼn beginselsaak internasionaal te dryf, kan die aandag moontlik van al die party se plaaslike probleme afgelei word en wys dat die party wel getrou aan sy kernwaardes is.

“Die ANC beskou die saak in die Geregshof as ʼn manier en basis om sy prominensie terug te kry wat oor die afgelope 30 jaar weens toenemende beginsellose regering weggekwyn het,” het Sara Gon van die Instituut van Rasseverhoudings (IRR) gesê.

Ander het dit as ’n mediafoefie uitgekryt.

Prof. Koos Malan, regskenner, het vroeër aan Maroela Media gesê dat die aansoek boonop wrywing tussen Moslem- en Joodse gemeenskappe (albei minderheidsgroepe) in Suid-Afrika kan aanvuur. Die Moslem-gemeenskap sal waarskynlik ʼn positiewe reaksie op die aansoek hê, terwyl die Joodse gemeenskap en Joodse leiers in die land reeds hul misnoeë op verskeie platforms te kenne gegee het.

Gon sê die tyd sal leer hoe die konserwatiewe Christenmeerderheid in die land die aansoek sal beoordeel.

Verskeie Christenleiers het dit reeds veroordeel en as mediafoefie beskryf, terwyl die regering in sommige geledere van anti-semitisme beskuldig is.

Op internasionale vlak kan die saak Suid-Afrika se posisie dalk versterk – veral onder sy noue diplomatieke bondgenote, het Gon verder gesê.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrika se regspan, onder leiding van adv. Adila Hassim, sal in mondelingse argumente aanvoer dat die Israeliese weermag se aanvalle op Gaza ná Hamas se aanval op 7 Oktober veel verder as selfverdediging gegaan het, en ten doel het om die hele Gaza-bevolking uit te wis.

Benewens ʼn bevel om Israel aan te sê om sy Gaza-offensief onmiddellik te staak, vra Suid-Afrika ook vir bevele om gedwonge ontheming te staak en humanitêre toegang moontlik te maak.

Die saak word Donderdag en Vrydag aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johann ·

Nog ‘n multi miljoen rand ANC politieke foefie wat met RSA belasting betaal word.

Euodia ·

Hoelank gaan die anc nog op Mandela se rug ry. Wanneer vat hulle Rusland hof toe?. Dit is nie Israel se doel om mense dood te maak nie. Hulle veg vir hul land en Hamas het eerste aangeval. Wie betaal vir al die mense wat in Den Haag is en vir al die palesteinse serpe ? Vra maar net.

M ·

My innige simpatie met dié poging van die anc om te probeer stemme werf hiermee.
Die derduisende, ongeskoolde en totaal beklaenswaardige , wydverspreide plattelandse bevolking, weet nie en verstaan nie, …………en diesulkes het absoluut géén belang daarin/daarby nie. Hulle “soek ” net hulle Hoender-pakkie en die T-hempie. ” Small things amuse …………” Ja, so is dit.

ilse ·

Jammer dieselfde kundiges word nie aangewend vir die staatskaping sake nie.

Gerrit Johannes ·

Kan iemand ook die ANC kaders vra om presies dieselfde proses teen Rusland te volg, sodat die vernietigende oorlog in die Ukraïene onmiddelik gestaak sal word.
Miskien kan hulle nog meer punte in die wêreld “score”.

Mariana ·

Waar is jou beginsels waar dit by jou eie land en sy mense kom. Julle is self volksmoordenaars en elke dag in SA is een groot “struggle” onder die ANC. Stem saam met Seef. Hy stel dit eintlik te lig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Skop die land uit Agoa en laat die sports begin. Dit sal die einde van land beteken en opregte vryheid bring.

annie ·

Die glo foutlose Mandela was iemand baie anders as dié persoon wat aan die wêreld voorgehou is tot die voordeel van die terroriste organisasie wat hy toe as die president van die nuwe reënboognasie in SA verteenwoordig het en selfs in die queen se goue koets geparadeer het soos Cyril ook ‘n jaar of wat gelede. Cyril glo ook nou hy is ‘the darling of the world’.

KB ·

Mag die SA regslui (en die ANC-regering) die pakslae van hul lewe kry in die Wêrelchof in DenHaag.

Boatsie ·

Kan ‘n mens so sotlik redeneer om te dink deur Israel hof toe te vat gaan verseker dat SA’ners werk kry en kos op die tafel het( en stomme t-shirt en kospakkie kiesers val maar weer daarvoor)

Raadsman ·

Dit gebeur wanneer die ANC regering wat dink hulle is verhewe bo die wet in SA, dieselfde probeer doen in die buiteland. Arrogansie gaan hulle op hul neus laat kyk.
Hulle gaan so sleg hiervan afkom dat dit eintlik ‘n goeie ding is wat gebeur.

Talia ·

Ek kan nie indink dat die hordes ongeskoolde mense wat altyd vir die ANC stem die raaksien as ‘Wow, ANC, julle is awesome, ek stem weer vir julle!”. Ek dink nie dit is hoekom hulle dit doen nie. Hamas was verkeerd, en die IDF is ook verkeerd. Die een het meer militêre ondersteuning en geld en wis n populasie uit. Ek dink nie die ANC is verkeerd nie. Ek wens net hulle het vir hulle eie mense opgestaan soos wat hulle doen vir die mense van Gaza. Die ANC sal n teleurstelling bly, al stem ek saam met hulle die een keer…

ES ·

Dis definitief ‘n media foefie. Die ANC weet hulle kan baie moontlik hierdie verkiesing verloor so hulle probeer allerhande aandag-afleidende taktieke om hul eie korrupsie en onbevoegdheid oor die laaste 30 jaar van almal se gedagtes weg te vat.

anko ·

Uit en uit verkiesings foefie om fondse te bekom. Rama en kie vee eers voor jul eie deur. Hier is genoeg vuillis om julle lank besig te hou. Hou op om belastingbetalers fondse onnodig te mors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.