‘Dit was ʼn donkie se bloed’ – staatsgetuie

Beskuldigde vier: Kgomotso Mpulwana (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

ʼn Staatsgetuie in die moordsaak van die drie lede van die Brand-gesin van Vaalharts het Maandag in die hof getuig hoe hy die beskuldigdes met ʼn bebloede motor teëgekom het en hoe hulle later die slagoffers se liggame aan hom uitgewys het.

Die 20-jarige Realeboga Manyedi het sy halfbroer Tshepo Visagie (36) op Sondag 26 Julie 2020 omstreeks 16:00 met ʼn emmer in die hande by die Diretsaneng-nedersetting in Taung, Noordwes, ontmoet. Visagie het hom opdrag gegee om hom daar te kry.

Voor Manyedi het ʼn silwer Mazda CX5 gestaan. Die motor se bagasiebak was vol bloed. “Dit was die bloed van ʼn donkie waarteen ons vasgery het,” het Visagie vir Manyedi gesê.

Visagie het ʼn selfoon, skoolsak en skootrekenaar uit die motor gehaal, waarna die emmer by ʼn nabygeleë kraan volgemaak is. Visagie, Manyedi en Donald Seoleseng (21) het die bagasiebak begin was. Tsepaone Melato (20) het op ʼn boomstomp gesit en rook.

Manyedi het Maandag in die hooggeregshof in Kimberley in die Noord-Kaap getuig in die moordverhoor van Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54). Seoleseng, Visagie en Melato is saam met Kgomotso Mpulwana (43) die beskuldigdes in die saak.

Beskuldigde twee: Tshepo Visagie (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die vier staan tereg op drie aanklagte van moord, een aanklag van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van dwarsboming van die gereg. Seoleseng word ook daarvan aangekla dat hy uit aanhouding ontsnap het.

Die Brand-gesin is volgens Manyedi se getuienis die Sondag ontvoer en vermoor. Hul motors, ʼn rooi Nissan Micra en ʼn silwer Mazda CXS 5, het saam met hulle spoorloos verdwyn.

Alle klagte teen Manyedi is verlede week laat vaar en hy is as staatsgetuie geroep om te getuig.

Nadat hulle die motor gewas het, het Visagie aangedui dat hy hom (Manyedi) iets wil gaan wys. Hulle is met die Mazda die veld in.

Dit is toe dat Visagie vir Manyedi vra of hy al iemand doodgemaak het. “Ek het eers nie geantwoord nie. Hy het weer gevra en ek het ‘nee’ gesê,” sê Manyedi.

Die broers het saam met Seoleseng en Melato in die veld stilgehou en Manyedi vertel hy het twee mense – met bloed aan hul koppe – in die bosse sien lê.

“Die vrou het nog asemgehaal, maar die man was reeds dood.”

Beskuldigde een: Donald Seoleseng (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die vrou is as Elzabie geïdentifiseer en die man as Dan. Dit het Maandag in die hof uitgekom dit is nie Elzabie se liggaam wat in ʼn blou duvet in ’n watergat in die Taung-omgewing gevind is nie, maar dié van Breggie.

Volgens Manyedi is Elzabie se liggaam in die bagasiebak gelaai en langs ʼn boom gelaat.

Die vier is vandaar na ʼn huis in Vaaltyn, in die Taung-omgewing, waar Visagie ʼn selfoon en skootrekenaar vir R400 verkwansel het, getuig Manyedi.

“Ons het toe brandstof ingegooi en is na die Mokasa-nedersetting, waar ʼn rooi Nissan Micra met ʼn pap band op ʼn grondpad gestaan het. Ons (Manyedi, Visagie en Melato) het die motor toe by ʼn steengroef naby die Majaneng-nedersetting gaan laat. Seoleseng het ons met die Mazda gevolg.”

Volgens Manyedi het hulle die liggaam van ʼn vrou (geïdentifiseer as Breggie) agter die voorste sitplekke van die Nissan uitgehaal en in die bagasiebak van die Mazda gelaai. “Die liggaam was in ʼn kombers toegedraai.”

Beskuldigde vyf: Tsepaone Melato (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die liggaam is in ʼn watergat in die Taung-omgewing gelaat, het Manyedi getuig.

Die vier mans is die volgende dag (Maandag 27 Julie) na Rooiwal, Taung, waar hulle Mpulwana ontmoet het. Daar het Manyedi, Seoleseng en Melato die Mazda binne en buite gewas.

“Mpulwana het ons later gevra of ons gou haar kinders kan gaan haal. Ons is in die Mazda net buite Rooiwal deur polisie voorgekeer.”

Manyedi voer aan die polisie was op soek na ʼn silwer Mazda CX5 met ʼn Gautengse nommerplaat, terwyl die een waarin hulle gery het ʼn Noord-Kaapse nommerplaat gehad het.

“Hulle het ons gelos en ons het aanhou ry. Visagie het kort daarna uit die motor gespring.”

Die polisie het die motor ʼn ent verder weer afgetrek en Seoleseng, Manyedi, Mpulwana en Melato in hegtenis geneem.

“Die polisie het gevra oor die liggame en Tshepo en ek het besluit om hulle alles te vertel.”

Manyedi het eers Breggie se liggaam in die watergat en toe Dan en Elzabie se liggame aan die polisie uitgewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

Is die bloed wat in die bagasiebak gekry is nie gestuur vir forensiese ontledings nie.Is die beskuldigdes met DNA toetse positief verbind met die oorledenes.Die staat gaan sterk leun op die Manyedi se getuienis.

Snowball ·

‘God’s rainbow nation’ is toe net een bloedspoor van moord en verraad. ‘n Lewe is niks werd vir hierdie gespuis in hierdie hool nie.

Estelle ·

Dis altyd my pot se deksel hoe kop onderstebo hulle in die hof sit na die tyd. Waar is die bravade nou? Gemors!!!

Herman L ·

As die bloed in die kattebak was, moes hulle baie vinnig agteruit gery het om die donkie so hard te tref dat sy bloed in die kattebak beland het! Dit klink na ‘n baie flou verskoning.

Willem ·

Presies, en as daar soveel bloed was, waar is die skade aan die voertuig? Die goed lieg so, hulle glo hulself.

Hannelie ·

Net snaaks dat sy nou staatsgetuie is…….bang vir die boere van Vaalharts????
Hulle weet hoe jy lyk!!!!!

Madz ·

Ek mag nie vloek nie maar ek MAG God se wraak oor julle 4 uitspreek! Mag julle dade by julle spook en julle teister tot aan die einde van jul misrabele lewens! Mag julle nuttelose lewens met dieselfde geweld (of meer!) geneem word en mag julle dan terugflitse sien van hierdie onskuldige mense oor wie se lewens julle god gespeel het en weet: GOD.SLAAP. NIE! Ons “blinde” regering slaap dalk maar nie ons Almagtige Vader nie! Sy wraak kom hulle ook toe wat hierdie “tereur dade” toelaat deur anderkant toe kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.