Dodetal van Jhb-brand nou op 77

(Foto: Luca Sola/AFP)

Die getal persone wat Donderdagoggend hul lewens in die verwoestende brand in Johannesburg verloor het, staan nou op 77, het Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR van gesondheid in Gauteng, bevestig.

Die departement van gesondheid in Gauteng het Saterdagaand terugvoer oor pasiënte wat by verskeie gesondheidsfasiliteite behandel is, gegee. Terugvoer oor nadoodse ondersoeke is ook hierby ingesluit.

Uit die 88 pasiënte wat by verskeie gesondheidsfasiliteite opgeneem is, word 31 mense nog vir hul beserings behandel.

“Van dié 31 pasiënte het slegs vyf nog semi-kritieke sorg nodig, maar hulle is by hul bewussyn,” sê Nkomo-Ralehoko.

“Die pasiënte wat opgeneem is, het geen impak op die normale vloei van traumapasiënte in fasiliteite nie.”

Nkomo-Ralehoko sê sy kan bevestig dat die departement op koers is om die nadoodse ondersoeke van die 74 oorledenes af te handel.

“Namate meer gesinne na vore kom om hul geliefdes wat moontlik in die brandvoorval omgekom het, aan te meld, kan ek bevestig dat patoloë teen Saterdagaand reeds 58 nadoodse ondersoeke afgehandel het en dat daar slegs 16 oor was om Sondag af te handel.”

Volgens die departement is daar 62 onidentifiseerbare liggame by die Diepkloof Forensiese Patologiedienste (FOD) se lykshuis en 12 identifiseerbare liggame. Nege gesinne het reeds hul geliefdes uit die 12 identifiseerbare liggame geïdentifiseer.

“Sodra die gesinne die nodige prosedures voltooi het en die vereiste identifikasiedokumente gelewer het, sal die liggame van hul geliefdes aan hulle oorhandig word vir ʼn begrafnis,” sê Nkomo-Ralehoko.

Tot op hede het 40 gesinne by die fasiliteit aangeklop om hul geliefdes aan te meld, waarna ʼn lys geskep is met 66 name van persone wat moontlik in die brand omgekom het.

Volgens Nkomo-Ralehoko werk die polisie se slagofferidentifikasiesentrum baie hard en hulle het tot dusver 43 DNS-monsters van 74 liggame geneem en 13 DNS-monsters van gesinslede geneem wat met 23 van die onidentifiseerbare liggame verbind kon word.

“DNS-monsters kan slegs van direkte gesinslede (broers en susters of ouers) geneem word. Sodra die monsters vir die oorledene en van die familielede geneem is, sal hulle kruisverwys word om hulle te pas as deel van die uitkenning van oorledenes.”

Beradingsdienste word steeds by die Diepkloof FOD se lykshuis deur geestelikes sowel as die departement se sielkundiges verskaf.

Die Gautengse provinsiale regering het ook ’n blitslynnommer beskikbaar gestel om familielede te help om hul geliefdes op te spoor. Navrae kan gedoen word deur die tolvrye blitslynnommer by 0800 203 886 of direkte lyn gedurende kantoorure by 011 355 3048/011 241 5707 te bel.

Intussen het verteenwoordigers van die ambassades van Zimbabwe en Malawi Saterdag die Diepkloof Forensiese Patologiedienste besoek om die status van mense van hul onderskeie lande vas te stel en om te kyk watter soort ondersteuning hulle kan bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amelia ·

Kom na suid afrika vir n beter lewe maar hier is ook nie werk nie en kyk nou wat het gebeur sou dit bv in hul eie lande gebeur het

Vonkprop ·

Zimbabwe en Malawi kan ondersteuning bied deur hulle mense te kom vat. Kan nie glo hoe hopeloos hierdie mense is nie.

Blikkies ·

So ons weet nou sonder twyfel dit is meestal buitelanders, en miskien ook nog onwettige immigrante. Is daar ‘n aanduiding van ongeveer hoeveel mense in totaal in die gebou geplak het?

JohanR ·

Al gaan daar ‘n nuwe woonstel blok, of kantoor blok daar op gaan dit daar vir altyd spook!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.