Dokters ook deur TMPD-skelms geteiken

Selfs dokters word deur sommige Tshwane-metropolisiebeamptes geteiken. (Foto: Facebook)

Selfs dokters spring nie sommige van die Tshwane-metropolisiebeamptes (TMPD) se oënskynlike skrikbewind op Pretoriase motoriste vry nie – nie eens wanneer hulle op noodgevalle reageer nie.

Talle dokters is van mening dat dié korrupte bedrywighede nou menselewens in gevaar stel.

Een só ʼn dokter sê hoewel hy nog nie in die vroeë oggendure voorgekeer is nie, weet hy van minstens vyf van sy kollegas wat al deur korrupte beamptes geïntimideer is. Die dokter, wat anoniem met Maroela Media gesels het, meen dit is veral ginekoloë op pad na en van bevallings wat deurloop.

Een van sy vrouekollegas, ʼn ginekoloog, is onlangs na die Steve Biko-hospitaal vir ʼn noodkeisersnee ontbied toe sy voorgekeer is.

Volgens die dokter het die betrokke metropolisiebeamptes glo ʼn geruime tyd lank in ʼn gemerkte voertuig agter haar aangery voordat sy eindelik van die pad afgetrek is.

Die beamptes het haar na bewering daarvan beskuldig dat sy dronk bestuur en haar toe met inhegtenisneming gedreig as sy nie opdok nie. Dit terwyl sy herhaaldelik vir hulle verduidelik het dat sy ʼn dokter is wat dringend by die hospitaal moet uitkom.

“Sy het naderhand vir hulle gesê as die pasiënt doodgaan terwyl hulle haar ophou, dit op hulle hande is.”

Eers toé het die beamptes teruggestaan en haar toegelaat om te ry.

“Ek dink die beamptes het besef sou hulle dalk met die dood van ʼn pasiënt verbind word, hulle in groot moeilikheid sal beland,” sê hy.

Die dokter, wat by die Pretoria-Oos-hospitaal werksaam is en soms ook op noodoperasies moet reageer, is van mening dat ginekoloë die kwesbaarste is, omdat hulle werksure so wisselvallig is.

“Die res van ons kan minstens probeer om ons noodgevalle te bestuur, maar dit beteken nie dat ons nie die intimidasie vryspring nie.”

Dit is glo ʼn algemene uitdaging om hierdie soort korrupte beamptes te oortuig dat jy ʼn dokter is en op daardie tydstip op ʼn noodgeval reageer.

In die verlede is dokters van personeelkaarte voorsien, maar dié soort identifikasie raak al hoe minder algemeen.

“Al wat ons nou onmiddellik byderhand het om ons te identifiseer is ons teaterklere wat dalk ons titel, naam en afdeling op het,” sê hy.

“Baie van my kollegas wat afgetrek is, het hulle teaterklere gedra, maar is nogtans nie geglo nie.”

Die Tshwane-metropolisie. (Foto: Facebook)

Nog ʼn dokter, wat ook anoniem wil bly, sê hy is die afgelope vier maande al twee keer afgetrek. Hierdie dokter spesialiseer in familiemedisyne, maar is ook ʼn gekwalifiseerde narkotiseur en reageer veral op mediese noodgevalle by die Kalafong-hospitaal aan die weste van Pretoria.

Met die eerste voorval in November verlede jaar was hy op pad na ʼn operasie. Hy is eers laat gaan toe die beamptes ʼn ander motor gewaar het.

“Wie weet hoe lank ek daar sou moes wag as hulle nie iemand anders in hul visier gekry het nie.”

Hy erken dat hy in albei gevalle geïntimideerd gevoel het, veral toe hy met inhegtenisneming gedreig is voordat daar ʼn bloedalkoholtoets op hom gedoen is.

“My hart het elke keer omtrent uit my bors geklim. Ons probeer net ons werk doen, dan word ons afgemaak as kriminele,” sê hy.

“As ek so onrustig gevoel het, kan ek nie dink hoe my vrouekollegas moet voel wanneer hulle bekommerd is oor hul eie veiligheid en hul pasiënte sʼn nie.

“Een van die beamptes het nogal vir my gesê ek het seker baie geld as ek ʼn dokter is,” sê hy.

“Die ander een het boonop bygevoeg dat sy ‘fooi’ om my te laat gaan R3 000 is. Dit is hartseer dat nie eens ons land se noodpersoneel veilig is nie.”

Hy sê een van sy kollegas is ook al by verskeie geleenthede in Olympus, in die ooste van Pretoria, afgetrek.

“Sy vat nie nonsens nie en ruk sommer haar stetoskoop uit en baklei met hulle, want hulle vertraag haar reaksie op noodgevalle en dit kan noodlottige gevolge hê.”

Die dokters met wie Maroela Media gepraat het sê wel al die Tshwane-metropolisiebeamptes kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie, aangesien daar al gevalle was waar dié beamptes dokters op hoë spoed tot by hospitale vergesel het.

Die private speurder Mike Bolhuis sê verskeie nooddienspersoneel en restauranteienaars het die afgelope tyd op sy knoppie gedruk nadat hulle deurgeloop het.

“Aangesien hierdie mense veral in die vroegoggendure moet ry is dit uiters belangrik om waaksaam en voorbereid te wees,” sê hy.

  • Lees hier wat jy moet doen en wie jy moet bel sou korrupte TMPD-beamptes jou aftrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek kan nie glo dat hierdie seerowers in uniform nie gevang en vervolg kan word nie.

Vinny ·

Hulle eie skelm kaders sal die vervolging moet doen, daarom gebeur niks.

Herpiet ·

Hierdie word van bo af al hoe meer georkistreer. Glo dit of nie

Elize ·

Hulle word net al hoe dikker van die afpersgeld. Is daar niemand maar niemand wat hierdie gemors kan verwyder nie?

Hoekom ·

Vat hulle name, hou hulle verantwoordelik.
R3000 fooi bwhahaha, blykbaar is ek in verkere beroep…

Fran ·

Die meeste van hulle is swart, vet vroue wat nie weet wat hulle doen nie.

Heinrich ·

As almal dit weet; waar is enige van die opsisiepartye om op te volg? Of is hulle te besig om stemplakkate op te sit?

Smirre ·

Ek ry glad nie meer sonder ‘n “dash-Cam” in enige van my voertuie nie. plus ek gebruik cloud storage via my foon vir die beeld materiaal, om sy geheu kaart uit te haal gaan hulle nie help nie. Dit is ‘n noodsaaklikheid vir my, nie ‘n net lekker om te hê nie. Tyd daar lokvalle vir die boewe gestel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.