Drawwer uit Hennopsrivier gered

Die man is Dinsdagoggend gered. (Foto: Verskaf)

ʼn Man is Dinsdagoggend vroeg uit die Hennopsrivier gered nadat ʼn drafsessie skeefgeloop het.

Paramedici van Emer-G-Med en ander nooddienste is om 07:00 na die betrokke rivier in die omgewing van Centurion ontbied.

Volgens paramedici is ʼn man vroeër die oggend as vermis aangemeld nadat hy vir sy daaglikse drafsessie gegaan het, maar nooit terug huis toe gekeer het nie.

“Die man is in die rivier gewaar en ʼn reddingsoperasie is van stapel gestuur,” sê Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med.

“Die man is veilig uit die rivier gered en deur paramedici behandel.”

Nadat die drawwer op die toneel gestabiliseer is, is hy na ʼn naburige hospitaal vir behandeling geneem.

Volgens Van Reenen is dit onduidelik wat daartoe gelei het dat die man in die rivier beland het. Die rivier oorstroom egter gereeld sy walle, wat meebring dat verskeie paaie in die gebied verspoel.

Die Tshwane-metro het onlangs ʼn video op sosiale media gedeel oor hoe die Hennopsrivier sterk oor ʼn pad vloei en groot hoeveelhede vullis meesleur.

Dele van Gauteng het die afgelope week gebuk gegaan onder erge reënval, wat oorstromings in woonbuurte tot gevolg gehad het.

Die oorstromings was so erg dat ʼn polisieman die afgelope naweek in sy private voertuig meegesleur is. Sy liggaam is eers Sondag teruggevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Judy ·

Besef mense nie huidiglik is reen en riviere gevaarlik nie – bly weg

Rocco ·

‘Something fishy happened’. Hoe eindig ‘n drawwer op in ‘n rivier? Aikôna

Christine ·

Ai tog, die rivier het sekerlik skielik afgekom en die man onkant betrap en kon hy nie swem nie.

Althes ·

Genade maar die rivier is morsig van al die vullis. Sterkte aan die geliefdes van die drawwer.

Kensy ·

Ek hoop die drawwer herstel spoedig.
Dis tyd dat Zibbi die volstruis weer opvoeding doen oor rommel strooiing!!!
Die wereld was so benoud oor n virus wat ontsigbaar is, terwyl daar allerlei kieme en viruse geherberg word in rommel hope/spruite en verstopte dreine regoor die land… en tog doen die regering niks om dit te verbeter nie.

Johan ·

Plastiekbesoedeling is baie erg…erger as die aardverwarming wat die media vir ons probeer voer.

Pietertjie ·

Dit lyk eerder of die drawwer uit ‘n riool-gat gered is. SIES!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.