Drie keer lewenslank vir moord op Michaela Williams

Michaela Williams (12) (Foto: SAPS)

Die man wat skuldig bevind is aan die moord op die 12-jarige Michaela Williams in Januarie verlede jaar, is Maandag drie lewenslange vonnisse én ʼn verdere sewe jaar tronkstraf in die hooggeregshof in Kaapstad opgelê.

Steven Fortune het in Desember verlede jaar skuldig gepleit op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van verkragting en ʼn aanklag van ontvoering.

Maroela Media het vroeër berig Michaela, van Pelican Park, is op 7 Januarie verlede jaar as vermis aangemeld. Sy het die betrokke aand net ná 19:30 verdwyn toe sy ná aandete buite gaan speel het.

Fortune het haar na ʼn leë erf, nie ver van haar ouerhuis af nie, gelok.

Volgens ʼn opsomming van feite wat aan die hof voorgelê is, het Fortune vir Michaela gewurg. Sy het probeer terugbaklei en het in die proses sy bril afgeslaan. Daarna het Fortune die frokkie wat Michaela aangehad het van haar lyf geskeur en die materiaal gebruik om haar hande agter haar rug vas te maak.

Sy is daarna verkrag.

Toe sy om hulp probeer skree, het Fortune haar romp gebruik om haar te wurg in ʼn poging om haar stil te hou.

Die staat het aangevoer Fortune het twee betonblokke op die jong meisie se kop gegooi en haar liggaam daarna met ʼn kombers bedek voordat hy gevlug het.

Die polisie het hom ʼn dag ná Michaela se verdwyning ingeneem vir ondervraging.

Fortune het op daardie dag ʼn boodskap aan ʼn familielid gestuur, wat weer aan die polisie gesê het waar Fortune hom bevind. Hy was ʼn kennis van Michaela se familie.

Ná sy inhegtenisneming het Fortune ʼn verklaring afgelê waarin hy aangedui het waar Michaela se liggaam is.

Volgens die nadoodse ondersoek is die oorsaak van Michaela se dood ʼn kombinasie van verwurging en ʼn hou teen die kop.

Die staat het voorts aangevoer Fortune het vooraf beplan om Michaela te verkrag en te vermoor. Hy is ook al voorheen beskuldig van poging tot moord en die verkragting van ʼn minderjarige.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê Fortune is twee keer lewenslange tronkstraf vir verkragting en een keer lewenslange tronkstraf vir moord opgelê. Hy is tot ʼn verdere sewe jaar tronkstraf vir ontvoering gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die hof het beveel dat Fortune se naam in die nasionale register van seksoortreders ingesluit word.

“Dié doeltreffende vervolging en swaar vonnis spruit uit die noukeurige ondersoekwerk van die aanklaer, adv. Nadia Ajam.”

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ovelia ·

Bring die doodstraf terug. Sulke mense hoort nie in die samelewing nie

Sarel ·

Daar bestasn nie iets soos drie Lewenslange vonnis in SA nie want tyd word gelyklopend uitgedien.. indien hy sy volle vonnis uitdien beteken dit 82 jr.ongeveer.. sal nue gebeur nie

Willempie ·

Stem saam met Sarel. As jy vir meer as een daad gestraf word moet jy mos elkeen se vonnis afsonderlik uitdien m.a.w. AANEENLOPEND. Stem nie saam met hierdie vonnisopleggings nie. En bring eerder die doodstraf terug.

Misky ·

So hy is ‘n gewoonte misdadiger en hoe was hy uit op vrye voet ten tyde van diè moord en verkragting? Bloed op regering se hande en as ek haar ouers was, het ek die wit waks uit regering gedagvaar

Alet ·

So asof dit nou sal help om ‘n naam op ‘n register te sit. Sulke mense moet permanent uit die samelewing verwyder word.

Willem ·

Wat verdomp help dit as die vonnisse samelopend uitgedien kan word?

Hennie ·

Ek verstaan nie hoekom sy naam op ‘n seksoortreders lys moet kom as hy 3 keer lewenslank gevonnis is nie. Beplan hulle dalk om hom weer vry te laat?

Rosie ·

Vandag se lewenslank kom hulle redelik vinnig uit. Soos ek lewenslank verstaan is dit die res van jou lewe maar blykbaar verstaan ek die benaming verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.