Dricus wil Adesanya op tuisbodem pak

Dricus du Plessis en Stan Mars van Good Hope FM. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se eie UFC-kampioen Dricus “Stillknocks” du Plessis sal graag Israel Adesanya volgende in die hok wil pak. Maar hy wil dit op tuisbodem doen.

Die 30-jarige Pretorianer glo die tyd het aangebreek vir UFC om na Suid-Afrika te kom.

“Indien dit nie nou is nie, wanneer dan?” het hy Vrydag in die verbygaan aan die radiopersoonlikheid Stan Mars van Good Hope FM gevra.

Du Plessis is tans op sy titeltoer in Kaapstad en kan nie uitgepraat raak oor die ondersteuning wat hy van oral in Suid-Afrika ontvang nie.

“Suid-Afrika, hulle weet nie wat ons weet nie … [Suid-Afrika] is die ongelooflikste land in die wêreld. Van kultuur tot sport … ons hoef nie te gaan nie. Ons hoef nêrens heen te gaan nie. Ons kan dit net hier doen. Van ons tuisbodem af.”

Du Plessis is vanmiddag tot 17:30 by die V&A-waterfront in die Moederstad as deel van sy titeltoer voordat hy Saterdagmiddag ʼn draai in die Jakarandastad by Menlyn Maine sal maak.

Maroela Media het vroeër berig Du Plessis het ʼn week of twee gelede in die UFC-hok amok gemaak toe hy die VSA se Sean Strickland in die middelgewig-titelgeveg in Toronto oorrompel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.